Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

4/18/2009

Wenner van 2009 Andrew Murray-prys


In vandag, Apr 17 2009, se Beeld : Kaapse predikant wen boekprys

Dr. Francois Wessels, Kaapse NG predikant, is vanjaar se wenner van die Andrew Murray-prys vir Afrikaanse teologiese boeke.

Die prys is aan Wessels toegeken vir sy boek Wie was Jesus regtig? wat oor die historiese Jesus gaan. ( Lees verder onder opmerkings)

4 comments:

Henrietta said...

Wessels het gister gesê hy wou met dié boek kyk wat ’n historiese ondersoek na wie Jesus was, sou oplewer – of ’n mens nou glo of nie.

Sy bevinding is dat dít wat die kerk oor die jare oor Jesus verkondig het, deur die historiese feite gesteun word. Volgens Wessels wys ’n redelike historiese ondersoek dat ander voorstellings van Jesus afgewys moet word as minder goeie verklarings.

Hy sê Wie was Jesus regtig? is nie ’n tegniese teologiese boek nie, maar eerder ’n boek wat op die denkende Christen gemik is.

Die drie beoordelaars was die afgetrede teoloë prof. Jaap Durand en dr. Nico Smith, asook dr. Schalk van Wyk, ’n predikant.

Hulle het onder meer gesê dat Wessels ’n baie goeie boek oor ’n moeilike onderwerp geskryf het. – Neels Jackson

Liza said...

Die titel van die boek laat my dink aan Philip Yancey se meesterstuk The Jesus I Never Knew. Soos Yancey dit in sy boek stel is die vraag na wie Jesus was ‘n effe gevaarlik vraag omdat die antwoorde wat jy kry wanneer daar ondersoek ingestel word nie so lekker strook met die populêre siening van Jesus wat die meeste van ons in ons gedagtes het nie.

Almal van ons het ‘n prentjie van Jesus waarmee ons grootgeword het via die Sondagskool, kinderbybels, flieks en populêre geestelike literatuur. Die oorgrote meerderheid van die hedendaagse populêre geestelike literatuur bevorder dié tradisionele populêre prentjie - die Jesus met die sagte oë en lammetjie in die arms beeld.

Dis daarom so ‘n bietjie van ‘n skok op die sisteem wanneer jy begin besef wie Jesus werklik was -aldus Yancey.

Ek het nie die boek gelees nie maar sou graag wou weet wat Wessels se antwoord is op dié vraag.

Liza

Gideon said...

Ek sou graag wou tyd maak om albei dié boeke te lees.
Ek het nog nooit as vanselfsprekend aanvaar dat Jesus se persoonlike voorkoms was soos wat dit in die populêre prentjies uitgebeeld word nie.
Eerstens: Jesus het as 'n timmerman se seun groot geword (saam met Sy boeties!) en die timmermanne van daardie tyd het swaar balke gemaak en hanteer, en ander harde werk verrig. Die prentjies wys nogal 'n skralerige figuur. Ek glo Hy was fris gebou, gespierd.
Tweedens: Pretnjies wys Hom met lang hare - sowel as sy tydgenote. Maar nou is dit interessant dat húlle tydgenote, die Romeine, almal met kort hare uitgebeeld word. Verder skryf Paulus, tydgenoot van Jesus en óók 'n Jood soos Hy, in 1Kor.11:14: "Of leer ook die natuur self julle nie dat as ‘n man lang hare dra, dit vir hom ‘n oneer is nie". Dan vra ek myself af: Hoe kon Jesus dan lang hare gedra het? Die langhaarprentjies het dus lankal nie meer vir my geloofwaardigheid nie.
Verder: Jesus hoef nie noodwendig 'n "mooi, aantreklike" man met "sagte oë" gewees het nie. Vriendelik, ja, maar ook onverbiddelik wanneer dit gekom het by "reg of verkeerd".
Laat weet asb. as een van julle intussen iets interessants daar raak lees wat ons kan bespreek.

Groetnis.

Gideon.

Gideon said...

Oja, amper vergeet ek: Dankie Hetta en Liza vir die inligting. Doen so voort asb - julle ouens wie se boeke en internet-toegang skynbaar nie so skaars is nie.
Nogmaals dankie.
Groetnis.
Gideon.