Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/30/2009

Jesus is beter as ...4/4

Buddhisme
Buddhisme kan essensieël as ateïsties van aard beskou word aangesien dit 'n god van watter aard ookal gladnie in die godsdiens figureer nie. Dit kan in die volgende vier edele waarhede opgesom word:

1. Om te lewe is om swaar te kry.
2. Swaarkry is die gevolg van begeertes wat nie vervul word nie.
3. Swaarkry kan stopgesit word deur begeertes te elimineer.
4. Die eliminasie kan by wyse van die agt-voudige weg vermag word.

Die agt-voudige weg sluit die volgende in:

- die regte intensies of bedoelings
- die regte uitsprake
- die regte optrede
- die regte beroep
- die regte doelgerigtheid
- die regte energieverbruik
- die regte lewensingesteldheid (ontkenning van die self)
- die regte meditasie

In geen een van hierdie opsigte mag die medemens te nagekom word nie.

Die doel van die Buddhis is nie om in een of ander hemel te kom of om by een of ander god te wees of verhewe status te bereik nie. Die doel is om van alle swaarkry, begeerlikhede, rykdom en die illusie dat sigself bestaan, weg te kom. Buddha se laaste woorde was blykbaar dat hy slegs die weg aandui maar dat elke mens sy eie saligheid moet uitwerk.

Die Here Jesus leer en gee hoop in hierdie lewe: In teenstelling met Buddha wat geleer het dat die lewe net swaarkry is, leer Jesus dat die lewe 'n gawe van die Here is (Joh 10:10) Buddha leer dat die die individu van die illusie van die self moet ontkom, maar Jesus leer dat die mens ge-eer moet word (Mat 5:22). Waar Buddha 'n hopelose "reis" en einde voorhou wat op 'n groot niks uitloop (nadat van alles ontslae geraak is, selfs die illusie van self-bestaan) hou die Here Jesus 'n eindelose hoop voor (Joh. 14:6) en 'n terugkeer tot die Vader waar volkome vervulling wag.

Jesus het 'n hoër waarde as Buddha: Buddha was maar net 'n mens wat onderworpe was aan alle vleeslike dinge en selfs die dood. Hy het ook nooit opgestaan uit die dood nie. Jesus was, gedurende Sy aardse bestaan nooit onderworpe aan enige sondige begeertes nie en het Sy Goddelykheid bewys deur baie wondertekens en deur finaal uit die dood uit op te staan.
(Geisler, N. & Brooks, R.M. 1990. When skeptics ask. Baker Books, Grand Rapids, Michigan, pp.128 - 135)

Hierdie agtergrondkennis behoort dit vir die christen duidelik te maak dat alle godsdienste nie gelyk is nie en enige pogings deur die kontra-apologeet om vanuit so 'n vertrekpunt te redeneer behoort suksesvol verweer te kan word.

2 comments:

Liza said...

Dankie dit was nou uiters leersaam...

'Die Nuwe Verdraagsaamheid' 'n artikel in die November uitgawe van Juig! gebasseer op die boek The New Tolerance van Josh McDowell beweer ook dat die Christendom lynreg teenoor al die ander godsdienste in die wêreld staan as dit kom by die beginsels wat regtig saak maak. En omdat die Christelike godsdiens nie relatief is, soos wat sommiges dit deesdae graag wil hê nie, word dit fel geteiken deur die einste en eintlike onverdraagsames...

Gideon said...

Liewe Yf,
Baie, baie dankie vir die deeglike stukkies wat jy vir ons gepos het. Hoewel ek nie juis met genoeg tyd toebedeel was nie, het ek dit darem gelees en maar net daaruit geleer.
Baie insiggewend. Doen gerus so voort.

Groetnis.

Gideon.