Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/20/2009

Rentmeesters of uitbuiters?


Daar word deesdae baie klem geplaas op die bewaring van die natuur en as gelowiges kan ons geen probleem daarmee hê nie. Dit is immers ons opdrag om goeie rentmeesters te wees van alles wat aan ons toevertrou is. Maar is ons regtig sulke goeie rentmeesters soos wat ons graag sou wou wees? Hier volg statistiek wat my nogals oor daardie ‘goeie rentmeesterskap’ laat wonder.

Die impak van die mensdom op die omgewing was vir duisende jare nie juis noemenswaardig nie, maar met die aanbreek van die Industriële Rewolusie sowat 2oo jaar gelede en die gebruik van swaar tegnologie op groot skaal het die prentjie drasties verander en het spanning begin opbou.

Die opwekking van energie uit steenkool en olie reserwes en die maklike beskikbaarheid daarvan het groot dele van die wêreld vinnig laat moderniseer. Voeg die vooruitgang op mediese gebied hier by en mens kan die bevolkingsontploffing van die afgelope 200 jaar verstaan. Aan die begin van die 19de eeu het die wêreld se bevolking op 1 biljoen mense gestaan. Daarna neem dit 123 jaar om met nog een biljoen te vermeerder, maar slegs 33 later tel die mensdom ‘n volle 3 biljoen! Dit teel al hoe vinniger - slegs 14 jaar later staan die getal op 4 biljoen siele. Nog 13 jaar later op 5 biljoen en toe neem dit ‘n skrale 12 jaar om tot 6 biljoen te vorder in 1999. Vandag, 2009, staan ons glo al 6.784 biljoen sterk en volgens beraming sal die aardbol teen 2012, 7+ biljoen inwoners huisves en van kos moet voorsien.
(Lees verder...)

4 comments:

Liza said...

Die impak van hierdie massas moet mos ‘n negatiewe impak op die aarde hê. En om alles te kroon word 80% van die skade deur 20% van die rykste mense op aarde veroorsaak en die ander 80% streef net so hard daarna om te kom waar die rykes is! En elkeen wil leef bo die ekologiese stelsels van die aarde se vermoeë om ons te kan akkomodeer...Die hartseer gevolg is dat ons al klaar die negatiewe impak op ons planeet kan waarneem bv. lewende spesies wat uitsterf, aardverwarming wat toeneem, seevlakke wat styg, woestynvorming en tropiese siektes wat weer begin kopuitsteek ens. ens...

En so, onder die Here se genade, het die Christelike geloof ook in die afgelope 200 jaar snel gegroei. In die 19de eeu – parallel aan die Industriële Rewolusie – was daar ook ‘n groot opbloei in sendingwerk vanuit Europa en Amerika na die ander dele van die wêreld. Vandag, uit die amper 7 biljoen mense, is rofweg een derde steeds verbind aan die Christelike geloof. Een uit elke drie mense wat op hierdie planeet rondloop sê in elk geval dat hulle ‘n band met die Christelike geloof het. En tog lyk dit of die feit dat een uit elke drie mense ‘n Christen is geen uitwerking het op die vernietiging van die aarde wat aan die gang is nie! Het ons Christelike geloof dan niks te sê ten opsigte van die bewaring van die aarde nie?
Dit bring my nou by die vraag waaroor ek wonder - waarom ons as Christene nie meer doen om die vernietiging van die aarde teen te werk nie? Dit behoort mos vir ons so natuurlik te wees soos om asem te haal... of gebruik ons die “kultuuropdrag” van Genesis 1 as verskoning om die aarde uit te buit?

Henrietta said...

Skokkende statistiek, Liza!

Wat jy sê, hang tot 'n mate saam met wat Michael in 'n ander plasing sê:
"Dit maak nie saak hoeveel industrie ons veroorsaak nie, dit sal altyd afbreek / verbruik / vernietig"...

Liza said...

Dis is so dat met vooruitgang ook aftakeling plaasvind asg van die hebsug en verbruikerisme van die mensdom, maar die Christelike geloof is tog die grootste enkele godsdiens ter wêreld (of is ons dalk nie?) en dit lyk asof ons magteloos staan...? Moet daar nie 'n daadwerklike verandering by die individu self plaasvind nie? Moet ons nie vanuit Jesus Christus as middelpunt oor alles begin dink nie - maw 'n meer sensitiewe christelike kultuur teenoor die natuur kweek nie?

T.S. Eliot bepleit juis dieselfde gesindheidsverandering in sy boek Christianity & Culture vandaar dan sy aanhaling A wrong attitude towards nature implies, somewhere, a wrong attitude towards God soos aangehaal in jou ‘Ons en die Skepping'-draad.

Henrietta said...

Op aanlyn Kerkbode hier: ( http://www.kerkbode.co.za/NuusLees.asp?id=34 ) onder “nuus”-hofie: “Groen Bybellees al flikker rooi ligte”
Volgens dié berig: “Die Bybel en kerk word dikwels daarvan beskuldig dat hulle aandadig is aan die krisis omdat die natuur bloot beskou word as die verhoog waarop die menslike drama afspeel”.

10 Oktober hou die Noordelike NG-kerke ‘n kerkvergadering hieroor.