Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

8/18/2009

Antjie Krog, Christene en skuldbelydenis

Ek lees tans Antjie Krog se boek 'Country of my Skull'. Wie van julle het dit al gelees?

Vir die wat nie weet nie: Krog het destyds verslag gedoen oor die Waarheids en Versoenings Kommissie se verrigtinge. Die boek is onstellend. Veral as mens besef hoe wreed ons Afrikaners soms was teenoor ons landgenote. (ek was self betrokke by die verrigtinge: en kan nou nog net my kop skud oor die stories wat daar uitgekom het)

Dit val my toe op hoe Afrikaners daagliks nog die ergste rassistiese goed teenoor swartmense kwytraak, hoe baie van ons nog swartmense minag en selfs haat.

By die barbier nou die dag vertel iemand 'n rassistiese grap - en almal lag kliphard. Familielede van my praat nog gereeld van 'kaffers'. 'n Kennis se tiener dogter het onlangs die huiswerker gevloek as 'k...meid'.

Die meeste van hierdie mense is Christene.

Goed, ek weet dat my persoonlike anekdotes nou nie wetenskaplike bewyse lewer van 'n algemene rassistiese houding onder Afrikaners nie, maar ek vermoed dat dit nog wydverspreid voorkom.

Nog 'n familielid sal heel opreg 'n tafelgebed doen, net om later die middag na ete vir almal te vertel dat swartes stink, dat hulle onnosel is, en die toppunt van alles - waar almal goedkeurend klets oor Aids en dat dit 'n oplossing is vir die land se probleme.

Hoe kan ons die oggend in die kerk wees, en die middag tot op die Aids punt vorder, sonder dat iemand erens skree - hokaai! Wat is hierdie rassisme wat veroorsaak dat ons 'n geloofbelydenis die oggend kan prewel, en om dan die middag so op te tree?

Is dit iets wat ons as gelowiges in ons kerke moet aanpak? Moet die dominees dit aanroer? Wanneer gaan ons as volk reg wees vir hierdie gesprek? Of gaan dit met tyd net vanself gebeur? Stem julle enigssin saam dat daar nog steeds iets fout is?

9 comments:

Liza said...

Ja daar is steeds fout, groot fout ook, maar dan beslis nie net onder Afrikaner-geledere nie.

Die klem moet eerder geplaas word op die wedersydsheid van die respek wat ons vir mekaar behoort te hê.

Die selektiewe moraliteit wat duidelik na vore kom in die feit dat daar meestal net kapsie gemaak word teen wit op swart rassisme, terwyl ander vorme van rassisme, soos die "nuwe" rassisme, verdra word is net so 'n onding en behoort met dieselfde passie uitgeroei te word. Christus het immers volgens Galasiërs 3:28 alle grense tussen mense verwyder en sodoende almal voor God gelyk gestel.

Dis ook nie net die kerk wat 'n plig het om rassisme aan te spreek nie, maar dis beslis die ouers se taak ook. Rassisme is immers aangeleerde gedrag en soos die Engelse spreekwoord sê Charity begins at home,moet kinders respek vir ander saam met moedersmelk inkry.

Henrietta said...

Bertus jy vra: "Is dit iets wat ons as gelowiges in ons kerke moet aanpak? Moet die dominees dit aanroer? Wanneer gaan ons as volk reg wees vir hierdie gesprek? Of gaan dit met tyd net vanself gebeur? Stem julle enigssin saam dat daar nog steeds iets fout is?"

Moeilike vrae! Ek stem in hooftrekke met Liza saam. Jy vra of dit net vanself gaan gebeur... ek twyfel.

Dit wil wel vir my lyk of daar soort van konsensus is dat dit "reg" is vir swart mense om rassisties te wees, maar nie vir wittes nie. Van ouens soos Julius Malema kan mens wel dom uitsprake verwag, maar as hooggeleerde mense van aansien soos regter Hlope rassistiese uitsprake maak, is daar érnstig fout...

Dit gee ons "wittes" natuurlik nie die reg om net soos hulle te wees nie... maar gee ons juis geleentheid om ANDERS te wees!

Liza sien julle dit daar by julle ook? Of praat jy van RSA konteks?

Henrietta said...

Wat Zelda Jongbloed oor rassisme te sê het in Die Burger:
http://www.dieburger.com/Content/Rubrieke/ZeldaJongbloed/1884/0b81732d7aea44328a5c03ea71177504/16-08-2009%2011-08/Ons_moet_deurdag_oor_rassisme_gesprek_voer
en ‘n briefskrywer se kommentaar daarop (ek hou nogal van die verskil in betekenis wat hy aantoon):
http://www.dieburger.com/Content/MyDieBurger/Briewe/1645/ea1ad1fa0b0b4992aca03d66821b59bd/18-08-2009%2010-08/Diskriminasie_en_rassisme_verskil

Henrietta said...

Nog 'n artikel (deur Rhoda Kadalie) wat verband hou met rassisme :

http://www.dieburger.com/Content/Rubrieke/RhodaKadalie/2129/a1bb36e5004d4f91a32a092399eb09be/17-08-2009%2011-08/NIE_VIR_SISSIES_NIE_Wit,_bruin,_Indi%C3%ABr_tot_SA_se_nadeel_vervreem_

Liza said...

Henrietta dis 'n wêreldwye verskynsel - was nog altyd. Dink maar aan Hitler, maar gesien in die konteks van Bertus se pos, ja dis maar hier by ons dieselfde - van beide kante af.

