Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

5/08/2009

Om te konfronteer, of nie te konfronteer nie?

Ek weet ons het vantevore al oor “tug” gepraat, maar die “laat-maar-gaan”- houding oor die verkeerde laat my wonder ...... Ek wonder waarom is mense so bang om die waarheid te praat. Die woord kom op soveel plekke voor, en Jesus self word “die Waarheid” genoem. Een van die belangrikste stellings oor die waarheid, word in Ef 4:15 gesê : “speaking the truth in love”. Om die waarheid te praat, kom meesal op konfrontasie neer.
Daar is soveel plekke waar Christene aangemoedig word om ander op een of ander manier te konfronteer, soos bv. 2 Tim 4 : 1-5. Daar word onder andere gepraat van “vermaan”. Van die betekenisse van die woord is “om te eer”, “om gewig of waarde te gee aan”. Dit beteken dat om mense verantwoordelik te hou vir hulle vir hulle optrede, hulle dade, eintlik ‘n manier is om hulle te eer, dat ons hulle so belangrik ag dat ons hulle optrede ernstig opneem. Of wat praat ek als?

3 comments:

Gideon said...

Hallo Henrietta.
Net so hier-en-daar ‘n regstellinkie. Die woord wat vir “vermaan” gebruik word (Grieks = “parakallê-oo”) beteken “nader roep”; “uitnooi”, “vra om te kom help”, ens. In ‘n “tug”-situasie (Mat.18:15) waar iemand moet aangespreek word oor verkeerde optrede, moet dit gedoen word in liefde (Ef.4:15) en “in alle lankmoedigheid en lering”. (2Tim4:2). Jy roep hom as’t ware nader – en nooi hom uit – na die regte insig/optrede. Dié soort gesindheid sal natuurlik nie konfronterend wees nie. Dieselfde gaan vir “weerlê”, waar die waarheid op die spel is. Van die 3 woorde kom “bestraf” (“censure or admonish; by implication forbid: - (straitly) charge, rebuke”) seker die naaste aan konfrontasie, maar dan ook “in alle lankmoedigheid en lering”.
Daarmee wil ek nie sê dat mens alle konfrontasie moet vermei nie. Daar kom tye wanneer jy iemand “met die waarheid konfronteer”, maar ek dink dis by uitsondering. Net soos liggaamstaal, stemtoon, woordkeuse ens. die angel uit ‘n gepsrek kan haal, net so kan gesindheid, deernis en liefde ook ‘n gesprek kleur – en so kan ‘n “konfrontasie” ‘n “nader roep”, ‘n “uitnodiging” word na “die regte weg”.
“Of wat praat ek als?”
Tussen hakies: Die Griekse woord "timah-oo" = "eer", "gewig verleen aan" ens.(o.a. Mat.15:4)
Groetnis
Gideon.
PS: As ek nou dink aan die sg. Geleerde Prof. Cas de Vos (dekaan van UP se Kweekskool) en sy meeloper Prof. Dirk Human se brief aan Adrio König waarin hulle kamma voel soos Luke Watson oor die Springboktrui, voel ek dat uit-en-uit konfrontasie nodig is. Dan is die versoeking ook om die liefde oorboord te gooi.
Ek het Adrio König se betrokke boek "Die Evangelie is op die spel" bestel en dis in die pos. Intussen beplan ek ook 'n kort briefie aan Rapport.

Henrietta said...

Baie dankie Gideon vir die regstelling - dit word opreg waardeer en maak baie sin!

Deels is my nadenke omdat ek moeite doen om te probeer om elke dag na Ds Jannie Pelser se "Nuwe Hart" oordenkings te luister, en die ewige juffrou in my besef HOE belangrik sy veldtog is as mens enigsins verandering wil sien in die gesindhede, norme en waardes in ons land.

Toe dink ek bietjie dieper, en ek wonder : sal die verkeerde sommer vanself regkom, of het ons as Christene een of ander bydrae, hoe klein ook al, om te lewer?

In hoeverre mag ons ander aanspreek ("konfronteer"), en hoe moet ons dit doen?

Ek bid vir jou by die skryf van die brief - ek dink dit is beslis een van die maniere wat mens ander se aandag kan kry.

Gideon said...

Henrietta, jy het beslis 'n baie mooi, goeie punt beet. Dit is waar wat jy in gedagte het: Ons as christene behoort 'n verskil te maak aan die wêreld rondom ons - nie net deur goed te doen en voorbeeldig te wees nie, maar ook om die kwaad teen te werk - deur konfrontasie as dit moet.
My gunsteling in hierdie opsig is Mat.18:15-17 - en alles met die regte doelstelling en gesindheid: tot eer van God.
Dit is interessant dat meeste mense verstaan dit nét as iemand teen jou (persoonlik) verkeerd optree. In werklikheid beteken daardie "teen jou" = in jou teenwoordigheid, binne jou kennis, ens. Dit beteken dat, as ons sonde sien gebeur, of daarvan kennis dra, (="teen jou") en ons spreek dit nie op een of ander manier aan nie, keur ons dit stilswyend goed. Dan plaas ons stilswye/passiwiteit ons outomaties in die beskuldigde bank.
Ek is bevrees die meerderheid christene besef dit nie, of vergeet gerieflikheidshalwe hierdie beginsel wat Jesus self neergelê het.
Die wêreld kon soveel anders gewees het as elke christen-gelowige hierdie goue reëltjie nagekom het. Só moet ons sout vir die aarde wees - bederfwerend en smaakgewend. Maar ons kom ongelukkig meestal die moed kort.
Ek het toe Vrydagnag die briefie aan Rapport ge-e-pos. My hoop is dat almal by die Teologiese Kweekskool sal kennis neem en besluit waar hulle staan - as't ware 'n klip in die bos gegooi.

Groetnis.

Gideon.