Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/14/2011

Christen of Christus-volgeling?

Iets interessants op TC Breytenbach se blog: Onder die opskrif ‘ Nuwe Spiritualiteit vervang Christendom’ begin hy deur die vraag te vra: Is daar 'n verskil tussen 'n Christen en 'n Christus-volgeling? "Ja", sê Tamara Hartzell in haar artikel, "Preparing for the Emerging One Church of the New World", "...daar is 'n hemelsbreë verskil tussen die Nuwe Spiritualiteit en die Christelike geloof waarbinne eersgenoemde tans besig is om laasgenoemde verdringend te vervang". Hartzell beweer dat wanneer die Nuwe Spiritualiteit finaal daarin geslaag het om alle Christene tot Christus-volgelinge te transformeer, die verskil so duidelik sal wees soos die verskil tussen dag en nag.

Die begrip Christus-volgeling is baie subtiel gekies om nie té verdag te lyk ter voorbereiding van die "Emerging One Church of the New World" nie. Vir dié kerk-in-wording is die begrip "Christen" té eng en eksklusief. Christus-volgeling is inklusief en akkommodeer volgelinge van (die) Christus uit alle ander godsdienste.

Christene baseer hul geloof op die Bybel, die regte dogmas, teologiebeoefening en 'n enkele waarheid soos vervat in God en Sy Woord. Christus-volgelinge behoort aan enige godsdiens of geloof, dogma en teologie is irrelevant, dade is veel belangriker as geloof, en waarheid is in alle godsdienste en gelowe te vind.

Eenheid, ten koste van alles, vorm toenemend die grondslag van die wêreld, en so ook van die Kerk. Die Christenbegrip word toenemend geassosieer met onverdraagsaamheid, verdeling, vooroordeel, veroordeling en wettisisme. Christene sê vir die wêreld daar is 'n enkele God en slegs één Weg na Hom toe. Die wêreld vind dit onaanvaarbaar.

Christus-volgeling word nou die aanvaarde benaming. In die nuwe wêreld sal dié "gelowige" nie-dogmaties, versoenend, akkommoderend, onbevooroordeeld en toegeeflik teenoor alle ander gelowe wees. 'n Gemeenskaplike god word aanbid waartoe enige "gelowige" sy eie weg tot dié god mag vind. Die Christelike geloof word een van vele gelowe, almal op gelyke voet. Teenoor hierdie Nuwe Spiritualiteit sal die wêreld verdraagsaam wees - die Christendom het misluk.

Hier is die skakel na TC se blog: http://waterswaarrusis.blogspot.com/2011/11/nuwe-spiritualiteit-vervang-christendom.html
En hier is die skakel na die artikel waarna hy verwys: http://www.crossroad.to/Excerpts/books/in-name-of-purpose/led-away/2-emerging-one-chuch.htm

2 comments:

Danie Loots said...

Interessant gekose naam. As "Christus-volgelinge" wél Christus se woorde geglo en bely het, was dit 'n ander saak, maar hierdie naam wat hulle gekies het klink vir my baie na 'n doelbewuste misleiding.

Ironies dink ek dat "Christen" deesdae 'n baie breë term geraak het. Selfs Richard Dawkins noem homself 'n "Cultural Christian". Daarom praat ek maar van Bybelgelowige Christene, ál noem die "Christus-volgelinge" ons seker "Fundamentalistiese Christene". (Dink ek nou skielik aan Attie wat so bang is vir Fundamentaliste.)

Ons wêreld hou maar van etikette, om ons self agter 'n etiket weg te steek en ook om ander mense 'n etiket toe te dig.

Liza said...

Ek kan dit op ‘n manier verstaan dat ‘n mens nie met almal wat hulself Christenne noem geassosieer wil wees nie. Maar die vraag is kan jy jouself enigsins van die liggaam van Christus, wat tog kerk/sondaars uitmaak, goedsmoeds afsny en se ek is beter as die ander en is daarom eerder ‘n volgeling van Christus as ‘n Christen?

Kan jy die hoof aanbid sonder om ook deel van die liggaam te wees? Is ek nie veronderstel om my broeder se hoeder te wees eerder as om weg te breek en my eie pad te loop nie?