Yf said...

Dag Bertus,
wys jou net die verskille in persoonlike persepsies en hoe misleidend dit kan wees. Ek praat ook nou net van diegenene wat ek hoor en sien optree. Uit my perspektief is die blanke nie meer verlede ge-oriënteerd nie. Ons het die nuwe bedeling aanvaar. Die mense wat apartheid herinneringe aan die lewe hou is juis die swartes. Ons wil aanbeweeg, hulle skynbaar nie. Dis die nuwe rassisme. Ook etniese rassisme onder hulle. Maar laat ons nie vergeet nie, hoe lank het ons nie rassehaat teenoor die Engeslman gekoester nie? Dit is nog maar die oorgangsfase. Ons is nie almal op dieselfde plek nie, selfs nie eers op dieselfde pad nie. Persoonlik beleef ek redelike aanvaarding onder my kollegas, met weinige, maar velle uitsondering. Die jammerte is net dat die geslag wat nou grootword gladnie apartheid geken het nie, maar tog ge-indoktrineer word om dit as verskoning te gebruik.

Bertus said...

Sodra sommige blankes op rassisme in hul gemeenskap uitgewys word, sal dit geredelik erken word, maar dadelik ook swartes se rassisme noem. Waarom? Om dit te regverdig? Om beter daaroor te voel?

Ek stel nie voor dat ons ons polse afvreet hieroor nie, en daar is geen mens, volk of groep op aarde wat ook nie geraamtes in die kas het nie.

My gevoel is net dat rassisme onder Afrikaners springlewendig is, meer as die normale dosis vreemdelingvrees of haat wat sekerlik onder alle mense voorkom.

Ek praat van 'n kopskuif onder Afrikaners, iets wat ek self nog nie onder die knie het nie.

Mense wat verwag dat swartes sommer net van apartheid gaan vergeet is onrealisties - dink maar net hoeveel Afrikaners dink met wrewel aan die ABO en konsentrasiekampe.

Om by geloof en rassisme uit te kom - wat ek sal verwag van dominees is om empatie en sensitiwiteit rondom apartheid en rassekwessies te versoen met wat Christus ons leer.

Apartheid herinneringe sal nog vir geslagte aan die lewe gehou word - en in 'n positiewe konteks en opbouende manier kan ek niks daarmee verkeerd vind nie.

Dit is deel van die geskiedenis.

Henrietta said...

Yf, jou stukkie oor etniese rassisme is nogal "in die nuus" : 'n Afrikaanse en Engelse man vat mekaar nou wedersyds in die hof aan, oor hulle mekaar oor en weer sleggesê het as "Dutchman" en "Soutie"...

Bertus, jy is heeltemal reg dat ons as Christene,(en dis ook die kerke) meer hieromtrent moet doen, so moeilik as wat dit ookal is.

Die opdrag en beeld van versoening in Matt 5:22-24 is seker een van die mees onverklaarbare en moeilikste : as ek weet dat my broer iets teen my het, moet die aksie by MY begin, nie by hom nie... Amper iets soos oud-minister Vlok gemaak het...

Gideon said...

Ek stem saam met julle oor die toedrag van sake soos ons dit beleef. Die feit is dat daar rassisme oral in die wêreld bedryf word. Moontlik is die oorsprong daarvan ‘n soort “volks-eie”, “etniese jaloesie”, of wat jy dit ookal wil noem.

Vir die kind van die Here geld egter ander beginsels. “Hulle wat hulle deur die Gees van God laat lei, dié is kinders van God”, en “As iemand sy kruis nie opneem (lees: “as iemand nie kans sien om homself te kruisig/ prys te gee nie…) en agter My aan kom nie, kan nie My dissipel wees nie”. In aansluiting hierby die volgende:
Ek sit en wonder nou die dag oor Filp.4:4 – “Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.” (1953 vertaling: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby”). Toe sit en wonder ek: wat het my inskiklikheid/vriendelikheid teenoor mense te doen met die wederkoms?
Ek dink toe aan wat Jesus vir mense gesê het: (Mat.25:34-40) “Kom, julle geseëndes… beërf die koninkryk… vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” En daar tref dit my: dit is nie die wederkoms wat naby is nie – dies die Here wat naby is – so naby as my medemens, selfs die geringstes. Wat ek aan hulle doen (of nie doen nie – lees Mat.25 verder) het ek aan die Here gedoen.
As ons met hierdie gesindheid na ons naaste kyk en teenoor hulle optree, ook die “geringstes”, sal ons hulle nie kan beledig, weier om barmhartig en toegeeflik te wees nie, mekaar te beskinder of verneuk nie. Die Here is so naby/ver as wat hy van my af is. Sou ek dan nie al te graaaaag vir die Here wou kos gee as Hy honger is, Hom iets gee om Hom warm te maak (byv. op die oorstroomde Kaapse vlakte) of Hom in die gevangenis besoek nie? Dít is immers om vir God lief te hê, en jou naaste soos jouself.
Elke mens, synde geskape na die gelykenis/ewebeeld van God, dra immers ‘n stukkie van God in hom.
Ja, daar behoort oor gepreek te word. As ek mag: Ek kry selfs briewe wat dankie sê vir my “altyd praktyk-gerigte boodskappe”. Darem ‘n riem onder die hart.

Groetnis.
Gideon.