Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

8/18/2009

'n 'Meerkantige' benadering en nog iets

Ek lees onlangs weer Willem de Klerk se 'Afrikaners - Kroes Kras Kordaaat'. (nadat ek hoor van sy afsterwe)

Ek deel hierdie stukkie wysheid van De Klerk met julle: (bl 25 en 26)

"Vir selfbehoud sal ons ons moet oefen in ander houdinge...Relativisme is om te weet, en dit toe te pas, dat daar twee of meer kante aan 'n saak is. Waarheid, werklikheid, politiek, kultuur, godsdiensstandpunte, geskiedenis, strategie, en die meeste dinge, is meerkantig. Daar is in die meeste dinge nie net een weg en waarheid nie...Die lewe is grys. Die houding van meet en pas en wag, kom verder as 'n houding van gedaan en klaar."

De Klerk sluit godsdiensstandpunte ook hierby in. En dit is 'n insig wat ek al hoe meer vertroetel: die nutteloosheid van dogma, denominasie en die feit dat dinge inderdaard grys is. Mens moet eintlik net jou bek hou, want wie van ons het nou werklik die waarheid beet?

Soos iets wat my nog altyd fassineer: waarom sal God vereis dat ons Hom moet aanbid? Hoekom nie net sy bestaan erken nie? Waarom nou juis aanbid? Richard Dawkins skryf as volg hieroor in sy boek 'The God Delusion' : "What's so special about believing? Isn't it just as likely that God would reward kindness, or generosity, or humility?"

In elk geval: hierdie is my nederige huldeblykie aan Willem de Klerk - as volk sal ons sy bydrae mis.

8 comments:

Henrietta said...

Lekker om jou weer hier raak te lees, Bertus, en dankie vir hierdie stuk wat mens nogal aan die dink sit.

In Romeine 1 is daar lang relaas wat Paulus gee oor hoe God Hom aan die "heidennasies" openbaar. Die 21ste vers het my nog altyd getref: hulle het ge-WEET van God, maar Hom nie as God GEËER en GEDANK nie.

Vir my gee verskillende "kerke" (denominasies?) op verskillende maniere uiting aan hulle "eer" en "dank" aan God.

Wat dié stuk dus volgens my sê, is dat dit nie genoeg is om maar net van God te WEET nie - tot sover my beskeie eerste "stuiwertjie".

Bertus said...

Henrietta, dankie vir Romeine 1!

Vers 20 is God se algemene openbaring by wyse van die skepping. Dit is opsigself iets bokant my vuurmaakplek - dat 'n Wese kan skep.

Dit (die skepping) is wonderbaarlik - maar om Sondae Hom daaroor te loof en te prys - is dit nie 'n bietjie primitief nie? Soos steentydperk mense wat om 'n vuur dans?

Ek was verwonderd toe ek die Ngorogoro krater in Oos-Afrika gesien het - my asem was weggeslaan. My gedagtes was iets in die lyn van: God, U skepping is fantasties. Waarom sal God nou bykomend hiertoe vereis dat ek Sondae psalms sing? Hom aanbid?

Vereis God dit ooit? Het Jesus so iets genoem? Ek stel regtig belang.

Liza said...

Hi Bertus, jou vraag of God dit ooit van ons vereis dat ons Hom moet aanbid het my laat dink aan iets wat Dostojefski in sy roman The Possessed geskryf het - dat die een wesentlike voorwaarde vir die mens se voortbestaan is dat hy altyd voor iets oneindig groots moet kan buig. En as hierdie oneindige grootheid hom ontneem word, sal hy nie oorleef nie en in wanhoop sterf. Die Oneindige en die Ewige, maw God, is so noodsaaklik vir die mens as die planeetjie waarop hy woon.

Simon Weil die Joodse revolusionêr meen ook dat die mens slegs die keuse tussen God en afgodery het, want die gawe om te aanbid is in ons, dis deel van ons ratwerk en dit word gerig of op iets in hierdie wêreld óf in ‘n ander wêreld.

Miskien is hierdie "aanbidding"-ding juis deel van ons ratwerk omdat ons, anders as ‘n dier, na Sy beeld geskape is en dus die vermoë besit om ontroer te kan word deur die ontsaglikheid en misterie van Sy skepping wat dan tot uiting kom in lofprysing en aanbidding... dink maar aan die spontaniteit van Psalm 8.

Henrietta said...

Bertus dankie vir jou vrae: "Waarom sal God nou bykomend hiertoe vereis dat ek Sondae psalms sing? Hom aanbid? Vereis God dit ooit? Het Jesus so iets genoem? "

Oor Jesus en gebed is daar te veel voorbeelde om te noem - ek noem net een: aan die begin van die Lukas-weergawe van die Ons Vader-gebed (Lukas 11) lees ons dat sy dissipels Hom sien bid het. Hulle moes so diep daardeur getref gewees het, dat hulle Hom direk daarna vra : "Here, LEER ons bid..." en dan leer Jesus hulle die "Ons Vader".

