Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

3/09/2014

Rwanda - storie van hoop, getrouheid en genade!



‘n Brief van Dave Pepler aan 'Amore van Tjailatyd' op RSG

Liewe Amore, liewe luisteraars,

Na al die jare ken julle my mos as een van die aarde se mees deurweekte bitterbekke, en ook as uitgesproke sinikus. Ek beskou meeste mense reddeloos verlore, oninteressant en gewetenloos, en dit geld veral vir die inwoners van onse kontinent.

 Bykans elke stad in Afrika is 'n nagmerrie van besoedeling, onvoltooide projekte, opdrifsels van vuilgoed en lugbesoedeling. Chaotiese verkeer, onpadwaardige voertuie en varkagtige gedrag van bestuurders bevestig elke keer dat hier geen beplanning is nie, dat elke mens eenvoudig net vir homself sorg, en dat omgee vir jou medemens nie meer bestaan nie.

En toe, 'n paar dae gelede, land ek vir die eerste keer in my lewe met 'n groepie eko-toeriste van Live the Journey in Kigali, die hoofstad van Rwanda. Toe ons die lughawe uitry, het dit dadelik doodstil in ons bus geword, en almal het sprakeloos na buite gestaar en eers minute later tot hul sinne gekom. Dis nou drie dae later, en steeds kan my gaste nie uitgepraat raak nie - in die stede, langs die nasionale paaie is daar nie 'n stukkie papier of rommel te bespeur nie. Net waar jy kyk is daar groot plakkate wat uitroep Keep our Country Clean!
Regdeur die land tel mense rommel op, vee stof en blare op hopies, en sny heinings netjies. Maar dit hou nie by netheid op nie Amore, dis net die begin van een van die mees verassende en verfrissende sosiale revolusies wat ek al ooit gesien het. Mens kan jou beswaarlik indink dat so onlangs soos 1994, Rwanda betrokke was in een van die mees skrikwekkende volksmoorde in die geskiedenis van die mensdom, Die slagting was op 'n byna ondenkbare skaal en het mens laat dink aan die gruwels van die middeleeue. Uit die puin van vernietiging en ondenkbare leiding het die leiers van die land besluit om die herstel tot vrede en voortvarendheid opnuut aan te pak. Die eerste teiken was korrupsie, en binne twee jaar het hulle dit wortel en tak uitgeroei deur eenvoudig lokvalle vir korrupte amptenary te stel en hul brutaal uit die sisteem te boender. Die boodskap was klokhelder - indien ons land wil groei met vertroue, moet ons saamstaan teen misbruik en diefstal.

Alle motorfietsbestuurders wat 'n taxidiens bedryf dra 'n veiligheidshelm met 'n spaarhelm vir die passasier - by taxi-staanplekke staan almal netjies in 'n ry en wag hul beurt geduldig af. Ek is stomgeslaan oor die orde in hierdie land. Sodra jy die stad verlaat sien jy verder tekens van innovernde denke om landbouproduksie op te stoot, mense te laat saamwerk in kooperasies en om die produkte teen regverdige pryse te bemark. Nuwe damme word gebou vir visplase met hoender- en haashokke bo die water. Die mis val in die water, die water word verryk en so word die visse vinniger groter as gevolg van die alge wat in die vrugbare water groei. Daar is byeplase, landerye vol piritieen vir die produksie van organiese en eko-vriendelike insekdoder, en mielielande wat die Vrystaat sal laat bloos. Hiermee wil ek net dit sê Amore - waardaar 'n gesonde politieke wil is, is daar 'n menslike en beskaafde weg.
Dit maak my triestig om te sien dat die politieke bestel in Suid Afrika uitsluitlik gefokus is op selfverryking terwyl ons hierdie lieflike voorbeeld aan eie deur het. Ek voorspel dat die geskiedenis ons gaan verdoem en Rwanda gaan verheerlik. Laat die wat oë het om te sien en ore het om te hoor, nou kennis neem van die suksesse van Rwanda.

