Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

4/05/2011

Geloof van die Jakobelinge?

Met die term "Jakobelinge" bedoel ek die afstamelinge van Jakob tydens hulle verblyf in Egipte, 70 in getal. Hulle word wel die "kinders van Israel" en "Israeliete" genoem, maar was hulle toe al 'n volk of 'n nasie? Ek dink nie so nie. Was hulle JHWHiste? Ek is nie so seker daarvan nie.

8 comments:

Yf said...

Dink bietjie hieraan: Jakob was 'n bedrieër. Rachel het die afgodsbeeldjies uit haar pa se huis saamgesmokkel met die groot vlug. Maar dit word erger. Josef se eie broers verkoop hom as slaaf en oortref hulle pa in sy eie optrede - bedrieëry.

Gideon said...

Yf, Jakob se afstammelinge (“Jakobelinge”) in Egipte was alreeds Israeliete, of die volk van Israel – die nuwe naam wat God hom gegee het(Gen32:28) – net soos Hy vir Abram ’n nuwe naam (Abraham) gegee het (Gen.17:5). Name was vir hule nogal “betekenis-vol” en beskrywend.
Hebreeus:
“Ish” = man
“Rah” = swaar, gewigtig, belangrik, groot.
“El” = kort vorm van Elohîm = God.
“Israel” = “belangrike man vir/van God”.

Reeds in Gen.49:16 is daar sprake van Dan se “volk”, en in Gen.1:9 is die Israeliete ’n “volk” genoem. Volgens die woordomskrywing van “nasie” was hulle toe reeds ook ‘n nasie: “Mense van dieselfde land en afstamming, wat in die reël dieselfde taal praat, ‘n politieke eenheid vorm en dieselfde sedes het”.

“Was hulle JHWHiste?” Ja, ek reken hulle was. Dit was immers Jahweh wat hulle gerig en gereël het, hulle verlossing uit Egipte bewerk het en hulle na die beloofde land gelei het – soos reeds aan Abraham beloof is.

Dit is waar dat sommige van hulle gure dinge gedoen het. Terwyl hierdie booshede nie goedgekeur word nie, verwerp God / die HERE / Jahweh hulle nie summier nie, want Hy, die HERE, bewus van wat sou kom, het hulle as ‘n “draad” (by gebrek aan ‘n beter beskrywing) gekies waarlangs Sy verlossingsplan tot vervulling sou kom. En hierdie “draad” is ook Jesus Christus se stamboom, insluitende bedrieërs, verbondsverbrekers, ‘n prostituut ens. Die Bybel draai nie doekies om en verbloem mense se verkeerdhede nie. En dit was nie net enkelinge watboos en verkeerd opgetree het nie, maar selfs die hele volk, sodat God dikwels Sy profete moes stuur om hulle op hulle boosheid en verbondsverbreking te wys.

Yf said...

Gideon,
Dis goed dat jy my bietjie opstry. Ek aanvaar Moses as die outeur van die Pentateug, of ten minste die oorgrote meerderheid daarvan. (Desnieteenstaande dat hy nie oor sy eie dood kon skryf nie en dat daar nêrens staan dat hy dit geskryf het nie, maar Christus identifiseer hom as die outeur) M.a.w. alles wat voor sy tyd gebeur het, is deur hom as geskiedenis opgeteken. Dink jy nie die verwysings na Israel as volk was as’t ware in nabetragting nie? Die Here het dit wel gesê, en in naam was hulle dit, maar in realiteit? Volgens Eks. 12:38 het hulle en ‘n klomp vreemdelinge uit Egipte vertrek – dus meer as een groep wat eers in die woestyn as hegte eenheid of volk saamgesmelt is.

Ek wonder tog oor die JHWHiste ding. Hulle het Egipte binnegekom met verdagte etiek wat tog op geloof gebasseer is. Tydens hulle verblyf daar (veral teen die einde) was hulle blootgestel aan die monoteïsme van Akhenaten. Moses moes na Midian gaan om van God te leer by Jethro. (Midian was ‘n seun van Abraham en Ketura en sy afstammelinge op die Arabiese skiereiland het in meer kulturele en godsdienstige isolasie geleef as die Israeliete in die wereldmag, Egipte. Ook klink dit vir my of Moses bietjie oortuigingswerk moes doen onder sy broers om hulle duidelik te laat verstaan presies wie dit is wat hulle roep en verlos. Dan is daar natuurlik nog die terugkeer na die vleispotte van Egipte en die goue kalf. Ek lei af hulle was nie onkundig omtrent die maak van die kalf en die aanbiddingseremonie nie.

Indien hulle werklik JHWHiste was, sou dit rêrig nodig gewees het vir die Dekaloog? Veronderstel hulle was afvalliges, dink jy nie die Dekaloog is ‘n meer as ‘n uitstekende raamwerk vir Godsdiensbeoefening nie?

