Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/12/2014

BELHAR: Kerkleiers saai verwarring ...

Vandat die stem-proses vir die verandering van die Kerkorde van die NG Kerk om sogenaamd "ruimte te skep" vir mense wat Belhar as belydenis wil voeg by die Kerk se bestaande belydenisskrifte begin het, is daar verwarring op verwarring. Lees verder onder kommentare.

9 comments:

Henrietta said...

Nie net is daar verwarring onder lidmate EN ander kerkleiers soos "gewone dominees" en kerkraadslede nie, maar die indruk word geskep dat daar 'n klein groepie met baie invloed is wat TEN ALLE KOSTE Belhar ingesluit wil hê.

Henrietta said...

Hier is byvoorbeeld een van die nuutste briewe ( te lees op Netwerk24):

Kerkleiers saai verwarring
Maandag 10 November 2014 6:10 nm.
Prof. Nelus Niemandt se “versigtige optimisme” oor Belhar (06/11) is misplaas – nie omdat die ingewikkelde referendum wat tans in die NG Kerk aan die orde is dalk teen sy wens gaan afloop nie, maar omdat hy gaan verloor selfs as hy wen.

Die rede is dat sy oorwinning op verwarring en misleiding sal berus terwyl die een ding wat in die slag bly, die gereformeerde kerkbeskouing is wat bepaal dat elke gemeente in werklikheid kerk is en dat die Kerk van Christus één is, ongeag of dit in een struktuur georganiseer is.
Prof. Niemandt wek verwarring as hy sê “lidmate moet onthou dat die NG Kerk reeds die belydenis van Belhar aanvaar het”. Dit is duidelik daarop gemik om lidmate te laat instem tot die wysiging van Artikel 1, want gedane sake het tog nie keer nie.

Maar as dit so eenvoudig was, waarom die ingewikkelde proses? Feit is dat die Algemene Sinode, wat nie eens ’n sinode van gemeentes (sinodus plena) is nie, maar ’n sinode van sinodes (sinodus contracta), besluit het om die Belharbelydenis in ons belydenisgrondslag te integreer – juis by wyse van die proses wat tans gevolg word. Elke lidmaat se deelname is dus juis van die grootste belang – dit is nog geen gedane saak nie.

Voorts is dit misleidend om
te sê “lidmate is verdwaal tussen kerkeenheid en die kerkorde” en dat dit “nie die geval (is) dat die VGK ons dwing om dit te doen nie”. Wil prof. Niemandt beweer dat die VGK nie die NGK se aanvaarding van Belhar as voorwaarde vir strukturele eenheid gestel het nie? En dat dit die rede is waarom hy nou Artikel 1 gewysig wil sien, al het die versoek van NG lidmate self gekom? Om voor te gee dat die Belharbelydenis self, die insluiting daarvan in die kerkorde en die huidige pogings tot kerkeenheid nie ten diepste met mekaar verweef is nie, is eenvoudig nie waar nie.

Maar wat is dit wat prof. Niemandt “versigtig optimisties” stem? Die feit dat ’n sinode die nuwe belydenisgrondslag met 73% aanvaar het, terwyl net 46% van die sinode se konstituerende gemeentes dit aanvaar het?
Of dat dié 37 gemeentes nog altyd deur ander gemeentes in die res van die land tot onder ’n derdeminderheid gedruk kan word? Praat ons politiek of praat ons oor die kerk van Christus se heilige roeping om sy geloof te bely?

“Dit is interessant dat lidmate nie die teologiese integriteit van die (Belhar-) belydenis bevraagteken nie,” sê prof. Niemandt. Interessanter is egter dat hulle dit, ten spyte van die ywer waarmee teoloë dit aanbied, ook nie ywerig omhels nie. Dit is immers wat uit die Oostelike sinode en gemeentes se stemmings blyk.

Feit is dat daar ’n gaping tussen lidmate en hul teologiese leiers ingetree het en dat dit deur uitsprake soos prof. Niemandt s’n net vergroot word. Lidmate hoor ook gedurig dat die Belhar-dokument nie onbybels is nie – maar dit is die meeste van oom Solly Osrovech se skrywes ook nie en hulle word nie tot belydenisse verhef nie.

