Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/04/2009

Slagoffers...

Ek het onlangs weer verneem van iemand wat sy 'geloof verloor' het. Toe het opnuut gewonder hoe hierdie betreuenswaardige gebeure plaasgevind het? Hoe kan dit gebeur dat mens so teleurgesteld in die Here raak dat jy van Hom af wegdraai?

Is dit basies omdat daar aan die een kant die Here se plan vir jou lewe is en aan die anderkant het jy jou eie lewensplan wat te veel verskil van die Here s’n? Die Here se plan vir jou gaan nie verander nie, miskien veral juis nie op jou versoek nie en jy wil ook nie jou plan prysgee nie? Dan ontstaan daar mos 'n gaping van onvervulde behoeftes en begeertes. Al wat jy dan kan doen is om of by die Here se plan in te val of om dan maar die Here se plan vir jou lewe te ignoreer (so goed jy kan). Sou dit ook ten diepste beteken dat jy nog altyd die Here wou gebruik om jou plan tot uitvoer te bring. Soos ‘n besigheidstransaksie “Ek sal fanaties fundamentalisties wees, maar dan moet U my behoeftes en begeertes (lewensplan) voltrek? Dit laat my dink aan die gebeure in Efese (Hdl. 24: 13-16) toe die sewe seuns van die priesterhoof Skeva goed deur ‘n besetene van ‘n bose gees gekarnuffel is. Ek dink hulle wou die naam van Jesus vir eie gewin / aansien (hulle moet ge-eer word want hulle het mag oor die bose) gebruik het en was nie werklik christene nie, daarom dat die bose gees hulle aangeval het. Die Here beskerm mos Sy kinders (soos vir Paulus toe hy die waarseêrgees uit die slavin verdryf het – Hdl. 16:16-18) Dit wys tog dat mens nie die Here vir die voltrekking van jou lewensplan kan gebruik nie? Tog moet ons nie hierdie mense as teenstanders beskou nie (al beskou hulle ons so) maar eerder as slagoffers en dan dienooreenkomstig optree.

In Vrede

6 comments:

Henrietta said...

Ek is bly jy plaas hierdie, Yf.Dit is ontstellend om so iets te hoor, né?

Ek bid juis nou saam met twee mense vir hulle geliefdes wat dieselfde oorgekom het, en het verlede week 'n e-pos ontvang oor 'n Amerikaanse pastor wat vertel dat in sy geweste 300 pastore is wat dieselfde oorgekom het . Hierdie pastoor vra of dit "the big falling away" (afvalligheid) van die laaste dae is, wat aan die gebeur is?

In my agterkop hoor ek nog al die jare Oom Gielie Joubert, Ouderling wat saam met Ds ons gekatkiseer het : Eenmaal ’n kind van God, altyd ’n kind van God (en dan daardie mooi verse in Joh 10 vers 28, 29 : Ek gee hulle die ewige lewe, en niemand kan hulle uit My hand ruk nie .... niemand kan hulle uit die hand van My Vader ruk nie... ek het altyd twee Hande so oormekaar gevou gesien, en myself daarbinne...

Liza said...

Yf ek het al baie oor hierdie vraag gewonder en tot die slotsom gekom dat dit in die meeste gevalle, ten spyte van die ge-ykte en vlak verskonings om altyd die kerk of die of daai Christen wat jou seergemaak het die skuld te gee ens., dit dalk eerder ‘n fundamentele probleem is en verband hou met die limitasies wat die Bybel op die mensdom se aksies en leefwyse plaas. Niemand wil meer voorgesê word nie - elkeen wil maak en breek soos wat hy goed dink.

En dan natuurlik ook al die buite invloede soos bv die stortvloed van liberale literatuur en internet forums - alles dra by tot 'n rugdraai op God en die Bybel.

Liza said...

It’s been said, The greatest need in people’s lives today is to discover the true identity of God.” This is because even those that reject God, are usually rejecting a wrong version of who God is. But when you get a glimpse of the true identity and character of God, you just might discover that he’s the God you’ve been looking for all along. - Joshua House

Gideon said...

