Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

12/21/2009

'n Verhaal van LIEFDE

Eendag, lank, lank gelede was daar ‘n eiland, en op hierdie eiland het elke gevoel waaraan ‘n mens kon dink, gebly: GELUK, HARTSEER, en LIEFDE was die hoof van hierdie eiland. Een oggend vroeg is daar oor die radio aangekondig dat die eiland besig was om te sink. Elke gevoel het reggemaak om die eiland te verlaat maar LIEFDE en KENNIS was die enigste gevoelens wat gebly het.

LIEFDE het geglo dat alles sal regkom en almal weer gelukkig op die eiland sou bly. Toe die eiland amper heeltemal gesink het, het LIEFDE en KENNIS besluit om hulp te vra.

RYKDOM het verby die eiland gevaar in sy luukse boot en LIEFDE het om hulp geroep, maar RYKDOM het geantwoord daar is te veel goud en silwer aan boord, daar is glad nie plek vir hulle nie.

HARTSEER het later in ‘n pragtige seilboot verbygekom en LIEFDE het weer om hulp geroep, HARTSEER wou nie help nie, want HARTSEER wou graag alleen wees.

YDELHEID het in ‘n ‘yacht’ verbygevaar en toe LIEFDE weer om hulp vra, het YDELHEID geantwoord dat LIEFDE en KENNIS dalk die boot sou beskadig.

GELUK het later die middag verbygevaar en so geskreeu en gelag van vreugde dat LIEFDE en KENNIS se hulpkrete glad nie gehoor kon word nie.

Skielik was daar ‘n stem wat sê : LIEFDE, ek sal jou help. LIEFDE was so verlig oor die hulp en hulle veiligheid dat LIEFDE nooit eers gevra het wie die hulpvaardige was nie, maar kon onthou dat dit ‘n baie, baie ou wese was.

Toe hulle aan wal kom, vra LIEFDE vir KENNIS wie die hulpvaardige ou wese was. KENNIS antwoord dat dit TYD was wat hulle gehelp het. Vir LIEFDE was dit ‘n groot oomblik, maar vra toe hoekom TYD hulle gehelp het?

“KENNIS het geglimlag en met ‘n diepe wysheid geantwoord: Net TYD weet hoe kosbaar LIEFDE is!

2 comments:

Henrietta said...

Dankie Liza vir hierdie inspirende verhaal en ook die nuwe illustrasie vir die blog - dit is pragtig!

Henrietta said...

Willhem Jordaan vertel vrylik Jules Supervielle se sprokie oor hoe die lewende kosmos Christus se geboorte meegemaak het in Woensdag se Beeld:
"Die os en die donkie was saam met Josef en die swanger Maria op pad na Betlehem.
By die stal aangekom, het die os en die donkie begin stry oor wat hulle by die geboorte moet doen.
Toe die os sy asem oor die baba blaas om hom warm te hou, het die donkie gekla: “Moenie so naby aan hom kom nie. Jou horings gaan hom seermaak.”
En toe die donkie sy lang ore aanbied om die baba gerus te stel (soos ’n soft toy nou maar doen), berispe die os: “Moenie in sy gesig balk nie. Dit sal die baba se dood beteken.”
Ná baie stryery begin hulle verstaan hier is ’n groot ding aan’t gebeur.
Die os het gesien hoe die klippe, wat gewoonlik baie tyd nodig het om iets te verstaan, die wonder begryp.
Ook die veldblomme, die gras, die water en die lug het “geweet”.
Só vol vreugde was die os dat hy ophou eet het.
Hy het nie meer water gedrink nie en hy was bang om asem te haal - ingeval hy dalk ’n besoekende engel deur sy neusgate opsnuif.
Met die hulp van die os en die donkie het al die mak diere, die diere van die veld en al die goggas gekom om die kind in die krip te leer ken.
Die visse wat ’n bietjie sukkel met asemhaal op droë grond, het ’n seemeeu in hul plek gestuur.
Selfs die diere wat nog nie ontdek was nie en in die skoot van die aarde en in die see se maag op ’n naam gewag het, was gretig om te kom dagsê.
Maria het almal die klein stal laat binnekom: “My kind is hier net so veilig as in die hoogste hemel,” het sy ¬gesê.
Die diere het elk iets van hulself by die kind agtergelaat - die voëls hul sang; die duiwe hul liefdespel; die bobbejane hul manewales; die katte hul manier van staar; die tortelduiwe die sagte kleure van hul keelveertjies.
En die volstruis het stilletjies ’n eier gelê waarvan Josef, tot die donkie se verbasing, ’n omelet vir almal gemaak het.
Later het wyse manne uit die Ooste gekom om, saam met die heelal se atome, om die krip te versamel.
Die sterrebeeld van die bul het sy horings uit die hemelboog losgehaak en afgekom aarde toe.
Sodat sy lig oor die krip skyn terwyl ’n wolk in sy plek in die hemelruim wag gestaan het.
Ander vreemde dinge het ook gebeur.
Die skilpad het sy stadige gang versnel en haastig geraak.
Die blitsige likkewaan het stadig geword.
Die lomp seekoei het ligte kniebewegings gemaak en die papegaaie was doodstil.
Eensklaps het die sterrebeeld van die bul hoog in die lug gespring en hom, met een stoot van sy horings, weer op sy ou plek vasgehaak.
Die ganse kosmos het gegloei van opwinding en asem opgehou oor die kind wat gekom het..."
- Beeld: 23/12/09