Baie lidmate vrees dat hul kerkleiers maar weer, soos met apartheid, die ideologie van die dag probeer bevorder. Hulle is lugtig om bloot op sterkte van kerkleiers se teologiese aanbeveling iets te onderskryf waarmee hulle, selfs net intuïtief, nie gemaklik is nie - Hulle is reg.

Carel Boshoff (ouderling)
NG gemeente Orania


Henrietta said...

Lees ook hier:

http://hierstaanek.com/2014/11/11/ds-theo-danzfuss-oor-nelus-niemand-se-regstelling-van-die-wanvoorstelling-in-die-pers-oor-belhar/

Kyk heel links is 'n hele aantal artikels om uit te kies.

Henrietta said...

Lees gerus hier rond om 'n nog duideliker prentjie te kry van wat werklik aangaan. Tik BELHAR in die soekhokkie om nog meer te lese te kry:

http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/103-belharbelydenis/907-kerkleiers-se-bokspringe-om-belhar-verkoop-te-kry.html

Henrietta said...

NOG BELHAR BRIEWE
Belhar: NGK moet goed besin oor opsie
Donderdag 06 November 2014 7:21 nm.
Gouer as verwag gaan daar stemme uit die geledere van die NG Kerk op om die opsie ten opsigte van die Belydenis van Belhar, waaroor tans in die Kerk gestem word, uit te brei na die ander belydenisskrifte van die Kerk. Dit was te wagte dat dit die een of ander tyd sou gebeur, want daar is diegene wat hulle nie deur ’n geloofsbelydenis wil laat bind in hul eie oortuigings nie.
Die Kerk moet ook besef dat as hy hierdie weg inslaan, wesentlike aspekte van die Christelike geloof in die gedrang gaan kom: ons geloof in God die Vader, die Almagtige Skepper van hemel en aarde; ons geloof in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here, wat van die Heilige Gees ontvang is en uit die maagd Maria gebore is, wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is en gesterf het, ter helle neergedaal het en op die derde dag uit die dood opgestaan het en opgevaar het na die hemel, waar Hy aan die regterhand van God die Vader sit, van waar Hy sal kom om te oordeel oor die wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; ons geloof in die Heilige Gees, ons geloof aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en ’n ewige lewe.
Dit was nie wys van die NG Kerk om ’n opsionele pad vir die Belydenis van Belhar aan die lidmate voor stel nie. Dit is oneerbiedig teenoor die Verenigende Gereformeerde Kerk, en dit kan die bestaan van die NG Kerk self as ’n belydenis- en belydende kerk uiteindelik in die gedrang bring.
Pieter Coertzen
Stellenbosch

Henrietta said...

