Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

4/28/2011

Die verheerliking van Nie-weet-kunde


Een van die uitstaande kenmerke van die aanhangers van postmodernisme (‘n goeie vriendin van my praat van postmortemiste;)))) , is die verheerliking van Nie-weet-kunde. Die uitspreek van onsekerhede, wegskram van wat die waarheid is en ontkenning, word tot die oulikste eierdansies verfyn. Die enigste ding wat hulle van harte weet, is dat hulle nie weet nie ....

Is Christene dan arrogant om te sing : “Ek weet verseker, dat Jesus leef!”

15 comments:

Yf said...

Hoe kan 'n mens verseker weet dat niks seker is nie - dan is een ding ten minste seker. Dis 'n hond-jaag-sy-eie-stert argument. Ek vermoed dat daar 'n tyd was toe daar aanvaar is dat die wetenskap onaanvegbare antwoorde op alle vrae verskaf. Dit is sekerheid. Maar toe moes hierdie gemaklike ingesteldheid aangepas word omdat daar besef is dat hoe meer antwoorde, 20 x meer vrae. Daarom is niks (wetenskaplik gesien) meer seker nie. Die volle waarheid ontwyk ons nog, selfs Paulus het so gedink. Daarom praat wetenskaplikes eerder van geldigheid en betroubaarheid i.v.m. stellings, hipoteses, toerieê, wette ens. Geldigheid verwys na die mate waartoe 'n model, toerie of wet (ens.) 'n sekere verskynsel kan verklaar, al dan nie. Daar is minimum standaarde waarvolgens inligting ingesamel moet word en die mate van betroubaarheid verwys na die mate waartoe aan hierdie eise voldoen is.

Vir christene is postmortemisme nie 'n diverse siening van die werklikheid nie, maar 'n Bybels-teenstrydige siening. Want die Bybel leer dat ons tog wel van sekere dinge seker kan wees. Hierdie dinge waarvan christene seker kan wees word deur hulle as waarheid aanvaar.

Nou wonder ek net, kan 'n mens van 'n leuen ook seker wees? Kan 'n mens oortuig daarvan wees dat 'n leuen ook geldig is? (Ek kan tog nie vra, kan 'n mens oortuig daarvan wees dat 'n leuen die waarheid is nie)

Liza said...

Hoe kan 'n mens verseker weet dat niks seker is nie - dan is een ding ten minste seker... en dis "death and taxes":)

Liza said...

Maar natuurlik gaan ons as arrogant bestempel word. Hoe kan jy nou so 'n eksklusiewe stelling maak en verwag dat Moor en Mohammedaan moet saam sing - dis mos by verre nie inklusief genoeg nie! :))

Yf said...

Ek weet nie so mooi nie, maar hierdie Ek-weet-nielogie is m.i. maar net 'n verskoning om te sê alle realiteitsperspektiewe (hoe absurd ookal) het ewe veel geloofwaardigheid. Omdat ons nie rêrig weet wat die waarheid is nie, het elkeen 'n stukkie van die waarheid beet. die "alle paaie kom uiteindelik by die kruin uit" of natuurlik alle godsdienste kom uiteindelik by die Here uit. Dis 'n poging om die regverdiging van enige uitspraak. Daar is geen wit of swart, leuen of waarheid nie, alles is skakerings van die waarheid. Gevolglik het alle (om een voorbeeld te noem) skeppings- en paradysverhale ewe veel waarde en omdat ons weet die eerste beskawings s'n is mites, volg dit dat die Bybelse een ook 'n mite moet wees. "Dit mag waar wees vir jou, maar nie vir my nie" houding.

Liza, behalwe vir dood en belasting, is dit dan nie ook seker dat die son more sal opkom nie? Die wereld sal nie vandag vergaan nie, want iewers in die wereld is dit al klaar more!

Henrietta said...

Julle is weer vol allerande wyshede vandag... Lees hierdie oulike stuk van Slabbert le Cornu , min of meer in dieselfde lyn :
http://proregno.wordpress.com/2011/04/27/aan-julian-muller-%e2%80%93-ek-twyfel-ook/#comment-290

Liza said...

Hehehe - ons het geen wetenskaplike sekerheid dat die son wel môre gaan opkom nie - ons kan dit maar net glo (wet van induksie) - en met 'n groot mate van sekerheid ook sou ek reken, want God het immers die son in sy wentelbaan geplaas...

Maar ook anders gesien sal die son vir ongeveer 146,357 mense elke dag, wêreldwyd nooit weer opkom nie... Dis hoeveel mense volgens die The Harvest Fields Statistics - 2010 edition elke dag sterf.

Henrietta said...

