Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

1/10/2009

'n Meulsteen om die nek is beter...

Ons het al in ander plasings hieraan geraak: tot watter mate is ons verantwoordelik vir die geestelike welstand van ander? Iewers het Yf geskryf mens moet pro-aktief wees, eerder as re-aktief. Lees verder by opmerkings

14 comments:

Henrietta said...

Daar is 'n hele paar plekke in die Bybel waar daaroor gepraat word. Beelde soos herders van kuddes en wagters wat mense moet waarsku word gebruik. Twee plekke waar ek vinnig aan kan dink, word dit nogal in baie sterk terme aangespreek: In Eseg 33 word gesê dat die wagter self verantwoordelik gehou sal word indien iemand iets sou oorkom terwyl die wagter nie gewaarsku het nie (m.a.w. voorkomend opgetree het nie).

In die NT praat Jesus self daaroor, (Mat 18:6)en sê dat dit beter sal wees om 'n swaar meulsteen om mens se nek vas te maak en in die diep see te spring as om iemand van die geloof afvallig te maak - nogal drasties na my mening !

In 'n kommentaar oor Mat 18 lees ek: "A discipel must treat the weakest person with respect, not as a thing to be manipulated....Any terrible physical punishment would be preferable to the spiritual upsetting of others... "

Laat mens nogal dink, né?

Yf said...

Hallo Henrietta
Soos jy al gesê het, "waar is jou broer?" Bedoelende geestelik en by implikasie, wat het jy gedoen of nagelaat om te doen, dat jou broer daar beland het?

As jy weet die brug is weg, gaan jy tog nie net daar staan en as hy verby ry, net vrolik wuif en skree 'Dit was goed en lekker om jou te ken nie!' en 'n soentjie waai soos hy oor die afgrond ry nie? jy gaan hom mos probeer stop?

Dis 'n beeldenis.

Ons het 'n verpligting - 'n etiese en geestelik plig om dit te doen, ten minste te waarsku, sodat die reisiger ten minste 'n ingeligte besluit kan neem.

Party mense is natuurlik ao op pad oor die afgrond en kan nie meer waarsku nie, of wil nie, omdat hulle om den dode nie wil erken dat hulle dalk verkeerd mag wees nie (eie eer en status, jy weet) of omdat hulle dink hoe meer mense daar afstort, hoe lekkerder sal dit wees omdat hulle dan nie alleen sal wees nie.

Diesulkes sê natuurlik daar is geen gevaar nie, die afgrond wat ons sien is net 'n illusie. Maar my vraag is: As hulle reg is, wat het jy verloor deur versigtig te wees en deur self die situasie te ondersoek het? 'n Breukdeel van jou hele lewenstyd. Maar as hulle verkeerd is en jy het net voortgestorm, net om nie daai breukdeel van jou lewenstyd nie te verspeel nie, wat dan? Gaan jy eerder op iemand vertrou wat sê "kom man, kom join ons!" of gaan jy liewerster op iemand vertrou wat sê: "Wag eers, ondersoek eerd die dinge (uitsprake en oortuigings) en neem dan jou eie ingeligte besluit, sonder om aan jou neus gelei te word?"

In vrede

Henrietta said...

Dankie vir jou gewaardeerde reaksie, Yf. Meer as een keer praat jy van "ingeligte besluit".

WAAR kry mense vandag hulle inligting? Daar is soveel "stemme" wat skreeu : "Luister na my!" Na watter een van hierdie duisende stemme moet mense luister?

As "hooggeleerde mense" soos moderators/oud-moderators/professore aan Universiteite, sekere uitsprake maak , gaan daar mos mense wees wat na hulle luister?

Liza-Nel said...

Henrietta wat my verstand te bowe gaan is, en soos wat ek nou onlangs elders gelees het van 'n persoon wat skynbaar 'n teoloog is en sy geloof verloor het, maar hom dan na 'n oorwegend ateïstiese webwerf wend om hulp - om sy verlore geloof terug te kry...???

Self-kastyding? Of hoop hy die antwoorde sal hom terug skok tot in sy geloof in...?

