Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/21/2011

Israel indrukke

Ons is pas terug van daar af. Hier is 'n paar indrukke wat my bybly. Die sg. heilige plekke is so hyper gekomersialiseerd dat mens gladnie die indruk van gewydheid kry nie. Die indruk wat jy wel kry is hoekom Christus die sweep ingelê het.

Wanneer 'n mens aan 'n stal dink, moet mens nie noodwendig aan 'n geboude struktuur dink nie. Bethlehem is kalksteen wêreld met baie grotte en dit was waarskynlik makliker om 'n grot van klippe en plant skoon te maak as om 'n struktuur te bou. Die skaapwagter het dan in die bek van die grot geslaap, wat natuurlik baie veiliger was vir die skape as 'n kraal, waar enigiemand of enigiets net oor die muur kan spring. Die gesamentlike liggaamshitte van die skape het dit in die winter ook meer gerieflik vir die wagter gemaak as 'n rokerige vuur wat aanhoudend gestook moes word. Jerusalem (die tempel) is nie so ver van die skaapwagtersvelde af nie. Skynbaar was dit ook die gebied waar die skape aangehou was wat as diereoffers na die tempel geneem moes word. (Dink aan die simboliek!)

Die Oospoort (waar Christus, volgens die Bybelse profesie Jerusalem sal binnegaan) is tans toegemessel (deur die Moslems) Maar daar is baie grafte van vroeë Christene wat op Sy koms wag. Die Moslems wat Hom verwerp het ook besluit om daar 'n begraafplaas aan te lê. 'n Begraafplaas is 'n onrein plek en hulle glo dat dit Christus sal keer. Daar is duisende grafte wat dateer uit die tyd toe hulle die land beset het. Maar Christus is juis die een wat mense uit die dood opwek. In hulle obsternaatgeit het hulle baie mense 'n guns gedoen (wel ek hoop so, want vir die wat nie reg is nie sal dit die grootste onguns wees!)

Die lot wat oor Christus se onderkleed gewerp was? Dit was nie net 'n kwessie van 'n dobbelsteentjie gooi nie - dit was 'n spel wat gespeel is - iets soos Ludo en die naam van die spel - die spel van konings - "The game of kings"

4 comments:

Liza said...

Hallo Yf, ja daai naatlose oftewel aanmekaargeweefde onderkleed was nie sommer so 'n kleed nie. Volgens die weef metodes van daardie tyd was dit 'n kunswerk wat slegs deur die hoëpriesters gedra was. In Jesus se geval het dit gedui op Sy amp as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek. Daarom dan ook Sy woorde toe Hy neerkyk op die dobbellende soldate "Vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie". En dan is dit natuurlik ook die vervulling waarvan daar in Psalm 22:19 gepraat word.

Maar vertel bietjie meer oor die 'koninklike dobbelspel'.

Henrietta said...

So bly julle is veilig terug, veral met die chaos wat daar tans is en dankie hiervoor - hoop dis net die begin van baie!
Ja, toe ons in 1995 daar was, was ek ook teleurgesteld in die oorkommersialisering. Toe het ek maar begin "kyk" - om te sien wat Jesus min of meer gesien het, want die gidse het ons almal vertel dat ons nie kan sê ons "loop waar Jesus geloop het" nie, omdat Jerusalem al soveel keer opgebou en platgevee, weer opgebou en platgevee, is.

Ek het geweldig waardering gekry vir die Isaeli's se hardwerkendheid (uit "boere-oog" gesien) - hoe hulle woestyn in lushof omskep.
EN hul toerisme inisiatiewe (toe was SA nog maar baie dom in dié opsig) - gedink ai, hul is so opgewonde oor 'n stukkie aarde so groot soos die Kruger Park en die grootste deel daarvan, meer bar as die Karoo . . .

Henrietta said...

Het ook by die toegemesselde Oospoort verby gery - prentjie in my geheue ingebrand! Ons was ook daar by die stukkie muur wat nog oor is (waar manne en vrouens soos skapies en bokkies geskei word ;)))) Iewers tussen die krake is 'n opgevoude papiertjie met my gebede ingedruk . . . van hulle nog nie beantwoord nie . . .

Yf said...

Waardevolle brokkie inligting oor Jesus de kleed Liza - danq daarvoor. Van die 'Koningspel'weet ek niks meer nie, behalwe dat daar twee plekke is waar mens kan sien dat dit in die plaveisel uitgekrap is.

Sekere dele van die stad is uitgegrawe tot op die vlak van Jeus se tyd en alhoewel mens nie jaar vir jaar kan aftel nie, is dit seker vir die Jode ook belangrik want dit is in daardie tyd dat die tempel verwoes is. Deesdae kan 'n mens al langs die westelike stutmuur van die platvorm waarop die 2de tempel gebou was, afstap, natuurli8k ondergronds. Orals is daar plaatjies teen die muur wat inligting gee soos dat jy nu die naaste is aan dit of dat van die tempel of wat op daai punt gekry is. Daar is 'n plek waar so 6 Jode in absolute stilte op hulle knieë was met gesigte teen die grond - seker die naaste aan die aller heiligste. Mens kan nie anders as om respek te hê vir die toewyding van die ortodokse Jode nie.

Die Jordaan rivier was vir my 'n teleurstelling - dis groen, nie van alge nie, maar van onsuiwerhede in die water.