Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

3/31/2015

Die skandelikste hoofsaak van alle tye. (Deel 3)




Joodse wette in die eerste eeu

Die Joodse mondelinge tradisie, wat in die vroeë eeue HJ op skrif gestel is, maar wat blykbaar baie ouer is, het die volgende reëls ingesluit:
▪ In sake waarin die doodstraf opgelê kon word, is argumente vir onskuldigbevinding eerste aangehoor
▪ Die regters moes alles in hulle vermoë doen om die beskuldigde te red
▪ Regters kon argumente vir die beskuldigde aanvoer, maar nie teen hom nie

▪ Getuies is gewaarsku oor die erns van hulle rol
▪ Getuies is afsonderlik ondervra, nie in die teenwoordigheid van enige ander getuie nie
▪ Getuienis moes in alle belangrike besonderhede ooreenstem—datum, plek, tyd van die dag waarop die daad gepleeg is, ensovoorts
▪ Aanklagte van ’n halsmisdaad moes in die dag verhoor word, en die saak moes in die dag afgesluit word
▪ Sake waarin die doodstraf opgelê kon word, kon nie op die vooraand van ’n Sabbat of ’n fees verhoor word nie
▪ Sake waarin die doodstraf opgelê kon word, kon op dieselfde dag begin en eindig as die uitspraak ten gunste van die beskuldigde was; as dit nie in sy guns was nie, kon die saak eers die volgende dag afgehandel word, wanneer die uitspraak gelewer en die vonnis voltrek is
▪ Sake waarin die doodstraf opgelê kon word, is deur ten minste 23 regters verhoor
▪ Regters het om die beurt, vanaf die jongste, gestem om die beskuldigde vry te spreek of te veroordeel; sekretarisse het die woorde opgeteken van dié wat hom wou vryspreek en dié wat hom wou veroordeel
▪ Die beskuldigde kon vrygespreek word deur ’n meerderheid van een, maar kon slegs skuldig bevind word deur ’n meerderheid van twee; as daar ’n meerderheid van net een ten gunste van skuldigbevinding was, is twee regters so dikwels as wat nodig was, bygevoeg totdat hulle tot ’n geldige besluit gekom het
▪ ’n Skuldigbevinding sonder dat ten minste een regter vir die beskuldigde gepleit het, was ongeldig; ’n eenparige skuldigbevinding is as “’n aanduiding van ’n sameswering” beskou

 Ongerymhede in Jesus se verhoor


▪ Die hof het geen argumente of getuies ten gunste van onskuldigbevinding aangehoor nie
▪ Nie een van die regters het Jesus probeer verdedig nie; hulle was sy vyande
▪ Die priesters het valse getuies gesoek sodat hulle Jesus ter dood kon veroordeel
▪ Die saak is in die nag agter geslote deure verhoor
▪ Die verhoor het op dieselfde dag, die vooraand van ’n fees, begin en geëindig
▪ Daar was geen aanklag voor Jesus se inhegtenisneming nie
▪ Jesus se aanspraak dat hy die Messias is, wat na bewering “godslastering” was, is nie ondersoek nie
▪ Die aanklag is verander toe die saak voor Pilatus gebring is
▪ Die beskuldigings was vals
▪ Pilatus het Jesus onskuldig bevind, maar het hom nogtans laat teregstel

Getuies aanspreeklik vir lewe


  In sake waarin die doodstraf opgelê kon word, het Joodse howe hierdie waarskuwing oor die waarde van lewe aan getuies gegee voordat hulle getuienis gelewer het:

“Julle is moontlik van plan om getuienis te lewer op grond van veronderstelling, hoorsê of van wat een getuie vir ’n ander gesê het; of julle dink dalk: ‘Ons het dit by ’n betroubare persoon gehoor.’ Of julle is onbewus daarvan dat ons julle eindelik op die proef sal stel met gepaste toetse van ondervraging en ondersoek. Julle moet daarvan bewus wees dat die wette met betrekking tot eiendomsake verskil van dié met betrekking tot sake wat die doodstraf tot gevolg kan hê. In die verhoor van ’n eiendomsaak betaal die persoon geld en vergoed hy so vir sy oortreding. In sake wat die doodstraf tot gevolg kan hê, word [die beskuldigde wat verkeerdelik skuldig bevind is, se] bloed en die bloed van al sy potensiële nakomelinge tot in ewigheid gehou teen hom [wat vals getuig].”—Babiloniese Talmoed, Sanhedrin, 37a. 
As die aangeklaagde skuldig bevind is, moes die getuies aan die teregstelling deelneem.—Levitikus 24:14; Deuteronomium 17:6, 7.


- Die skandelikste hofsaak van alle tye - Wagtoring Biblioteek 


1 comment:

Henrietta said...

Ja voorwaar, die skandelikste hofsaak van alle tye! Dankie Liza, dis kosbaar.