Lees dit vandag op iemand se Facebook profiel:

"There is delusion that is universal. A lie is a lie even if everyone believes it, and the truth is the truth even if no one believes it." (David Stevens)

Yf said...

Ja, en dit neem die son 'n kosmiese oogknip van 225 mil. jaar om een omwenteling om die middelpunt vna die melkweg te voltooi. is dit gekoppel aan die Groot Uitwissingsgeleenthede (Mass Extinction Events)? Ek wonder wanneer tref die volgende een ons? Of stem die natuurkenner saam dat die mens besig is om die jongste een te veroorsaak. Wat is die ergste ding wat die witman na Afrika gebring het. Nee, dis nie gewere nie - dis doringdraad. Dink daaroor.

Liza said...

Henrietta, (ek skip vir eers Yf se doringdraad-teorie :))), Joseph Goebbels, Hitler se Minister van Propaganda, het by geleentheid gesê: If you tell a lie big enough and keep repeating it, people will eventually come to believe it.
(Met verwysing na die propaganda wat gebruik is om die Duitse bevolking teen die Jode op te sweep.) Ons sien dit mos vandag rondom ons gebeur, nie net op politieke gebied nie, maar ook op verskeie ander terreine...

Henrietta said...

Iets lesenswaardig op dieselfde trant:

Teoloog onbybels oor geloofstwyfel


Die bekende teoloog, dr.Julian Müller, se jongste boek heet, "Om te mag twyfel", waarvan hy self sê: "...dit staan teenoor die (Bybelse/TCB) boodskap dat dit verkeerd is om te twyfel..." (By,23.04). Vir hom gaan dit "...in die kerk nie oor ' 'n vasgestelde, korrekte (Bybelse/TCB) manier van doen nie. Dit gaan bloot oor Christenskap'. " Ons mag mos nou vra: Wat is die vertrekpunt en eindbestemming van dié "Christenskap"; veral in die lig van sy eie dualistiese onderskeiding tussen "wedergebore" en "gewone" Christene?

Müller sê prontuit: "Ek het met verloop van tyd skepties geword oor die konsep 'geloofsekerheid' ". Sy boek is bedoel vir diegene wat "...as kinders ongedwonge en maklik geglo het, maar nou sukkel om steeds so naïef te vertrou." Dit is om die rug te draai op wat Jesus self in Matteus 18:3 gesê het: As ons nie "...soos kindertjies word nie...", sal ons "...beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie."

Met die voorgenoemde neem hy "...stelling in teenoor die 'kampioene van geloof ' en skaar hom eerder by die 'ongelowige gelowiges' ". Wat 'n anomalie en/of diskrepansie is dit nie? In sy boek wil hy "...juis nie oor die oorwinnings van geloof praat nie...", want vir Julian Müller het geloof "...geen inherente krag en betekenis nie..." Is dit aanvaarbare taal van 'n teoloog wat deel het aan die opleiding van die huidige predikantegeslag? As dit nie dwaalleer is nie, wat is dwaalleer - as afwyking van die Bybelse waarheidsleer - dan?

Direk teen die Bybelse opdrag van nie-twyfel in, sê Müller Christene mag maar twyfel. Twyfel is egter die "oersaad" wat gesaai word om 'n bestel te skep wat moet kulmineer in die geloofsvernietiging van Christengelowiges. Twyfel is die oerstrategie deur Satan gebruik vir die mens se sondeval. Müller is ongetwyfeld onbybels in sy propagering van geloofstwyfel.


Dr.T.C.Breitenbach

Yf said...

In hierdie post-mortemistiese tyd waarin ons leef is die enigste kettery om te sê dat daar wel so iets is. En ek dink New Age is 'n verwesterse vorm van Hinduisme, selfhelp, -verbetering reinkarnasie en al.

Liza said...

Ek het al baie gewonder of al die vreemde postmodernistiese uitsprake nie 'n soort van mantel is wat baie omhang om hul ongeloof/rebellie weg te steek nie...die oorgangsfase tot totale godloosheid/ateïsme?

Henrietta said...

Nog 'n ongelowigheidsapostel, hier in vandag se Beeld: http://www.beeld.com/Rubrieke/WilhelmJordaan/In-die-skitterende-grys-landskap-20110503

In die skitterende grys landskap
2011-05-03 22:44

Wilhelm Jordaan

In ’n brief (By, 30 April) skryf At van Wyk daar kan nie iets soos “ongelowige gelowiges” wees nie.

Dít na aanleiding van prof. Julian Müller se artikel (By, 23 April) waarin Müller onder meer sê hy skaar hom eerder by die “ongelowige gelowiges” as by die “kampioene van geloof”.