Ja, soos julle het ek ook al dikwels oor hierdie probleem gewonder, en my in ander mense se koppe probeer indink: Lei ek maar ‘n goeie lewe, maak my eie planne, dan sal God my mos seën met wat ek beplan – want ek lei mos ‘n voorbeeldige lewe.
My eie benadering is redelik eenvoudig: Watse planne God ookal vir my mag hê – dis O.K. met my. Ek weet Hy het my lief, ek is Sy eiendom en Hy beplan die beste vir my. Daarom het ek Hom lief en doen wat my hand vind om te doen sodat Hy geëer en verheerlik kan word. Waarheen dít lei, is in Sy hande.
Juis eergister sit ek en ‘n ou tannie hierdie einste saak en bespreek. Toe sê ek dat ek sien my Vader se hand oral in my lewe. Ek is veilig in Sy hande. En ek dink dat, wanneer ek voltooi het wat Hy vir my bestem het, kom haal Hy my – dan is ek baie beter af as nou. Maar, sê ek vir die tannie, ek dink daar is nog baie wat Hy wil hê ek moet vir Hom doen, want kyk – ek word dan omtrent niks ouer nie, en ek is perdfris en gesond. Dan moet Hy seker nog heelwat planne hê vir my – wat dit ookal mag wees.
Die werklikheid van bose geeste en selfs voodoo, goëlery, toordery en die oproep van geeste het ook ter sprake gekom. Hieroor weet ek verseker: Dit bestaan wel, maar ek het daarvoor geen vrees nie, want ek is God se eiendom en geen bose mag, in watter gedaante ookal, kan enige mag oor my kry nie.
Daarom, Liza, is daardie Engelse aanhaling van jou hierbo baie waar: “People who reject God, are usually rejecting the wrong version of God”. Dit frustreer my só wanneer mense nie kan verstaan dat God elkeen liefhet, want ons elkeen het ‘n stukkie van God in hom/haar – soos ‘n kind iets van sy pa in hom het. Daarom het God ook die sondaar lief – Hy het immers Sy lewe vir ons afgelê terwyl ons nog Sy vyande was (Rom.5:10). Maar mense (weens “gebrek aan kennis” – Jes.5:13; Hos.4:6) fabriseer vir hulleself ‘n “version” van God – die despoot, die slawedrywer, die wreedaard, ens. – en verwerp Hom as sulks.
Dit is óók vir my ‘n hartseer saak as ek dink aan hoe mense God “aanbid” – of liewer gesê: Hoe mense bid (sovêr ek daarvan kennis neem). Mens hoor só min ‘n ekstatiese verwondering oor Hom, ‘n jubelende lofbetuiging aan Hom, ‘n betuiging van opregte liefde teenoor Hom, ‘n onvoorwaardelike oorgawe aan Hom – soos die ou Hallelujalied (no.294) ook sê: “My gees, my siel, my liggaam wy ek aan U, O Heer…. My al is op die altaaar… Aan U deurboorde voete lê ek my, Heiland, neer…”. Soms, wanneer ek nie aan beter woorde kan dink nie, herhaal ek maar daardie woorde – met mening.
Die hartseer waarvan ek praat, is die “gebed” wat hoofsaaklik gaan oor ‘n lys van versoeke. “Gee/doen vir my dit en dat en dit en dat….” So onpersoonlik, so klinies, so verhoudingloos, so selfgesentreerd!! Ai, ai, ai!!
Miskien onthou julle nog die oordenkings wat ek gepos het oor die “Onse Vader”-gebed?
Ja, dit is baie waar: , “The greatest need in people’s lives today is to discover the true identity of God.” Daarom mis hulle ook die vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Rom.12:2 is vir my ‘n kernwaarheid, en dít wat daarop volg is ‘n uitbreiding daarop. Maar, soos Yf sê, mense het mos maar hulle eie planne.

‘Skuus alweer vir die lang asem.

Groetnis.
Gideon.

Yf said...

Dankie vir die bydraes, julle. 'n A-Godis is 'n teleurgestelde fundamentalis / fanatikus? Daarmee onderskei ek natuurlik tussen teleurgeseldes en ander en ek sê nie alle fundamentaliste is fanatisies nie. Maar mens kan ook fundamentalisties/fanaties verkeerd wees en dan Liza se aanhaling.

Pitkos vir padkos:
Because we know that God is faithful...we gain faith and peace
Because we know that God is in control...we gain hope and patience
Because we know that God is good... we gain love and gratitude
Because we know that God is powerful...we gain strength and joy

http://www.anchoryourlife.com/prayer/attrib_study.htm

Vrede vir julle

Henrietta said...

1 Kor 10: 12 sê dat die persoon wat staan, moet oppas dat hy nie val nie - dit hang saam met die afhanklike gesindheid wat Gideon in sy bydrae skets.

In dieselfde perikoop staan (v.14): "Moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie" - verder (v20) waarsku Paulus dat die gelowiges nie met duiwels gemeenskap moet hou nie.

Liza sê in haar eerste posting dat dit verband hou met "limitasies wat die Bybel op die mensdom se aksies en leefwyse plaas". Daar is soveel plekke in die Bybel waar mens gewaarsku word (soos in Ps 1) dat mens in jou hele lewenswandel versigtig moet wees.

In die jare wat ek met kinders en jongmense te doen gehad het, het ek so dikwels gesê : moenie kyk hoe naby aan die afgrond jy kan beweeg nie - bly so vér moohtlik daarvan weg - dink aan wat met Lot gebeur het!