Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

2/24/2009

Oordenking: Berg van Verheerliking

Ek wil graag sommige boodskappe met julle deel. Enige opbouende kritiek en doodgewone kommentaar sal welkom wees.

"En hier, op die berg van verheerliking, verstaan sy dissipels nog nie dat, om dissipel van Jesus te wees, beteken óók die bereidheid om jou kruis op te neem, die lydensweg te loop, en om gespot en bespoeg te word..."

Lees verder onder opmerking/s.

8 comments:

Gideon said...

SKRIFLESING: MARK.8:27-37; 9:2-9

Ons het nou gekom by dié tyd van die jaar waar ons die geboorte van Jesus Christus herdenk het en mekaar “voorspoedige/ geseënde nuwe jaar” toegewens het. Voor ons lê nou die sewe weke waartydens ons die lyding van ons Here, Jesus Christus gaan herdenk.

By die begin van Jesus se bediening het Hy by Sy doop simbolies die sonde van die wêreld op Homself geneem en daarmee ongeveer 3 jaar vêr gestap na die kruis van Golgota.

Van hier af, hier van die berg van verheerliking af, is Jesus vasberade op pad na Jerusalem toe om Sy taak te vervul op die pad van lyding en selfverloëning. En hier, op die berg van verheerliking, verstaan sy dissipels nog nie dat, om dissipel van Jesus te wees, beteken óók die bereidheid om jou kruis op te neem, die lydensweg te loop, en om gespot en bespoeg te word.

Net ses (6) dae voor hierdie verheerliking op die berg, kondig Jesus reeds aan dat Hy moet sterwe en weer uit die dood moet opstaan. Daarna sou Hy dit nog twee maal sê. By een van hierdie geleenthede het Petrus Hom daaroor berispe, maar Jesus het dit erken as ‘n poging van die Satan om Hom van God se plan te laat afsien en só die kruis te systap (Mark.8:31-33).

Hier op die berg van verheerliking word Jesus se klere skitter-blink-wit, en Hy self ondergaan ook ‘n gedaanteverwisseling. Dit herinner my: Moses se gesig het só geblink nadat hy op die berg met God te doen gehad het, dat hy ‘n sluier oor sy gesig moes sit omdat die volk nie só na hom kon kyk nie.

Die skitterwit klere het hier gedui op Jesus se goddelike, hemelse karakter. Moses en Elia wat daar met Jesus staan en praat, is albei manne wat op ‘n buitengewone manier hierdie wêreld verlaat het – Moses verteenwoordig die wet, en Elia verteenwoordig die profete. Ons weet nie wat hulle vir Jesus gesê het nie, maar ek wil my verbeel dat hulle Hom moontlik bemoedig het met die oog op die moeilike tyd wat vir Hom voorgelê het – ‘n pad van lyding, smarte, en uiteindelik die kruis.

Hier oordek ‘n wolk hulle. ‘n Wolk beteken dikwels in die Bybel die teenwoordigheid van God die Vader. En uit hierdie wolk hoor hulle die stem van die Vader, net soos Johannes dit by Jesus se doop gehoor het toe die Vader Hom met die Heilige Gees gesalf het tot Sy amp as Verlosser van die wêreld: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom!”. Daarmee bevestig die Vader dan ook die goddelike status van Jesus – soos hulle dit alreeds waargeneem het.

Ja, ‘n pad van lyding en smarte wag op Jesus.
Maar Petrus wil nie graag hierdie verruklike oomblikke laat verbygaan nie. Hy wil graag hierdie oomblik van vervoering, van heerlikheid, van God se nabyheid vashou. Hy verstaan nog nie dat ‘n dissipel van Jesus Hom ook moet volg van die berg af na die valleie en klowe daaronder nie – die weg van selfopoffering en selfprysgawe, die weg van kruis opneem en bereidheid om die pad agter Jesus aan te loop nie – die pad van sterwe aan jouself.

Omdat Petrus dít nog nie verstaan nie, wil hy drie hutte bou, sodat hulle hierdie oomblik van verheerliking so lank as moontlik kan behou.

Maar dadelons lees (v.6): “Hy het nie geweet wat hy sê nie”.
Want sien, Petrus is ingenome met die gedagte van Jesus se koningskap en Sy heerlikheid, en hy wil ten alle koste daaraan vashou. Hy is die een wat vir Jesus teengegaan het toe Hy begin praat het van selfverloëning en die kruisdood. Petrus wil homself nie sien in ‘n blykbare verloor-situasie nie.

Hy verstaan nie wie Jesus werklik is nie, of waarvoor Hy na die wêreld gekom het nie.

