Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/19/2013

Woorde



Woorde kan mense opbou of afbreek, afhangende van hoe jy daarmee omgaan …
Mat 15:11 sê “Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein…”
En so is dit met woorde … agter elke skrywe heers daar ‘n gees: ‘n duidelike toets van karakter of gesindheid of ideologie.

Let op jou gedagtes, want dit word woorde.
Let op jou woorde, want dit word dade.
Let op jou dade, want dit word gewoontes.
Let op jou gewoontes, want dit word jou karakter.
Let op jou karakter, want dit bepaal jou eindbestemming.
-skrywer onbekend


5 comments:

Henrietta said...

Baie waar Liza! Mens is so ongeërg oor wat mens sê.

Iewers het ek hierdie gekry en vir myself oorgetik dat ek dit gereeld kan lees en oordink:

WOORDE WAT GENEES

Here, bewaak tog my mond,
Sif die dinge wat ek sê –
Want ek wil my lewe vir U gee
En vir iemand vandag tot seën wees
As ek ligsinnig is
Of saam met ander skinder
Dan wys dit dat daar diep in my
‘n Onvriendelike lelike mens bly.
My lippe is vandag in staat
Om iemand te genees of breek - -
Laat die woorde wat ek sê Heer,
Vir ander tot seën wees ,
En vir U ‘n bron van vreugde
(SKRYWER ONBEKEND)

Henrietta said...

Jakobus hoofstuk 3 in DIE BOODSKAP:

SIT ’N WAG VOOR JOU MOND
1My vriende, daar moenie te veel van julle wees wat die ander in die gemeente wil leer nie. Dit is ’n verantwoordelike werk.God stel strenger eise aan sulke mense. Wanneer Hy ons finaal oordeel, sal Hy dié wat ander geleer het volgens daardie strenger eise beoordeel.

2Ons almal maak foute en sê verkeerde dinge. As iemand nooit ’n skewe woord sê nie, is hy volmaak. Hy sal geen probleem hê om ook in ander dinge wat hy doen, reg op te tree nie.

3Dit werk soos die stuurwiel waarmee ek ’n hele kar beheer. As ek die stuurwiel draai, draai die hele kar.

4Of kom ons neem ’n skip as voorbeeld. ’n Skip is massief, maar die roer waarmee die kaptein die hele skip stuur, is baie klein.

5Net so is die tong maar baie klein in vergelyking met die res van die liggaam. As ’n mens egter begin praat, kom jy agter wat daar regtig in die tong steek. Die tong is soos ’n klein vuurhoutjie wat ’n groot bos aan die brand kan steek. As jy lelik praat, vloek, skinder of so iets, hoef jy niks anders te doen om te wys hoe sleg jy is nie. Deur net na die tong te luister sien ’n mens sommer hoe sleg die hele mens is. Dit beduiwel jou hele lewe en alles wat jy doen. Dit help nie eintlik eens om goeie dinge te probeer doen as jou tong lelike dinge sê nie.

6Jou tong is soos ’n vuur wat jou hele lewe laat uitbrand. En die ergste is dat dit die duiwel is wat die vuur in jou mond kom aansteek wat jou hele lewe kan vernietig.

7Die mens kan baie dinge regkry. Hy kan en het al allerhande diere mak gemaak, byvoorbeeld voëls of slange of selfs dolfyne of ander visse. Maar een ding kan hy nie regkry nie.

8Hy kan nie sy tong mak maak om net die regte dinge te sê en te keer voordat die lelike en verkeerde dinge uitglip nie. Dis of die tong altyd soek om iets verkeerds te sê. Dit is soos ’n slang met dodelike gif, reg om te pik.

9Hoe is dit moontlik dat ons met dieselfde tong baie mooi dinge van ons Here en Vader sê, maar omdraai en dan iemand so slegsê dat die see hom nie kan afwas nie? Is daardie persoon nie ook deur God gemaak nie? Moet ons hom nie ook met respek behandel nie?

10Dink net, uit dieselfde mond, met dieselfde tong, kom daar die een oomblik mooi woorde en die volgende oomblik ’n gevloek. My liewe vriende, dit behoort tog nie so te wees nie.

11Het jy al ’n kraan oopgedraai waar daar terselfdertyd vuil en skoon water uitloop?

12Vriende, het julle al na ’n perskeboom geloop om te gaan druiwe pluk, of na ’n vyeboom om perskes te soek? Net so min kan daar vuil en skoon water tegelyk uit ’n kraan loop. Dit geld vir die tong ook.

Liza-Nel said...

Ja mense en veral diegene in sleutelposisies moet maar versigtig wees wat hulle alles op sosiale netwerke kwytraak – dit kan jou dalk ’n reputasie besorg waarvan jy nie maklik gaan ontslae raak nie (Spreuke 20:11; Matteus 7:17).
Dit lyk ook vir my asof mense geneig is om hulle vermoë om te redeneer verloor wanneer hulle op ’n sosiale netwerk is. Dinge word gesê wat gewoonlik nie vir ‘n persoon van aangesig tot aangesig gesê sou word nie… soos die onlangse FB inskrywing van ‘n predikant wat die koerante gehaal het en gelei het tot ‘n verwoede woordeslagting van meer as 'n duisend inskrywings...

Miskien moet Spreuke 10:19. bo aan elke FB aangebring word: )
“In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie, maar wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op.”

Henrietta said...

Opduimpie vir jou laaste plasing Liza!

Danie Loots said...

Opduimpie vir Spreuke 10:19 van my kant ook.

As iemand wat self nog leer dat dit gewoonlik beter is om minder te sê as te veel, sien ek ook deesdae die waarde van eerder stilbly en baie mooi dink, voordat ek iets kwytraak. Immers is wat in my gedagtes aangaan net bekend tussen my en God, as ek dit gespreek het is dit uit en weet almal om my daarvan.

Ek vergelyk dit met 'n huis wat mens nie sommer wil laat oopstaan vir almal om te aanskou nie. My mond sien ek as só 'n venster of deur. Ek staan soms verbaas en toekyk hoe mense hulle deurmekaar binnestes vir almal om hulle uitstal (en dink met spyt na oor hoe ek dit al gedoen het in die verlede).