Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

3/31/2015

Dis skandelikste hofsaak van alle tye (Deel 1)



Toe Jesus verhoor is, was Palestina onder Romeinse beheer. Die Romeine het die plaaslike Joodse hiërargie toegelaat om volgens hulle eie regstelsel die wet onder die Jode toe te pas, maar het hulle blykbaar nie die wetlike gesag gegee om misdadigers tereg te stel nie. Jesus is dus deur Joodse godsdiensvyande in hegtenis geneem, maar deur die Romeine tereggestel. Sy prediking het die godsdiensleiers van daardie tyd so sleg laat lyk dat hulle besluit het dat Jesus moet sterf. Maar hulle wou hê dat sy teregstelling wettig moes lyk. ’n Ontleding van hulle pogings om dit te bereik, het een regsprofessor beweeg om die hele saak te beskryf as “die skandelikste misdaad in die geskiedenis van die reg”.

Die een ongerymdheid ná die ander

Die Wet wat Moses aan Israel oorgedra het, is al “die indrukwekkendste en mees verligte regstelsel van alle tye” genoem. Teen Jesus se tyd het die wettiesgesinde rabbi’s egter ’n massa reëls by die Bybelse wette gevoeg, waarvan baie later in die Talmoed opgeteken is. In watter mate het Jesus se verhoor aan hierdie Bybelse en buite-Bybelse maatstawwe voldoen?
Is Jesus in hegtenis geneem weens die ooreenstemmende getuienis wat twee getuies oor ’n spesifieke misdaad voor ’n hof gelewer het? Die inhegtenisneming kon slegs wettig wees as dit so was. In eerste-eeuse Palestina het ’n Jood wat gedink het dat ’n wet oortree is, sy klag gedurende ’n gewone hofsitting by die hof ingedien. Howe kon nie klagte teen iemand lê nie, maar het bloot beskuldigings wat voor hulle gebring is, ondersoek. Die enigste aanklaers was die getuies van ’n beweerde misdaad. ’n Hofsaak het begin wanneer die verklaring van ten minste twee getuies in verband met dieselfde daad ooreengestem het. Hulle getuienis was die aanklag, wat tot die inhegtenisneming gelei het. Die getuienis van net een getuie is nie toegelaat nie (Deuteronomium 19:15). Maar in Jesus se geval het die Joodse owerheid bloot ’n “doeltreffende manier” gesoek waarop hulle van hom ontslae kon raak. Hy is in hegtenis geneem toe “’n goeie geleentheid” hom voorgedoen het—in die nag en “sonder dat daar ’n skare by” was.—Lukas 22:2, 5, 6, 53.
Toe Jesus in hegtenis geneem is, was daar geen aanklag teen hom nie. Die priesters en die Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad, het eers nadat hy in hegtenis geneem is, na getuies begin soek (Matteus 26:59). Hulle kon nie twee vind wie se getuienis ooreenstem nie. Maar die hof was nie veronderstel om na getuies te soek nie. En “om iemand te verhoor, veral op ’n aanklag wat die doodstraf tot gevolg kan hê, sonder om vooraf die misdaad waarvoor hy teregstaan, te spesifiseer, word heel tereg as ’n skokkende vergryp beskou”, sê die regsgeleerde en skrywer A. Taylor Innes.
Die skare wat Jesus in hegtenis geneem het, het hom na die huis van die voormalige hoëpriester Annas geneem, wat hom begin ondervra het (Lukas 22:54; Johannes 18:12, 13). Annas se optrede het die reël geskend dat aanklagte van ’n halsmisdaad bedags verhoor moes word, nie snags nie. Daarbenewens moes enige ondersoek na die feite tydens ’n openbare hofsitting plaasgevind het, nie agter geslote deure nie. Jesus het geweet dat Annas se ondervraging onwettig was en het gevra: “Waarom ondervra u my? Ondervra dié wat gehoor het wat ek vir hulle gesê het. Kyk! Hulle weet wat ek gesê het” (Johannes 18:21). Annas moes eintlik die getuies ondervra het, nie die beskuldigde nie. Jesus se kommentaar sou ’n eerlike regter dalk beweeg het om die regte prosedure te volg, maar Annas het nie in geregtigheid belanggestel nie.
Jesus is vir sy antwoord met ’n klap deur ’n beampte beloon—nie die enigste mishandeling wat hy daardie aand verduur het nie (Lukas 22:63; Johannes 18:22). Die wet oor die vrystede, wat in die Bybelboek Numeri hoofstuk 35 opgeteken is, sê dat die beskuldigde teen mishandeling beskerm moet word totdat hy skuldig bevind is. Jesus moes hierdie beskerming ontvang het.
Jesus se gevangenemers het hom toe na die huis van die hoëpriester Kajafas gelei, waar die onwettige nagverhoor voortgeduur het (Lukas 22:54; Johannes 18:24). Daar het die priesters, met minagting vir alle beginsels van die reg, “valse getuienis teen Jesus gesoek om hom dood te maak”, maar hulle kon nie twee mense vind wie se getuienis oor wat Jesus gesê het, ooreengestem het nie (Matteus 26:59; Markus 14:56-59). Die hoëpriester het Jesus dus sover probeer kry om homself te inkrimineer. “Antwoord jy niks nie?” het hy gevra. “Wat getuig hulle teen jou?” (Markus 14:60). Hierdie taktiek was heeltemal onvanpas. “Om die vraag aan die beskuldigde te stel en ’n veroordeling op sy antwoord te grond, was [’n] skending van die formele reg”, sê Innes, wat vroeër aangehaal is.
Daardie groep het uiteindelik iets in Jesus se woorde gevind wat hulle teen hom kon gebruik. In antwoord op die vraag: “Is jy die Christus, die Seun van die Geseënde?” het Jesus gesê: “Ek is; en julle sal die Seun van die mens aan die regterhand van krag sien sit en met die wolke van die hemel sien kom.” Die priesters het dit as godslastering opgeneem en “het hom almal veroordeel dat hy die dood verdien”.—Markus 14:61-64.

No comments: