Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/12/2009

Die metafoor van die skip: predestinasie of vrye keuse


Ja, ongelukkig is die so dat hierdie twee Bybeltemas dikwels teenoor mekaar gestel word. Predestinasie staan vas. Om maar net drie teksverse te noem: Ps. 33:11: "Maar die planne van die Here staan vir altyd vas, sy besluite van geslag tot geslag." Jes. 43:13b: "Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie." Dan. 4:35: "Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: 'Wat doen U?' nie." Daar kan geen twyfel wees nie: Die Here trap vir niemand briek nie en Hy swaai vir niks uit nie.

Tog het ons 'n vrye wil en ons moet keuse maak. Om die waarheid te sê dis so 'n gegewe soos asemhaal. Drie teksverwysings: Jos. 24:15: "Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien." Ps. 25:12: "As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies," Ps. 119:30: " Ek kies die betroubare pad, ek lewe volgens u bepalings." Hoe kan alles vooraf bepaal wees, maar mens moet kies?

Hier is die metafoor om te probeer om dit te verduidelik: Daar is 'n skip. Die skeepsreis het 'n begin, 'n verloop en 'n einde. Niks kan hieraan verander nie. Dis predestinasie. Op hierdie skip is daar mense en elkeen besluit wat hy of sy wil doen en hoe hulle will leef of nie wil leef nie. Dis vrye wil. Dinge kan verkeerd loop op die skip, tussen mense em materieël gesproke Dinge kan breek, of verweer, vuil raak ens. Maar die skip se beweging of sy einddoel verander nie - storms of te not.

Wat dink julle van die metafoor?

Vrede daar.

8 comments:

Henrietta said...

Iemand baie slimmer as ek was Arminius, wat ook oor hierdie vraagstuk gewonder en gepraat het en ongeveer 1615 oorlede is. ‘n Paar jaar na sy dood, in 1618, het die Sinode van Dortrecht ‘n sitting gehou om die Dortse Leerreëls te bespreek en om vyf punte van protes van die volgelinge van Arminius te bestudeer. Na ‘n intense studie gedoen is wat sewe maande en 154 sessies geduur het is daar op die sg. Vyf Punte van Calvinisme besluit, naamlik 1. die totale verdorwenheid van die mens; 2. onvoorwaardelike verkiesing; 3. Christus het gesterf tot redding van ‘n bepaalde groep mense, naamlik die uitverkorenes; 4. onweerstaanbare roeping en 5. volharding van die gelowiges. En tot vandag toe beredeneer mense dié saak – myns insiens eindig dit telkens in ‘n sirkelgang: net soos mens dink jy het ‘n antwoord, sien jy jy is presies waar jy begin het.....

Jy vra oor die metafoor van die skip: klink vir my regtig soos iets wat kan werk...

Gideon said...

Broeder Yf,
Ek sou graag wou sê ja, dis ‘n goeie metafoor. Maar dan kry ek weer die gevoel daar skort nog iets. Vir my is die vraag: wat noem ons die skip se bestemming?
Dit is waar wat Henrietta sê: Dit voel of mens in ‘n sirkel redeneer. Uitverkiesing is daar, maar om die vrye wil van mense daarby in te “dink”, bly ‘n probleem vir die logika. Miskien moet ons maar eenvoudig die volgende in die geloof aanvaar:
“Dankie Here, dat U my die geloof geskenk het om U te bely as enigste Verlosser en Saligmaker. Daarom weet ek ek is ‘n uitverkorene, al verstaan ek nie waarom juis ek nie. Daarom wil ek uit dankbaarheid leef soos ‘n uitverkorene.”
Daar is natuurlik ook ander dinge wat ons (moontlik) nooit sal verstaan nie, soos die skepping, God se drie-enigheid, Sy liefde vir die mens wat selfs tot Jesus se kruisdood gelei het, en nog veel meer.
'n Ander raaisel is ook dat die Here nie Sy wederkoms vertraag soos ons dit vertraging ag nie, maar omdat Hy nie wil hê dat sommige verlore moet gaan nie (2Pet.3:9).

Groetnis.
Gideon.

Henrietta said...

Ai, die "wysheid van die grysheid"! DANKIE Gideon - dit is regtig goed gestel. (By om weer jou "stem" hier te hoor... ")

Liza said...

Yf jou metafoor laat my ook aan die Amerikaanse skrywer W.A. Tozer se metafoor dink.

In sy boek The Knowledge of the Holy stel hy predestinasie voor as twee skepe wat die hawe van New York verlaat op 'n lang reis. Elkeen se eindbestemming is vooraf vasgestel en kan dus nie verander word nie, maar die reisigers het wel 'n keuse met watter skip hulle wil reis.

Dus berus die verantwoordelikheid van die keuse wat gemaak word by onsself en nie by God nie. Hy het Sy Woord as riglyn gegee om ons te help met ons keuse.

Henrietta said...

Net om te wys HOE ingewikkeld hierdie onderwerp is, kan mens ‘n bietjie rondspeel met allerlei vrae en redenasies:

Wanneer ‘n mens ‘n eie vrye wil het, beteken dit dan dat God nie verordineer wat die mens doen nie? Verder: Kom ons sê die mens se keuses lê buite homself. Is mens dan nie werklik vry nie en kan jy nie verantwoordelik gehou word vir jou keuses nie? As ek nie verantwoordelik gehou kan word nie, kan ek ook nie geprys of geblameer of gestraf word vir hoe ek kies nie, of hoe?

Henrietta said...

Om my vrae by die skip/skepe uit te bring: Yf se metafoor het myns insiens effens minder “keuses” as Liza s’n (Liza ek kies die luukse passasiers een, dankie!).

Vir my verduidelik albei tot ‘n mate hoe mens “beheer” kan uitoefen - as volwassene. Voor geboorte het mens basies geen keuses nie (ek kies nie my herkoms, voorkoms, ens ens nie). Die eerste jare na geboorte is keuses baie beperk, maar word algaande meer. Wanneer mens jou ouer huis verlaat, tog bietjie meer. Daar is egter dinge waaroor mens geen beheer het nie (sg “acts of God” ), dinge soos bv ernstige siektes wat mens nie oor jouself bring nie, die dood en natuurrampe. Mens kan wel kies hoe mens hierop gaan REAGEER. “Die mens wik maar God beskik”.

Yf said...

Hallo julle. Dankie vir al die gedagtes en uitbreidings van die metafoor. Daarmee gaan ek akkoord. Net een dingetjie wat my bietjie pla: As predestinasie so werk dat slegs die wat deur die Here uitverkies is hemel toe gaan sonder dat 'n mens 'n vrye keuse het om die Here as persoonlike Saligmaker aan te neem, as die vooraf bepaal is wie gered word en wie nie, dan beteken dit dat Jesus Christus nie vir almal gestef het nie. Indien dit vooraf bestem is dat jy hel toe gaan, waarom nog "probeer" deur Christus wel aan te neem? Om hierdie probleem te oorkom is die alternatief natuurlik dat almal in elk geval gered sal word. Dan het Christus wel vir almal gesterf. (Dit staan bekend as apokastasis) Maar ons weet tog dat sommiges verlore sal gaan (omdat hulle gekies het om Christus nie as Saligmaker aan teneem nie). En ja, daar is net twee skepe elk met sy eie bestemming, die name waarvan eintlik so selfsprekend is dat ek dit nie eers genoem het nie. Die wonderlike is dat meens enige tyd van die hel-skip na die hemelskip kan oorklim, maar as jy eers op die hemelskip is bly jy daar, want soos Jesus self sê "Niemand sal hulle uit My hand ruk nie (by implikasie, nie eers hulle self nie)

Vrede daar.

Henrietta said...

Een van die mees sinvolle verduidelikings oor die uitverkiesing wat ek ooit gehoor het, was (as ek reg onthou) van Andrew Murray. Hy het dit so verduidelik: Aan die bokant van die poort na die hemel staan : "Almal welkom" . Dit is eers as mens dié uitnodiging aangeneem het en déúr die Hek ingegaan het, wat mens kan terugkyk en dan die opskrif bokant dieselfde poort vanaf die binnekant lees: "Uitverkies".