Mart said...

St. Francis from Assisi said:

“We must convince the world of Jesus Christ and only, if really necessary, use words.”

Liza-Nel said...

Henrietta jy vra tot watter mate ons verantwoordelik is vir die geestelike welstand van ander? - ek sou se in so verre dit my naaste aangaan, dis hoe ver my verantwoordelikheid strek. En nou sal mens kan vra maar wie is my naaste? - miskien ‘n draad op sy eie werd - HAT reken ‘n naaste is iemand "wat die digste tot iemand staan; my naaste familie; my naaste vriende; intiemste" ek sou ook my medegelowiges in my gemeente en diegene met wie ek daagliks te doene kry hierby wil voeg. Dit is hoe ek die term naaste verstaan. Dus is iemand wat ver van my staan, diegene met wie ek nie persoonlik te doene kry nie eintlik my saak nie...

In Joh 15 : 12. vermaan Christus sy dissipels om mekaar lief te hê. Hy beveel dit nie ten opsigte van buitestaanders nie, maar wel aan die intieme kring van sy dissipels! Dit is duidelik in die verband van die teks dat dit net bedoel was vir hierdie intieme kring, want Jesus noem die Fariseërs en die Sadduseërs addergeslag en dit nogals voor die gehoor van die destydse teoloë. Dit getuig tog nie van liefde bloot in die horisontale betekenis van dié woord nie of hoe?
Verder skrywe Paulus in 1 Kor 13 oor die liefde. Hy skryf nie aan elke Jan Rap en sy maat nie, maar slegs aan medegelowiges. Daar is nog talle ander verse ook in die Bybel te vinde wat die term omskryf, maar ek hou eers by genoemdes.

Dis maar hoe ek dit vir myself uitmaak, miskien is ek heeltemal van die spoor af - beskou my dan as ‘n naaste en help my reg... :)

Liza

Mart said...

“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? ...of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” 2 Kor 6 : 14 en 15.

Gideon said...

Lyk my hier is ‘n bietjie verwarring van kontekste.
1. Die draad se naam dui op iemand laat struikel (Mat.18:6),
2. die bespreking gaan hoofsaaklik oor “liefde”, en
3. “wie is my naaste?” – Familie? Vriende? Kontakte? Medegemeentelede? Ens. Lg. bring naturlik ook die vraag van kerklike tug in gedagte.

Henrietta bring die hele lot mooi bymekaar met die vraag: “Wat is my verantwoordelikheid?” Daarby kom ook Yf se aangehaalde opmerking dat ons liewer pro-aktief as re-aktief moet wees. Maar dan moet ons dit nie opneem dat die een die ander uitsluit nie. Altwee hoort gewoonlik bymekaar.

EERSTENS: In Mat.18:6 praat Jesus oor die “kleintjies” (in die geloof) wat tot struikeling gebring word. Die Jode het ‘n doodse vrees vir verdrinking gehad omdat dit nare konsekwensies sou hê vir sy nagedagtenis, sy reputasie, nageslag ens. Nou sê Jesus “dit sou beter wees” – m.a.w. iets vreesliker wag vir jou as jy so iemand sou laat strukel / “van My afvallig maak” / afstoot. (Interessant ook dat Hy ‘n donkie-meulsteen stel in kontras met die meer gewone hand-meulsteen).

TWEEDENS: Ons naaste LIEF HÊ… In al die (7) gedeeltes waar dit beveel word, word die “AGHAPÊ”-liefde gebruik. Dit is onderskei van die ander twee – die EROTIESE en die BROEDER-liefde. Dit beteken ek moet die ander se belange beskerm/bevorder / nie my eie belange bo syne stel nie. M.a.w. ek moet die liefde van God teenoor my naaste uitleef.

DERDENS: Maar wie is my NAASTE? Toe die wetgeleerde Hom dit vra (Lk.10:29), antwoord Jesus met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan – ‘n algemeen-veragte – wat dié wat hom gewoonlik verag, se belange eerste stel. Ek verstaan dat elke mens wat op twee bene loop na die beeld van God geskape is, en daarom is hy/sy my naaste. Daar is geen Skrifgetuienis vir ‘n ander verstaan nie.