Repliek: Hoe NGK Belhar hanteer, is ’n struikelblok vir eenheid
Deur Murray Coetzee Sondag 09 November 2014 4:00 vm.
Die Belydenis van Belhar is reeds in 1986 deur die destydse NG Sendingkerk as volwaardige belydenisskrif van dié kerk aanvaar.
Hierdie kerk het, in ooreenstemming met die oproep tot kerkeenheid soos verwoord in die Belydenis van Belhar, daarna eenheid gesoek binne die NG Kerkfamilie. Dit het uiteindelik gelei tot die stigting van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in 1994 toe die NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk verenig het.
Intussen is daar ernstig aandag gegee aan die oproep tot kerkeenheid tussen die NG Kerk en die VGK deur ’n proses van verskeie onderhandelinge en ander forums. Hierdie opdrag het egter telkens skipbreuk gelei as gevolg van verskeie verskille tussen die twee. Een hiervan hou verband met die aanvaarding al dan nie van die Belydenis van Belhar.
Dit spreek waarskynlik vanself dat daar in die toekomstige onderhandelinge vir kerkeenheid weer aandag gegee sal word aan die Belydenis van Belhar as ’n volwaardige belydenis van die herenigde kerk.
“Volwaardig” beteken egter nie die minderwaardige hantering van die Belydenis van Belhar soos in vooruitsig gestel word deur die voorgestelde wysiging van die kerkorde waaroor gemeentes en lidmate tans moet stem nie.
Die werkswyse wat die kerk tans volg is (na my mening) kortsigtig en lê nuwe struikelblokke in die weg van onderhandelinge om kerkeenheid.
Ek en ander lidmate word nou gedwing om vir of teen die aanvaarding van Artikel 1 te stem. Sou ek “nee” stem, omdat ek nie saamstem met die voorgestelde artikel nie, word my stem getel onder die lidmate wat ’n probleem het met die aanvaarding van Belhar as ʼn volwaardige (ongekwalifiseerde) belydenis van die kerk. Sou ek “ja” stem, vereenselwig ek my met die voorgestelde minderwaardige hantering van die belydenis in die voorgestelde artikel.
In hierdie voorgestelde artikel is dit immers duidelik dat die Belydenis van Belhar, in vergeleke met die Drie Formuliere van Eenheid, op ’n minderwaardige manier gehanteer word.
So ’n hantering van die Belydenis van Belhar strook nie met die ophef wat van sinodale besluite oor hierdie belydenis gemaak word nie, soos in Kerkbode van 1 Augustus 2014. Die integriteit van die kerk word immers nie net bepaal deur wat in mooiklinkende artikels en besluite gesê word nie, maar veral deur die wyse waarop die kerk prinsipiële besluite neem en tot uitvoer bring.
In die lig hiervan het ek ’n paar vrae:
■ Waarom word die Belydenis van Belhar in die voorgestelde wysigings as ’n “minder in waarde-belydenis” van die NG Kerk behandel – iets wat na my mening probleme skep vir toekomstige onderhandelinge om kerkeenheid?
■ Waarom word lidmate in so ’n onhoudbare posisie geplaas om “ja” of “nee” te stem? Na my mening is dit ’n poging van die sinode om op ’n strategiese manier ’n pragmatiese antwoord te gee, omdat daar weggestuur word van ’n prinsipiële besluit vir of teen die aanvaarding van Belhar.
Die erns waarmee ek hierdie saak be¬jeën hou verband met die feit dat dit twee wesenlike sake van die NG Kerk is wat hier ter sprake kom, naamlik die belydenisse van die kerk, asook die skriftuurlike oproep tot kerkeenheid.
■ Dr. Murray Coetzee is argivaris van die Beyers Naudé-versameling aan die Universiteit Stellenbosch.
Hierdie is ’n verkorte en geredigeerde weergawe van ’n brief wat Coetzee aan die kerkraad van die NG gemeente ¬Bellville-Wes gerig het.


Danie Loots said...

Sjoe, julle, dit klink nie lekker nie.

Ek dink aan julle.

Jaco Steyn said...

In my nuutste artikel (http://jacosteynblog.wordpress.com/2014/11/19/afrikaanse-kerkleiers-se-versuim-om-hul-lidmate-behoorlik-in-te-lig) fokus ek op die dekadelange invloed wat veral Afrikaanse predikante en kerkleiers op die denke van Afrikaansprekende Christene gehad het. Hul versuim om hul lidmate behoorlik in te lig aangaande (1) die hoogs waarskynlike toekomstige gevare wat die gebruikmaking van “goedkoop” nie-blanke arbeid vir hulle nageslag sou inhou; (2) geldige redes waarom Apartheid immoreel of “onbybels” was en (3) die oorweldigende nadelige invloede van multinasionale maatskappye, het indirek gelei tot die hedendaagse verdeeldheid onder Afrikaanse mense en hul onwilligheid om hul kultuur en tradisies te beskerm en doeltreffend weerstand te bied teen die toenemende verval, geweldsmisdade en korrupsie.

Ek verwys as volg na die Belydenis van Belhar in my artikel: “Sommige ‘polities-linksgesinde’ kerkleiers en teoloë het besef dat Groot Apartheid (die volledige geografiese skeiding tussen bevolkingsgroepe) nié teenstrydig is met enige van die drie ekumeniese of ‘Drie Formuliere van Eenheid’ geloofsbelydenisse van die driesuster kerke nie. Daarom is besluit om ‘n bykomende geloofsbelydenis, nl. die Belydenis van Belhar, op te stel. Die Belydenis van Belhar het veral betrekking op die verhoudings tussen bevolkingsgroepe en daarom verpolitiseer dit op ‘n manier die ‘evangeliese boodskap’ van Protestantisme. Hedendaagse pogings om hierdie belydenis meer aanvaarbaar te maak binne die tradisioneel ‘blanke’ NG Kerk, kan heel waarskynlik lei tot ‘n verdere uittog en vervreemding van baie blanke lidmate.”

Henrietta said...

Dankie vir jou goeie wense Danie, ons het dit nodig! Jaco, ek stem saam met jou laaste sin: dat daar waarskynlik 'n uittog en vervreemding GAAN wees.