Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

4/17/2009

Oordenking - Ná die Opstanding

SKRIFLESING: 1Thess.4:13-5:11
1Kor.15:50:58

TEKS: 1Kor.15:58: “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning (“KOPOS” = moeite, afslowery, fatigue, laborious toil) in diens van die Here nie tevergeefs is nie”.
Sien verder kommentaar.

2 comments:

Gideon said...

In 1 Kor.15 (en elders) het Paulus baie gesê omtrent die opstanding, en die lewe daarná. In hierdie vers gaan staan hy as’t ware stil en kyk terug oor al hierdie heerlike beloftes van God, en sê dan: “DAAROM…”

Hy wil sê: Geliefdes, kyk net wat ‘n wins, wat ‘n gelukkige situasie het ons te beurt geval: Ons het oor ‘n gapende afgrond gehang, ons was feitlik klaar velrore, en hier het Jesus Christus gekom en ons weer vaste, stewige grond onder ons voete kom gee. Hy het ons weer lig, lewe en hoop gegee – ‘n blye vooruitsig na ‘n ewige heerlikheid saam met God.

Is dit dan nie die moeite werd om te luister na die goeie raad hoe om hierdie beloftes v. God vir jouself toe te eien en jou lewe daarvolgens in te rig nie?

“DAAROM moet julle EERSTENS standvastig, onbeweeglik bly staan op hierdie vaste grond en vashou aan die werklikheid van hierdie beloftes.

Wat beteken dit as die Woord sê dat ons standvastig, onbeweeglik moet bly staan?

Ons weet dat daar van die wêreld se kant af geweldig baie geskud en geruk word aan ons geloof en ons sekerheid van die verlossing in Jesus Christus.

Die Here bedoel dat, as ons hierdie werklikheid sal bedink, en hierdie heilsfeite soos dit in Sy Woord vir ons gegee word, sal bepeins en dit in ons harte beaam, moet ons onsself ook in daardie geloof in-oefen. Só kry ons geloof dan ook iets “eiewys”, iets koppigs en beterweterigs teenoor die verleidinge v.d. wêreld.

Hierdie soort lewenshouding van ten alle koste aan God se beloftes vashou, is nooit nét ‘n saak van denke en redenering nie, maar ook van doen.

Ons word voor ‘n keuse gestel:
Aan die een kant kan ‘n mens erken dat daat ‘n doel, ‘n bestemming, ‘n toekoms (en gevologlik sin) in die lewe is omdat God besig is met die wêreld – en homself dan as medewerker van God laat inskakel,
Of, aan die ander kant,
Hy kan die opstanding én die ewige lewe loën/verwerp – maar daarmee loën hy alle sin – dan het sy hele bestaan sinloos geword.

Ja, só ‘n mens sal nog besig wees om dinge te doen, maar solank dit nie gerig is op God se eer en die ewige lewe nie, het dit alles tevergeefs geword.

Om in God te glo, beteken om dit met jou dade en jou lewenswandel te bewys (Jak.2:18). Liefde tot God bestaan in die doen van Sy wil (Joh.5:2v). Daarmee verdien ons nie iets van God só asof ons ‘n beloning van Hom kan eis nie, maar dat Hy tog vir ons UIT GENADE wil beloon.

Só is goeie werke (d.w.s. die doen van die wil v. God) nie ‘n verdienste nie, maar ‘n bewys van ons liefde vir Hom en ons geloof in Hom.

En in hierdie goeie werke – gerig op die eer van God en die ewige lewe – moet ons gedurig volhard.
Die Griekse woord “PANTOTE”, = “gedurigdeur, die hele tyd”.

Maar ons sê só maklik vir onsself dat, om vir die Here te werk, darem partymaal soveel inspanning is – daar is ander dinge waarvoor ek my kragte met meer vrug kan inspan. Waarom sal ek my afsloof en oor ‘n mik werk vir dinge wat nie harde kontant in my sak kan sit nie?

O, hier het ons weer met díé denkhouding en lewenshouding te make wat maar net op die hier en nou, net op die tydelike lewe duskant die graf gerig is!

Kind v.d. Here: Maak geen fout nie: God het nog nooit ‘n bed van rose en maanskyn vir sy kinders belowe nie. Soos op baie ander plekke in die Skrif lees ons ook hier dat die Here nie doekies om draai nie:
Hy praat van “INSPANNING” wat nie tevergeefs is nie!
Hy praat van “KOPOS” – moeitevolle arbeid, harde werk, afslowery, (“fatigue”, “laborious toil”).

Maar die kind van die Here weet óók dat hy homself nie verniet afsloof nie. As ons die Woord v.d. Here NIE glo NIE, kan ons Hom ook maar afskryf en ons rug op Hom draai.
Maar as ons in Hom glo, dan glo ons ook in Sy beloftes – ons vat Hom op Sy Woord!!

Die geloof in die Evangelie het die permanente veronderstelling dat dit ‘n aktiewe geloof is, dat ons aktief in die wêreld moet bly. Dit is waartoe die geloof ons roep, dit is waartoe die geloof ons bevry – om "GODS"-dienstig te word en te bly – totdat Jesus Christus weer kom - “want kyk”, sê Jesus, “Ek kom gou, en My loon is by my”. (Openb.22:12).
Hebr.6:10: “Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie, én die liefde-arbeid wat julle betoon het vir Sy Naam…”

Geloof in die opstanding het sy resultate in die OPSTANDINGSLEWE – ‘N AKTIEWE GELOOFSLEWE GERIG OP DIE VERHEERLIKING VAN ONS WONDERLIKE GOD, JESUS CHRISTUS, en die ewige lewe.

AMEN & GROETNIS!
GIDEON.

Henrietta said...

Baie dankie vir hierdie bemoedigende boodskap, Gideon. Hierdie Pase het vir my besonder baie beteken, en hierdie stuk van jou is deel daarvan.

Ja dis inderdaad soos Paulus sê: Wat 'n wins! Wat 'n gelukkige situasie! Sonder die opstanding ís ons die mees ellendige van mense - Loof die Here daarvoor.