Dit alles beteken dat ek (soos Paulus dit stel), “…verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.”(2Tim.4:2). Dít is beide pro-aktief en re-aktief. Die kerklike tug (‘n onderwerp op sy eie) is hierby ingesluit en, na my mening, grootliks beperk tot die gemeente.

Daarom, liewe Liza, kan ek nie met jou saamstem dat "...iemand wat ver van my staan, diegene met wie ek nie persoonlik te doene kry nie eintlik my saak nie..."

In Joh 15 : 12. waar Christus sy dissipels vermaan om mekaar lief te hê, kan ek nie sien dat Hy met hierdie opdrag buitestaanders uitsluit en só die algemene gebod van liefde onklaar maak nie.

Mart, jou laaste aanhaling hierbo het natuurlik te doen met die "saam-doen" met die ongelowiges.

Groete.
Gideon.

Henrietta said...

Dankie vir die mooi duidelike uiteensetting Gideon! Hierdie plasing is begin omdat dit my diep ontstel dat daar by sommige leiers (en opleiers) in my kerk (NG kerk) skynbaar nie erns gemaak word oor hierdie dele in die Bybel nie.

In ons eie gemeente het goeie vriende van my se seun sy teologiese studies opgeskop, omdat hy nie meer kon saamgaan met wat hulle daar geleer word nie... die hele gesin het maandelank 'n stryd deurgemaak.

Die meeste jongmense is naskools nog so kwesbaar, veral as hoge professore en doktore allerhande interessante dinge te vertel het, en wie is "pa en ma" dan nou , in vergelyking met hulle?

Moet 'n mens nou maar stilbly en hoop iewers gaan iemand "hoër op" iets aan die situasie doen, of wat doen 'n mens? WIE se verantwoordelikheid is dit om "wagters op die mure" (by wyse van spreke) te wees?

Gideon said...

Henrietta,
ek baklei al jare lank oor sekere dinge, soos die nuutste Bybelvertaling wat op plekke 'n uit-en-uit 'n Roomse sakramentalisme in die Bybel in vertaal het. (As jy my stuk wat ek daaroor geskryf het wil hê, kan ek dit vir jou per e-pos aanstuur). My laaste brief was aan een van my kweekskool-professore want ek het gehoor hy is op die vertalingskommissie van die komende nuwe vertaling. Geen een van my briewe aan die Kerkbode is ooit gepubliseer nie. In ons huidige gemeente het ek 'n finalejaar kategeseklas bygewoon ("ingesit") waar 'n DVD vertoon is waar een of ander Amerikaanse pastoor gesê het dat die heiense gelowe het ook maar 'n "redder" wat uit 'n maagd gebore is ens. ens. Ek daarteen beswaar gemaak - ook dat daardie klas se enigste kategese bestaan het uit (hoofsaaklik) Amerikaanse DVD's. Uiteindelik het ek die kerkraad oortuig en vanaf hierdie jaar gaan die goedgekeurde kategesemateriaal gebruik word. Een mammie het vir my gesê as dit nie hierdie jaar verander het nie, gaan sy haar finalejaar-seun in 'n ander gemeente laat katkiseer.

Sover professore betref wat dwaalleringe verkondig: Onthou die Satan is 'n super strategis, en doen alles in sy vermoë om mense die leuens te laat glo.
Die mense wat hy gebruik sal uiteindelik aan God moet rekenskap gee dat hulle die "kleintjies" wat in Hom glo, afvallig gemaak het. Maar helaas, die Woord sê duidelik dat dit sal gebeur.

Ek sal egter nie uit die speelveld uitstap om vir 'n plekkie te gaan soek waar satan blykbaar aan die slaap is nie. Ek verkies om te wees waar hy aan die werk is en waar my pogings (nie van die kantlyn af nie) 'n verskil kan maak.

Groete vireers.
Gideon.

Henrietta said...