Met groetnis
Dave
--------------------------------
"According to the World Bank’s Doing Business 2013 report, Rwanda ranks 52 out of 185 on “ease of doing business” and 8 on “ease in starting a business.” It is the second most improved nation globally and the top improved in sub-Saharan Africa since 2005. Through safety and security, zero-tolerance for corruption, and a stated goal to eliminate foreign aid (currently about 40 percent of its budget), Rwanda has put itself on a trajectory toward greater self-sufficiency; the evidence is in the numbers—projected 7.8% GDP growth in 2013, making it the ninth fastest growing economy in the world."
-By Patricia Crisafulli and Andrea Redmon (-Rwanda: A Stunning Turnaround On A Continent Marked By Broken Promises)
March 9, 2014 at 9:58 AM
-------------------------
Delete
‘n Inspirerende verhaal van hoop, getrouheid en genade:
Rwanda het die afgelope jare bekend gestaan as een van die mees Christelike lande in Afrika, met 80 persent van die bevolking wat tot 'n kerk behoort. ''Kon al die baie Christene nie die bloedvergieting keer nie?'' was my vraag. ''Dis tot ons ewige skande dat dit nie gebeur het nie,'' was biskop Jonathan se antwoord. ''Dikwels was dit juis Christene sogenaamde Christene wat die moordwapens gedra het. Ons moes op 'n harde manier leer wie werklik kinders van die Here was, en wie nie. ''Maar daar was ook wonderlike voorbeelde van Christene aan weerskante, Hutus én Tutsis, wat onder die gevaarlikste omstandighede vir mekaar gesorg het. Baie het duur betaal vir hul getuienis. Talle predikante, priesters en nonne, onder an dere drie senior biskoppe van die Katolieke Kerk, het hul lewe verloor.'' Vreemde verhale uit dié tyd word vertel. 'n Vriend van biskop Johan Gakwandi is uit sy huis gesleep óók omdat hy vlugtelinge gehuisves het. Net toe die Hutusoldaat John en sy familie wou doodskiet, het hy onverwags uitgeroep. ''Ek ken jou. Jy is die man wat my jare gelede in die hospitaal versorg het. Gaan maar terug in die huis. Niemand sal julle kwaad aandoen nie.'' Drie maande lank het die Hutu sy hand oor John se gesin gehou, selfs kos vir die Tutu vlugtelinge aangedra. My gespreksgenoot, wat ons land al besoek het, het 'n spesiale boodskap gehad. ''Sê vir die mense in SuidAfrika dat hulle die Here moet dank vir sy genade. Wat by ons gebeur het, kon net sowel julle lot gewees het. Maar die vrede wat daar in SuidAfrika gekom het, het vir ons almal hoop gegee. Ons geloof is die afgelope tyd duur getoets. God is egter getrou. Hy het ons nooit in die steek gelaat nie. Mag julle dit ook ervaar.''
Uittreksel: – Prof Piet Meiring / Beeld: Verhaal uit Rwanda 'Ons geloof is duur getoets; God is egter getrou'

Die verhale van Rwanda ná 1994 laat my dink aan iets wat Anton Rupert by geleentheid gesê het -<i>hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie 'n realis nie.</i>

3 comments:

Henrietta said...
This comment has been removed by the author.
Henrietta said...

Baie bemoedigende verhaal, dankie Liza. Ja, waar daar 'n wil is, is daar 'n weg, is iets wat ek graag sê en in glo. Mens moet dus aflei die ineenstorting van soveel dinge hier in Suid-Afrika is ten dele te wyte aan die feit dat daar NIE 'n wil is nie. 'n Klein voorbeeld wat aan eie bas gevoel is: oorlopende dreine. Ter agtergrond: ons bly al 20 jaar in dieselfde huis. In hierdie tyd het ons al geweldige reen buie vir lang tye gehad, maar NOOIT enige rioolprobleme van munisipale kant af nie.

Tussen Kersfees en Nuwe Jaar het dit fluks gereën hier by ons, en daar gebeur iets wat die laaste 3-4 jaar by herhaling gebeur: die laagliggende erwe in die dorp word oorstroom met riool-vuil. Toe die foon uiteindelik geantwoord word na vele probeerslae, is die eerste antwoord: "The technician is on holiday." By die tweede vraag of die tenker wat vir "French drains" gebruik word ( en wat in die verlede al suksesvol gebruik is) nie kan uitkom nie, is die antwoord "It is out of order". Ons het seker 5-6 munisipaliteite wat in 'n 100km radius van ons lê - wat sal 'n enkele oproep kos om te vra om hulle tenkers te leen? Mens sien meer en meer soos na die onlangse vloede hier in Limpopo dat mense self uitspring en iets doen, want daar is nêrens 'n WIL van regeringskant nie.

Henrietta said...

Hier is 'n stuk oor Dave Pepler:

http://www.rapport.co.za/Rubrieke/HanlieRetief/Hanlie-Retief-gesels-met-Dave-Pepler-20091121