Waarom sou Jesus dit doen as dit nie "nodig" was/is nie? En deur die eeue het dit seker die "meesgebidde gebed" van alle gelowe geword!

Die meeste Psalms is geleentheidsliedere, en ek is seker dat Jesus deelgeneem het aan al die Ou Testamentiese feesdae soos dit in sy tyd gevier is, met die spesifieke gesange wat daarby hoort - dus moes Jesus self dit gedoen het.

Ek sien aanbidding en lofprysing nie juis as dinge wat God "vereis" nie - ek dink ook nie dit is SO bedoel nie. Wat myself betref, kom dit werklik spontaan, uit dankbaarheid, as ek dink aan God se liefde en genade wat dag na dag oor my en my geliefdes uitgestort word.

Liza said...

Ek wonder wie mens dan nou moet glo, Jesus wat met groot sekerheid in Joh 14:6 sê “Ek is die weg en die waarheid en die lewe...” of eerder die grys dobberende meerkantige houding van die relativisme wat sê These days there are only one truth and that is that there is no truth wat basies neerkom op wat Dr De Klerk sê met "Relativisme is om te weet, en dit toe te pas, dat daar twee of meer kante aan 'n saak is." ?

Bertus said...

Liza - pragtig gestel, wonderlike literatuur. Thanks!

Liza said...

Bertus ja dis 'n wonderlike stuk literatuur...maar beslis ook nie 'n dooie stuk literatuur nie!

Gideon said...

Eerstens moet ons verstaan dat ons God se skepping/eiendom is. Hy wéét dus wat ons behoeftes is en wat beste vir ons is. In lyn hiermee het Hy bepaalde riglyne gegee.
Tweedens moet ons in gedagte hou wat Sy DOEL met ons was/is: Om ons lief te hê, met ons gemeenskap te hou, en ons liefde te ontvang.
Hy wíl ons lewe wees, en liefdesgemeenskap met Hom is ons lewe. Daarom het Hy vir Adam gesê: “Die dag as jy daarvan eet (as jy My, en My wil vir jou verwerp) sal jy sekerlik sterf.” En Adam en Eva het nie dáárdie dag fisies gesterf nie, maar hulle was die “lewe” wat God vir hulle wou wees, kwyt.
Daarom, omdat Hy ons liefhet, en net die beste vir ons wil (soos ‘n vader/moeder vir die kind) wil Hy hê dat ons Hom erken as ons Vader. Soos “pappa” en “mamma” daardie erkenning en verering graag wíl hoor uit hulle kind se mond, wil God dit ook hoor. Hy wéét die mens wil/moet praat wat hy voel – dit “van sy hart af kry”. Daarom “beveel” Hy Sy kind om te doen wat vir hom die beste is – hy moet as’t ware sê: “Ja, Here, ek voel die kombers van U liefde om my, en kyk, ek wikkel my ook toe daarin”.
Hiervan het Richard Dawkins niks besef nie toe hy gevra het: “What is so special about believing? Isn't it just as likely that God would reward kindness, or generosity, or humility?" Hy het nie besef dat hy die kar voor die perde span nie, want dié dinge moet die RESULTAAT wees van ‘n intieme verhouding tussen die kind en sy Vader.
Bertus se vraag: “…om Sondae Hom daaroor te loof en te prys…” laat my die gevoel kry van mense wat hulle verhouding met God slegs in rituele sien of net tot geleenthede beperk. Terwyl godsdiens-oefeninge in orde is, moet ook dit die resultaat wees van my verhouding met God – ‘n verhouding wat ek elke dag ervaar en in dankbaarheid en aanbidding uitleef – spontane dankbaarheid en aanbidding, soos Hnerieta dit stel.
Die vraag: “is dit nie 'n bietjie primitief nie? Soos steentydperk mense wat om 'n vuur dans?” se antwoord is nogal interessant: Ja, dit ís heel moontlik net soos jy sê, maar wat daarvan – as dit uit jou hart uit kom, in spontane aanbidding en verwondering vir hierdie fantastiese, wonderlike, onbegryplike Vader en God!!
Bertus vra: “Vereis God dit ooit? Het Jesus so iets genoem? Ek stel regtig belang.” Ja, Bertus, daar is heelwat blyke daarvan, maar in Mat.4:10 sê Jesus dit reguit, en bevestig ook daarmee Deut.6:13.
Liza, jy is reg: God hét ‘n stukkie van Homself in die mens ingeënt waarvan die mens nie kan ontslae raak nie – om voor “iemand/iets” wat groter as hyself is, te buig en aanbid. Maar die sonde het hierdie “beeld van God” in die mens só verduister dat die mens homself nou maar voor enigiemand/enigiets gaan neerbuig. God het bedoel dat dit Hy moet wees. Daarom dat Hy ‘n stukkie van Homself in die mens geplant het, soos ‘n kind altyd iets van sy pa in hom sal hê.

Jammer as dit bietjie langasem was. Sal graag wil hoor of ek êrens die bal misgeslaan het.

Groetnis.
Gideon.