Dit is só belangrik dat óns dit vandag verstaan. Ja, kinders van God hét hulle bergtop-ervarings – ervarings wat hulle brandstof vir die pad vorentoe kan opvul, ervarings waardeur hulle weer hulle batterye kan laai – hulle geestelik kan versterk en hulle geloofspiere kan laat bult.

Ons sou ook graag ons bergtop-ervarings langer wil vashou en, soos Petrus, hutte wil bou sodat dit langer by ons kan bly.

Maar dit is juis waarteen ons teks waarsku. Ons kan nie op die berg bly nie. Die tyd kom wanneer ons Jesus op Sy kruisweg moet volg: die weg van knegskap en nederigheid. Ons moet leer om lief te hê soos Jesus ons liefhet. Ons moet leer om die verloregaande wêreld deur Jesus se oë te sien. Ons moet leer om met deernis mense uit die vuur te probeer ruk – dikwels met die risiko om gespot, afgewys en/of beledig te word.

Bonhoefer het eenmaal gesê: “As Christus jou roep, roep Hy jou om te kom sterwe”. Daarom het Jesus óók gesê: “As iemand sy kruis nie opneem en agter My aan kom nie, kan hy nie My dissipel wees nie” (Luk.14:27).

Miskien het ons kerke se indrukwekkende geboue, baie geld en swierige administrasie ons verlei om nie meer die pad van gehoorsaamheid, navolging en knegskap raak te sien nie.

Bergtop-ervarings is wonderlik, maar as dit nie tot diens en gehoorsaamheid lei nie, verstaan ons nie wie Jesus is nie.

Lydenstyd is hier, en laat ons onthou wat ons vandag uit hierdie gedeelte geleer het: Jesus is die Seun van God, beklee met heerlikheid en majesteit, maar Hy is ook die lydende Seun van die mens wat vir ons kom ly en sterwe het.

Kom ons volg Hom ook híérin na.

Komende Sondag is weer Nagmaal. Daarin neem ons aan wat Hy vir ons gedoen het. Maar laat ons óók onthou dat Sy pad na die troon van God langs die weg van nederige liefde, knegskap en selfverloëning gegaan het.

Ook dáárin moet ons Hom volg. Dan kan ons ook vir Hom deur die gebruik van die Nagmaal sê: “Here, laat my ook die pad duidelik raaksien waarlangs U vir my geloop het – en langs daardie pad wil ek U volg.”

AMEN.

Yf said...

Dag Gideon,
Verre syn dit van my om kritiek te lewer op iets wat ek self nie so goed sou kon verwoord nie. Maar, miskien net 'n paar gedagtes?

Uit die dissipels se oogpunt kan hierdie ervaring as 'n soort Demaskus-ervaring beskou word? Gegewe die buitengewone aard daarvan?

Waarom juis hierdie drie, Petrus, Jakobus en Johannes? Word hulle nie gesien as die drie leiersfigure in die dissipelkring nie.? Van hierdie drie, simboliseer Petrus nie arbeidsame een vir die saak van die Here nie, (eintlik moes hy dalk die bynaam die 'yweraar' gehad het en nie die ander een Simon nie?); is dit nie die Jakobus wat die bynaam 'die kameel' gekry het nie, omdat sy knieê soos die van 'n kameel begin lyk het van al die gekniel in gebed nie? (Dis intersessie / geestelike oorlogvoering) en Johannes die dissipel van die liefde. Behoort dit nie drie van ons belangrikste karaktertrekke te wees nie? Maar waarom juis hierdie drie? Seker omdat hulle dit nodig gehad het. Die Here Jesus het hulle beter geken as wat ons hulle ken, dis verseker. Hulle verteenwoordig jou en my en soos wat hulle 'n demaskus-ervaring gegun is om later as herinnering hulle in hulle swakheid te versterk, so gun ons Kroon ons ook een. (of meer). Sien Jesus het nie eers die eis van vasstaan in versoeking gestel en toe die Demaskus-ervaring as beloning gegee nie, nee, andersom eers die versterking en toe andersom. Dit weet ek ook uit my eie lewe. Vergelyk ook die verlossing uit Egipte en toe die 10 gebooie, nie andersom as eers die gebooie en as julle dit genoegsaam onderhou sal ek julle verlos nie. Hier is natuurlik dan nou 'n getuienis geleentheid betreffende mens se eie Demaskus-ervaring.

Maar genoeg van mense, Moses en Elia is gestuur om Jesus te bedien. Die gestuurdes is tog sekerlik ondergeskik aan die persoon na wie hulel gestuur word. Soos jy tereg sê, die verteenwoordiger van die Wet en die profete is dus ondergeskik aan Jesus. Die Wet en die profete het minder waarde as Jesus - eintlik geen waarde nie, in vergelyking met Jesus.