Gideon, waarom dink ek skielik aan die uitdrukking "Gideonsbende? " -en aan alles wat Gideon die rigter gedoen het? Dankie vir jou gewaardeerde bydrae - dit is so bemoedigend!

In Handelinge 4 is die dissipels aangesê om stil te bly, maar hulle het geantwoord dat dit vir hulle onmoontlik was om nie te praat nie... Vir my voel dit ook in die tyd waarin ons nou lewe, dat dit onmoontlik is om stil te bly.

Dankie vir die aanbod: Ek stuur vir jou 'n e-pos adres waar jy die stuk oor die Bybelvertaling aan my kan stuur.

Gideon said...

Baie dankie Henrietta - ook vir jou plasing "The Old Paths" onder "Poësie". Waardeer die riem onder die hart.

Liza-Nel said...

Gideon:- Ek verstaan dat elke mens wat op twee bene loop na die beeld van God geskape is, en daarom is hy/sy my naaste. Daar is geen Skrifgetuienis vir ‘n ander verstaan nie.

Goed maar hoe rym die volgende verse dan met "naasteliefde"?:-

In Mattheus 18:15 sê Jesus dat as my broer nie wil luister na die herhaaldelike vermanings nie, dan moet hy vir my wees soos die heidene en die tollenaars. (Dis wat ek bedoel het met "diegene wat ver van my staan".)

In Psalm 139:21 staan: "HERE, sou ek nie dié haat wat U haat, en 'n afsku hê van dié wat teen U opstaan nie?"

Miskien verduidelik die volgende aanhaling uit 'n kerkblad dit beter.

Daar bestaan 'n antitetiese distansiëring in die samelewing. Dit raak die valse eenheid waarmee ons nie mag saamgaan en aan saambou nie. Maar daar bestaan ook 'n bloot horisontale liefde ten opsigte van "naastes" wat deur die Here op ons weg geplaas word. Dit is nie alleen die kringe waarbinne die liefde betoon moet word, wat onderskeibaar is nie, maar ook die grondbegrippe van liefde met sy onderskeie skriftuurlike kontekste. Dit bly, soos die liberaliste dit wil interpreteer en toepas, buite beskouing.

Gideon said...

Liza, jy het 'n geldige vraag. Hierdie gedeelte praat spesifiek van jou broer (in Christus) gestel teenoor 'n heiden.

Vir my verstaan het hierdie gedeelte te doen met die christene onderling (kom ons noem dit die gemeente).

Met die "afsnyding" van 'n lidmaat wat bewys het dat hy geen erg aan God en sy gebod nie, word hy wel nie meer beskou as deel van die gemeente ("die liggaam van Christus" / geloofsgemeenskap) nie. Maar aangesien my verantwoordelikhede om te verkondig, weerlê, bestraf, vermaan teenoor almal ewe geldig is, sluit dit geen "heiden" uit nie - m.a.w. my bearbeiding van die een wat afgesny is, hou nie op wanneer ek hom moet beskou as 'n heiden nie.

Sover die "haat" aanbetref: In Mat.5:43 sstel Jesus die liefde en haat teenoor mekaar. Strong se woordeboek stel dit o.a.: "by extention: to love less". m.a.w. dit getuig nie van 'n persoonlike, aktiewe haat wat die ander gaan te na kom nie, maar tog nie dieselfde liefde nie. Sien hiervoor Luk.14:26; Rigt.14:16. Ek veronderstel dieselfde is waar in die geval dat God vir Jakob liefgehad het, maar vir Esau het Hy gehaat.(Rom.9:13) Nie in een van hierdie gevalle - in die lig van die res van die Skrif - rym dit met 'n persoonlike, onchristelike haat nie. Lyk my dat ons net moet versigtig wees met die betekenis van woorde (veral in vertalings) wanneer dit blykbaar in stryd is met die gees van die Skrif en God se liefde vir alle mense.

Hoop ek was duidelik genoeg. Sê maar asb. as daar nog 'n "twyfel" is wat ons moet opklaar - dan gaan soek ek nog bietjie verder.

Groetnis eers.
Gideon.