Van Wyk beroep hom op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, waarvolgens “gelowig” en “ongelowig” presies die omgekeerde van mekaar is. Dié begrippe wil maar net nie “paar” nie, sê Van Wyk.

Hy reken dit is om twee weersprekende woorde gelyk te wil maak – “om aldus “ongelowig(e) te verhef en “gelowig(e)” af te rem”.

Daarmee vereenselwig Van Wyk hom met die antieke, enigsins ouderwetse, Aristoteliaanse logika, byvoorbeeld die wet van geen weerspreking (non-kontradiksie): Niks kan tegelyk A en nie-A wees nie.

Anders gesê: Geloof en ongeloof kan nie tegelyk (in dieselfde mens) bestaan nie. Wat sê: ’n Mens is óf ongelowig, óf gelowig.
Wat Van Wyk egter verswyg, is die moderner dialektiese logika wat juis daarop gerig is om die middelterrein tussen opponerende posisies te verken in die lig van meer moontlikhede. Om met die oë van “én én” eerder as “óf óf” na die lewe te kyk.

Soos wat die fisikus Niels Bohr dit doen as hy sê: “I recognise a profound truth where the opposite is also true.”

Ook op die terrein van kritiese geloofsverantwoording word dié benadering verken. Soos in die werk van die Katolieke teoloog Hans Küng. Hy praat oor die mens wat gelyktydig ’n regverdige én ’n sondaar is (simul justus et peccator), en wat ook gelyktydig gelowig én ongelowig is (simul fidelis et incredulus).

Dit is juis dié vertrekpunt wat hedendaags deur Müller, vele ander teoloë én gewone mense verken word ter wille van ’n vervullende geloofslewe deur kritiese geloofsverantwoording.

Dít in teenstelling met die “kampioene van geloof” by wie onsekerheid, twyfel en bevraagtekening van tradisionele geloofsopvattings en -uitings ’n sondige ondeug is. Dit is juis húlle wat die Aristoteliaanse logika tot enigste denkbeginsel verhef.
Soos ’n mens dit teëkom in eenvoudige, ongenuanseerde stellings soos: Jesus het letterlik en fisiek uit die dood opgestaan (die graf was leeg), óf Hy het nie; Jy dien die Here óf jy dien hom nie; Dit is óf die hemel, óf die hel.

Dit word dan ook ’n manier van dink oor ongeveer alle lewensdinge; toegeklamp in die netjiese kategorieë van swart of wit – sonder ’n bewussyn van die skitterende grys landskap tussen-in.

Bewustheid van dié “grys landskap” beteken die aanvaarding van paradoksale geloofsmoontlikhede. Byvoorbeeld:
Die tradisionele Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Artikels) is vir baie mense ’n struikelblok. Om dit met oortuiging na te sê, soos die gebruik in ’n erediens is, is vals. Daarom verwerp hulle dit.

Maar ’n paradoksale bewussyn kan ’n ander “lesing” van dié geloofsbelydenis toelaat: Enersyds: Dié belydenis roer my en roep die verlange na God in my wakker.

Dit is die geloofspad waarlangs die kerkvaders dit eeue gelede begryp het, en waarlangs ek ook gekom het van kindsdae af. Ek kan my hierin ver­bly as ’n kosbare geloofsvormende geskiedenis waarsonder ek nie wil wees nie.

Andersyds, en terselfdertyd: Ek glo die misterie van God en Christus is ontvouend en dit laat my toe om dit wat vir my vreemd en onaanvaarbaar geword het, in te klee en uit te brei met ’n nuwe en eerbiedige verwonderingstaal.

Waarmee die struikelende, twyfelende, spartelende, soekende gelowige mens wesenlik bely: “Here, ek glo. Help my in ongeloof.”

Henrietta said...

Ja Liza, dis 'n soort volstruispolitiek: steek jou kop in die sand dan verdwyn die issue en hoef jy nie verantwoordelikheid te aanvaar nie ....

Yf said...

Die heer Jordaan verwar teologie met filosofie. "Gelowig" en "ongelowig" is ongetwyfeld teologiese begrippe en nie filosofiese begrippe nie. In die Christelike teologie is dit begrippe met twee teenoorstaande betekenisse en dit kan nie tegelykertyd voorkom nie. Dit maak die Bybel duidelik. Teologie is daarom gemik om sekerheid te verskaf, filosofie is daarop gemik om moontlikheide te ondersoek. Wanneer mens christelik teologies wil redeneer kan slegs Bybelse uitsprake tersake wees, anders word dit filosofie. Daar is geen vers in die Bybel wat sê dat mens tegelykertyd gelowig en ongelowig kan wees nie.