Maar laat ons nie te gou afsien van die Joodse ingesteldheid van die Wet en die profete nie. Vir baie van ons is ons tradisie en dogma ons Wet en allerhande hedendaagse uitsprake deur werklike en sg. kenners oro Christus, die Bybel en geloof, ons profete of ten minste gesaghebbende = 'profetiese' uitsprake van diesulkes.

Ja, Gideon ons kan nie voorskriftelik wees nie, net uitnodigend. Vandag het ons weer 'n keuse vir wie ons vil dien, Jesus of Moses en Elia. Maar Christus gee (al daai tekste) terwyl die Wet en die profete EIS. Hoe kan mense dit nie insien nie, Gideon? Dat hulle kies om eerder onder sie sweep van die Eis wil wees as onder die Genesende Hand?

Vrede en nabyheid vir jou, Gideon!

Gideon said...

Hallo Yf, en dankie vir jou interessante opmerkings.

Ek sou nie hierdie as 'n Damaskus-ervaring vir die dissipels beskou nie. Paulus se ervaring op die Damaskuspad was immers 'n totale, radikale ommeswaai van die doel wat hy nagestreef het. Die fokus op die berg van verheerliking (ek moes genoem het dat die Skriflesing uit Mk.8 was bloot agtergrond) was
1. bevestiging van Jesus se goddelike/hemelse karakter/status, en
2. die dissipels se "verstaan nog nie" die pad wat Hy moet loop en wat hulle sal moet volg nie.

Waarom daardie 3? Ons mag seker maar raai. Ek sou sê:
1. Petrus (die immer-haastige, "voor-op-die-wa-ou") is die een wat darem al sover gekom het om te sê "U is die Christus".
2. Jakobus ("kameelknieë"), Jesus se broer; en
3. Johannes, "apostel van die liefde", wat homself telkens geïdentifiseer het as "die een vir wie Jesus liefgehad het" (Joh.13:23; 20:2; 21:7,20).

Simon die Yweraar was meer begaan oor die politieke bevryding van die Jode.

Ek stem saam oor die beginsel soos in die 10 gebooie: Eers gee God die grond vir dankbaarheid (Ek het julle uit Egipte verlos) en dan lê Hy die pad van dankbaarheid uit in die 10 gebooie.

Ja, dankie vir die verdere stof tot nadenke. Baie interessant.

Groetnis.
Gideon.

Henrietta said...

Baie dankie, julle manne, vir heerdie geestesvoedsel - dit het diep getref! In die Ou vertaling staan , by hierdie geleentheid, toe Petrus opkyk, sien hy "Jesus alleen." Andrew Murray het daaroor 'n kosbare boekie geskryf "Jesus alleen" met 'n maand se oordenkings .

Wat my weereens hier en op ander plekke oor en oor tref, is dat dit aan bepaalde mense gegun word om sekere dinge te "sien" en te ervaar, wat ander nie meemaak nie. Ek dink hier aan waar Paulus die Stem uit die hemel gehoor het (terwyl Yf nou van Damaskus praat!). Ook Simeon, wat die Baba Jesus in sy arms neem en onmiddellik weet Wie Jesus waarlik is. Ook met Jesus se doop, die Stem uit die hemel. Stefanus toe hy gestenig is... Elisa en sy slaaf ...

Mag die Here vir ons ontvanklik maak vir watter manier Hy ookal gebruik om sy Heerlikheid aan ons te openbaar!

Henrietta said...

Hierdie stuk het my ook herinner aan 'n Engelse lied , waarvan die woorde hierop neerkom : Die God van die bergtop ervarings, is ook die God wat by ons is as ons in die dieptes van die valleie van ons lewens is... Hy is ALTYD, ORAL, BY ONS! IMMANUEL!

Henrietta said...

http://www.scribd.com/doc/56674/THE-GOD-OF-THE-MOUNTAIN

Hier is die woorde van die lied

Liza-Nel said...

Lyk my soos wat dit nou maar met alles gaan is daar ook bespiegelinge oor waar die Berg van Verheerliking nou sou wees.

Sommige historici reken dit was die berg Tabor met sy drie kerke/hutte wat gedurende die sesde eeu daar opgerig is terwyl ander meen dit moes beslis die berg Hermon wees aangesien dit die hoogste berg in Palestiena was en die naaste aan die dorp Caesarea Philippi waar Jesus hom gedurende daardie tyd bevind het.

Liza-Nel said...

Miskien wou Christus ook hier aan sy geliefde drie dissipels en veral aan Petrus wie pas vantevore 'n teregwysing van 'wyk Satan' moes aanhoor 'n blik gee op wie Hy werklik was...?