Vir ‘n hele Godvresende volk om tentpenne uit te trek en te versit op bevel van die Here is vir my merkwaardig genoeg. Maar veronderstel hulle was afvallig van die Here, nogtans versit hulle, dis nog ‘n groter wonder, dink jy nie? Soos jy uitwys, die Here se oorvloedige liefde ten spyte van, Sy oorweldigende, onweerstaanbare indruk (by gebrek aan ‘n beter woord) wat Hy op ‘n hele volk maak (en ook op die Egiptenare want alles wat die Israeliete van hulle ge-eis het is aan hulle gegee). Dat die Here ‘n hele volk kan beweeg (en hulle teenstanders) WOW! Hulle kon nie anders nie – hulle moes net eenvoudig gaan. Dis omtrent ‘n Demaskus-ervaring vir ‘n hele volk. WOW Gideon. Selfs hierdie stukkie geskiedenis laat mens met nuwe oë na die Here kyk.

Maak hierdie uitbeelding van almag en heerskappy jou nie ook opgewonde nie? Dis om van vreugde rond te spring (as ‘n mens se knieë dit sal hou!)

In Vrede

Gideon said...

Yf, jy vra: “Dink jy nie die verwysings na Israel as volk was as’t ware in nabetragting nie?” Dit kon seker wees, maar ek glo nie. Regdeur praat die Bybel van hulle as ‘n volk – Israel. Ek glo ook nie dat spekulasie hieroor (volk of nie?) van nut sal wees nie. Die feit dat daar “’n menigte” vreemdelinge met hulle saam getrek het, neem tog seker nie weg dat die Israeliete ‘n volk was nie. Sou mens dan kon sê dat daar in S.A. geen “volk” is nie? - hulle lewe en werk immers elke dag tussen mekaar, onder mekaar en met mekaar. Neem bv. die Afrikanervolk.

“Indien hulle werklik JHWHiste was, sou dit rêrig nodig gewees het vir die Dekaloog?” Ek meen van “Ja”. Hulle was “JHWHiste”, alhoewel wederstrewig, afvallig, en “deur en deur sleg” (Eks.32:22). Daarom het God (glo ek) vir hulle duidelike riglyne in die Dekaloog neergelê. Immers, dit is nadat hulle ‘n goue kalf gemaak het om te aanbid, dat God in die Dekaloog gespesifiseer het dat hulle soiets nie mag doen nie. En wat van al die ander gebooie – ek glo nie die Israeliete kon onskuldig pleit op enige van die ander nie. Ek meen ook dat die goue kalf-episode moontlik iets te doen gehad het met die invloed van die vreemdelinge wat saam met hulle getrek het.

Ek stem saam dat hulle ged. hulle 430 jaar in Egipte, met die Egiptiese afgode kennis moes gemaak het, maar ek glo dat hulle hulle geloof in God behou het – te midde van hulle menslike verdorwenheid. Daarom het hulle tot Hom geroep toe hulle so swaar gekry het in Egipte (Eks.2:23-25; 6:5).

Ja, ek verwonder my nog daagliks aan hoe God Sy almag, alwetenheid en alomteenwoordigheid laat geld. Dit is werklik om van te juig dat ons só ‘n wonderlike God het – en dit nog dat die geloof wat ons in Hom het, Sy uitverkiesende genade is.

Henrietta said...

Lekker plasing Yf. Oor hulle geloof: Ek dink as mense party dae na my kyk, sal hulle ook oor mý geloof wonder ...:)))

Moet mens nie na God se Groter Plan kyk nie? Hy was nog in die proses om vir Hom 'n heilige volk (in die sin van afgesonderde, anderse) te berei, een waaruit die Messias eeue later gebore moes word. Dit is vir my 'n deurlopende gedagte, ook met God se verbond/belofte aan Abraham: "julle sal vir my 'n volk wees".

Ons het die besondere voorreg, nie net om terug te kyk en hierdie pragtige "draad" soos Gideon sê, raak te sien nie, maar ook om te beskik oor die hele Bybel (met alle soorte elektroniese en gedrukte kommentare en geskiednisboeke daarby) . So vir ons is die prent BAIE vollediger!

Vir my is Deuteronomium 8 'n universele, tydlose antwoord op die "waaroms" wat ons mag hê, nie net oor God se plan met ons eie lewe nie, maar ook met volkere, groepe, families. Ook as mens Hebreërs 10 (laaste deel), 11 en 12 in een sitting, aanmekaar, (asof sonder versies!) lees, sien mens iets van hierdie Groter Plan.

Henrietta said...

Yf, Jakob se “geloof” soos jy in jou begin plasing sê, herinner my baie aan die laaste vers in Rigters (21:25): “In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” en 2 Konings 17: 41: “Hierdie nasie het nie net die Here geëer nie, maar ook hul eie afgodsbeelde gedien, en tot vandag toe nog volg ook hulle kinders en kleinkinders hulle voorbeeld.” (En ons van tyd tot tyd ook, as ons eerlik moet wees...)

Gideon said...

Ditsem, Henrietta! Alles pas eintlik in God se grootse, genadige plan wat Hy aangekondig het in Gen.3:15, en toe in werking gestel het met Sy verbond met Abraham - van wie ons nou ook die nageslag is in Jesus Christus (Gal.3:7,29).

Yf said...

Soos so dikwels gebeur, soek mens vir een ding en dan kom jy op iets anders af:
"Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here." (Jos. 24:14)
Dit, komende van iemand wat sekerlik as kind self Egipte beleef het. Dit lyk vir my 'n redelik uitgemaakte saak, wat die hele uitverkiesing, verlossing uit Egipte, oorsien van oortredings in Sinai ens. nog meer merkwaardig maak.