Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

3/31/2015

Die skandelikste hofsaak van alle tye. (Deel 2)



Volgens die Mosaïese Wet moes hofsake in die openbaar gehou word (Deuteronomium 16:18; Rut 4:1). Maar hierdie hofsaak het in die geheim plaasgevind. Niemand het probeer of is toegelaat om vir Jesus op te kom nie. Geen ondersoek is ingestel om te sien of daar enige waarheid steek in Jesus se aanspraak dat hy die Messias is nie. Jesus is nie die geleentheid gegee om getuies vir sy verdediging in te roep nie. Daar was geen ordelike stemming onder die regters oor sy skuld of onskuld nie.



Voor Pilatus


Omdat die Jode blykbaar nie die gesag gehad het om Jesus tereg te stel nie, het hulle hom na Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur, geneem. Pilatus se eerste vraag was: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?” Omdat die Jode geweet het dat hulle valse aanklag van godslastering vir Pilatus niks beteken nie, het hulle hom probeer kry om Jesus sonder ’n ondersoek te veroordeel. “As hierdie man nie ’n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u oorgelewer het nie”, het hulle gesê (Johannes 18:29, 30). Pilatus het hierdie argument verwerp, wat die Jode gedwing het om ’n nuwe beskuldiging te maak: “Ons het gevind dat hierdie man ons nasie ondermyn en die betaling van belasting aan die keiser verbied en sê dat hy self Christus, ’n koning, is” (Lukas 23:2). Die beskuldiging van godslastering is dus op onderduimse wyse verander na hoogverraad.

Die beskuldiging dat hy “die betaling van belasting . . . verbied”, was vals, en die beskuldigers het dit geweet. Jesus het presies die teenoorgestelde geleer (Matteus 22:15-22). Wat die beskuldiging betref dat Jesus homself ’n koning gemaak het, het Pilatus gou gesien dat die man wat voor hom staan, geen bedreiging vir Rome inhou nie. “Ek vind geen skuld in hom nie”, het hy gesê (Johannes 18:38). Pilatus het deur die hele verhoor nie van hierdie oortuiging afgesien nie.

Aanvanklik het Pilatus die gebruiklike vrylating van ’n gevangene tydens die Pasga probeer gebruik om Jesus vry te laat. Maar op die ou end het Pilatus Barabbas vrygelaat, wat skuldig was aan sedisie en moord.—Lukas 23:18, 19; Johannes 18:39, 40.

Die Romeinse goewerneur se volgende poging om Jesus vry te laat, was ’n kompromis. Hy het Jesus laat gesel, opdrag gegee dat hy in purper geklee en ’n doringkroon op sy kop gesit word en het hom daarna laat slaan en bespot. Hy het Jesus weer onskuldig verklaar. Dit was asof Pilatus gesê het: ‘Is dit nie vir julle genoeg nie?’ Moontlik het hy gehoop dat hulle, by die aanskouing van ’n man wat deur die Romeine gegesel is, hulle wraaklus sou laat vaar of vir hom jammer sou voel (Lukas 23:22). En tog het hulle nie.

“Pilatus [het] ’n manier bly soek om [Jesus] vry te laat. Maar die Jode het geskreeu en gesê: ‘As u hierdie man vrylaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself ’n koning maak, praat teen die keiser’” (Johannes 19:12). Die keiser wat destyds geheers het, was Tiberius, ’n keiser met die reputasie dat hy enigiemand wat hy as dislojaal beskou het, sou teregstel—selfs hooggeplaaste amptenare. Pilatus het reeds die Jode geïrriteer, en hy kon dus nie enige verdere wrywing bekostig nie, wat nog te sê ’n beskuldiging van dislojaliteit. Die skare se woorde was in werklikheid ’n verskuilde dreigement—afpersing—en dit het Pilatus bang gemaak. Hy het voor die druk geswig en het Jesus, ’n onskuldige man, aan die paal laat hang.—Johannes 19:16.

’n Hersiening van die bewyse


Baie regskommentators het al die Evangelieverslae van Jesus se verhoor ontleed. Hulle het tot die slotsom gekom dat dit ’n bespotting van die gereg was. “Dat so ’n verhoor tussen middernag en dagbreek begin en afgehandel en ’n formele uitspraak gelewer kon word, druis in teen die prosedures en reëls van die Hebreeuse reg sowel as teen die beginsels van geregtigheid”, skryf een regsgeleerde. ’n Professor in die regte sê: “Die hele saak was deurtrek van soveel growwe onwettighede en sulke blatante ongerymdhede dat die resultaat as niks minder as geregtelike moord beskou kan word nie.”

Jesus was onskuldig. Maar hy het geweet dat sy dood noodsaaklik is vir die redding van gehoorsame mense (Matteus 20:28). Hy het geregtigheid so liefgehad dat hy hom onderwerp het aan die skandelikste onreg van alle tye. Hy het dit vir sondaars soos ons gedoen. Ons mag dit nooit vergeet nie.

No comments: