Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

6/13/2011

Herlewing . . .

150 jaar gelede het God ’n groot deel van ons land besoek met herlewing. Die herlewing het uitgebreek in Worcester en versprei na ander dorpe in die Hexriviervallei. Hierdie gebeure staan ook bekend as die Andrew Murray herlewing. Gedurende hierdie herlewing het duisende mense na God teruggedraai. Honderde sendelinge is vanuit gemeentes die wêreld ingestuur en ’n nuwe passie vir gebed het in die kerk posgevat. Sending opleiding, gebedskole en ander opleiding het uit die herlewing ontstaan. Een van die wonderlike gevolge van hierdie herlewing is die Pinsterbidure wat vandag nog deel van die Kerk se erfenis is.

Hoe staan dit tans in Suid-Afrika t.o.v. herlewing?

4 comments:

Danie Loots said...

Ek is redelik seker dat daar 'n groot herlewing in Suid Afrika aan die gang is. Dit is 'n herlewing wat selfs kerke se aard verander, amper soos 'n reformasie.

Daar is egter ook, soos ons weet, baie mense wat nie meer glo nie, wat nie meer Bybelgelowiges is nie. Miskien was hulle 20 jaar terug ook in die kerk en samelewing, hulle het dit net toe nie so kon uitbasuin nie.

Maar tenspyte daarvan, van die aanslae van die Liberales, Skeptici, ens. is daar 'n erns en openlike vurigheid vir Jesus onder mans en vrouens, wat ek nie 10 en 20 jaar terug geken het nie.

Mighty Men is sekerlik 'n voorbeeld, maar meer opwindend is die vrug daarvan. Ooral oor die land is daar manne (en vroue) wat op gereelde basis bymekaar kom om te bid en mekaar te bemoedig, en ek praat nie van Sondae se eredienste nie. Ek praat van geleenthede oor Kerkgrense heen, en nie net op Sondae nie. By die werk, in die week, oggend voor werk, by die werk, na werk.

Netso sien ek herlewing onder mense van ander velkleure en kulture ook. Dit is so lekker om saam met Swart kollegas oor Jesus te kan gesels. Meer en meer sien ek Indiers wat ook Christene is, radikale Christene.

Henrietta said...

Dit lyk my Bennie Mostert stem saam met jou in sy nuutste boek: WANNEER GOD MENSE NUUT MAAK -
(Herlewings wat nasies verander het) Danie! Ek lees in ’n resensie: “Die skrywer glo dat ons dag herlewing op ongekende skaal sien, en hy bied talle redes aan om sy argument te staaf.”
Ek sou baie graag dié boek wou lees. In ’n ander boek “God in die sirkel” het Bennie geskryf oor ’n paar van die herlewings wat my baie diep getref het.
Sy boek het pas verskyn en is te kry by CUM . Hier is ’n skakel na ’n resensie:
http://www.ekerk.co.za/profiles/blogs/wanneer-god-mense-nuut-maak

Henrietta said...

Ai Danie, ek raak skoon jaloers as ek lees wat jy skryf - hier by ons is dat maar "more of the same" ... dalk bid ons te min?

In ’n stuk “Gestaltes van God” se Gees op die NG Kerk se webwerf (
http://www.ngkerk.org.za/index.asp?bodyType=godsekerk) vra Dirkie Smit ’n paar interessante vra rondom Pinkster: Hoe onderskei ons of praktyke, gebruike, instellinge stééds draers van die oorspronklike géés is, of nie? Wat die kerk betref, steeds gestaltes van die Gees? Wanneer breek oomblikke wél aan vir vernuwing? Herlewing? Bewuste voorneme? Nuwe oorgawe aan dié oortuigings waarvan ons nog altyd lewe? Nuwe strukture, belydenis, getuienis? Nuwe sakke vir nuwe wyn?

Is alles wat "nuut" is in die kerk, noodwendig goed en reg?

Henrietta said...

Soos ek dit sien, moet daar sekere dinge gebeur voordat daar ‘n herlewing kan wees: Daar moet ’n duidelike sondebesef wees. Hierdie sondebesef is nodig om tot sondeberou te kom wat weer tot belydenis van sonde aanleiding gee en wat uiteindelik dan deur God vergewe kan word. Natuurlik kan slegs die Heilige Gees mense bring tot sondebesef! En natuurlik is gebed ‘n allernoodsaaklike bestanddeel. Maar .... moet daar nie ‘n sekere tipe preek (in die ou dae is dit “bekeringspreke” genoem) gelewer word nie, voordat hierdie dinge kan gebeur nie ?