Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

12/23/2008

'n Vakansie van God

Hi almal,

Die afgelope ruk neem ek as't ware vakansie van God, van die kerk en Bybelstudie. Dit was nie 'n bewuste besluit nie, ek het van hierdie 'toestand' letterlik eers gisteraand bewus geword.

Eweskielik was my gebed gisteraand weer meer 'opreg', dinge het net weer meer 'oop' gevoel. Minder agtergrond geraas.

Ek vermoed dat ek besig is om te ontspan, en dat my geloofslewe as gevolg daarvan nou weer in kwaliteit toe neem.

Nou wonder ek: is 'n vakansie van God dalk nie op sy tyd die regte voorskrif vir 'n 'flat' geloofslewe nie? Dalk sal ek binnekort weer so 'n wegbreek skeduleer?

Wat dink julle?

14 comments:

Mart said...

Hi Bertus

Jy het 'n interessante draad oopgemaak. Daar is net iets wat ek nie verstaan nie. Wat beteken dit vir jou om "'n vakansie van God te neem"?

Ek wil eers presies verstaan wat jy bedoel voordat ek reageer.

Groete
Mart

Mart said...

Jy sê jy breek nou bietjie weg van die kerk en Bybelstudie. Bedoel jy dus dat jy op die oomblik net bietjie ontspan en nie nou aan godsdiensaktiwiteite deelneem nie, Bertus?

Michael said...

Hallo Bertus,

Lekker om weer van jou te hoor. Hoop dit gaan sommer voor die wind.

Ek moet erken dat ek dink ek weet waarvan jy praat. Dit is iets wat my gereeld oorkom. Baie van my "vakansie ervarings" is gebore uit 'n onmoontlikheid om sin te maak uit die tradisionele beginsels van Bybelstudie en kerk aktiwiteite.

Wat ek op die oomblik ervaar terwyl ek ontspan en terugkyk op die jaar is 'n snaakse hunkering na 'n ervaring wat "inpas" by die tradisionele. Dit is nog 'n ongedefinieerde gevoel, maar dalk kan hierdie gesprek my ook help.

Groete,
Michael

Mart said...

Hallo Bertus en Michael,

Dit bly vir my moeilik om te verstaan hoe mens vakansie van God neem.

Die breek van Bybelstudie en kerkaktiwiteite is verstaanbaar, maar nie die brekie van God nie.

Ek weet ons gaan nou lekker hieroor debatteer, maar dis ook okay. God is altyd oral in jou "hart". Om die waarheid te sê, het ek al juis verwyderd van God gevoel as ek in die kerk sit en 'n swak preek hoor!

Verder kan ek dan volgens hierdie argument juis verstaan dat jy, Bertus, 'n dieper geestelike ervaring in die vakansietyd beleef, juis omdat jy nie met kerkaktiwiteite besig is nie.

Nou gaan ek koes, maar ek het al soms gevoel dat die mensgemaakte (ook kerklike) aktiwiteite my oog van die bal afhaal...

Groete
Mart

Bertus said...

Hi Mart en Michael,

My 'vakansie' is dalk eerder van kerkaktiwiteite as van God self.

Michael, jy verwoord presies wat ek voel, ek sukkel soms om sin te maak van my Bybel en dies meer, my gebede voel afgesaag en dies meer.

Mart, jy slaan ook die spyker op die kop, en daarom het ek 'n voorneme om op ander plekke/maniere my geloofslewe volgende jaar uit te brei. Georganiseerde geloofsaktiwiteite doen dit soms net nie vir my nie.

Ek is seker nou tipies 'new age', maar ek soek iets anders, 'n ander belewenis.

'n Vakansie van God beteken ook dat ek 'n ruk terug niks meer te se gehad het vir God nie, moeg dieselfe goed gebid, so 'n bietjie opstandig ook.

Twee dae in die tuin werk het egter my kop weer goed skoon gemaak.

Mart said...

Bertus, ek verstaan nou PRESIES wat jy bedoel. Dit het niks met "New Age" te doen nie, maar eerder met 'n sekere behoefte, verwagting en uitkoms wat my dikwels teleurstel. So 'n paar dae in die tuin doen dit vir my ook.

Hierdeur sê ek nie dat God my nog ooit teleurgestel het nie. Dalk gaan dit by my eerder oor die ander mense in my geestelike lewe, veral by my kerk, wat my gruwelik teleurstel. Dan begin my kop ook soos joune na ander weivelde toe staan, as jy verstaan wat ek probeer sê...

Groete
Mart

Henrietta said...

Ek het baie lank terug, ook in 'n tyd toe ek so "afferig" gevoel het, 'n boek van Martin Loyd-Jones (spelling??) in hierdie verband gelees : "Spiritual Depression" wat baie vir my beteken het. As ek reg kan onthou, was een van die hoofstukke oor "God se gimnasium" en is dele uit Hebr 12 (o.a. dié deel oor "rig die slap hande en verlamde knieë weer op" bespreek.

Ook Ps 42. Wat vir my so wonderlik was in daardie tyd, is dat ander mense in die Bybel ook dieselfde ervaar het, en dat dit "normaal" is, dat die Here dit verstaan EN dat daar raad voor is!

Michael said...

Hallo Mart,

Ek dink dat voor ons 'n debat het moet ons vir ons gesprek eers die begrip "Vakansie van God" baie beter ontwikkel. Naas ons elkeen se gevoel moet ons tog probeer om goeie definisies op die tafel te sit voor ons van mekaar verskil.

Daar is baie in jou siening waarmee ek wel saamstem, Mart. Dit is baie moontlik baie naby aan wat ek bedoel as ek oor "my vakansie definisie" moet dink.

Groete,
Michael

Mart said...

Bertus, wat is die moontlike opsies as mens voel dat georganiseerde geloofs-organisasies dit nie meer vir mens doen nie? Het jy al daaroor gaan dink?


Michael, dit lyk vir my asof ek nie my definisie van 'n "vakansie van God" hoef te gee nie, want dit blyk dat ons almal van presies dieselfde konsep praat, of maak ek 'n fout?

Groete
Mart

Michael said...

Hallo Mart,

Baie geseënde kersfees vir jou en jou mense ook!

Dit is baie moontlik dat ons almal die "vakansie" op sekere vlakke dieselfde sien en op ander vlakke anders. Dit is wat dit 'n gesprek vir ons kan maak.

'n Dimensie wat ek sal wil byvoeg is die feit dat ek met tye voel asof ek soos Noag leef in 'n tyd waar die massa inligting wat my gedagtes tref "net verdien om deur God verdoem te word". Ek dink dit nie in terme van myself as heilig en verhewe nie, want so baie keer is my eie gedagtes deel van daardie "doemwaardigheid". Tog is daar binne my 'n "Vrome Noag" wat op "die ark-van-christus" vertrou om deur die storms doemwaardigheid probeer kom.

Dit het dalk min tot niks met die onderwerp te doen, maar dit is die gedagtes wat nou by my opgekom het oor hierdie onderwerp.

Groete,
Michael

Elna said...

Een van die mees-interessante aspekte van hierdie blog - vir my - is die tyd van die dag wanneer mense blog...:-) Hoe's dit dan dat (net) ek nie daai tyd van die dae tyd het vir die dinge nie!? Vandag het ek egter ’n tydjie. Ons is almal in ’n laer rat.

Mbt die vakansie-neem-van-God is my bydrae 'n beskeie een. As mens intens betrokke is in 'n verhouding is dit nodig om weg te breek twv perspektief. En tydens daai wegbreek lees of luister jy nou nie noodwendig weer oor verhoudinge nie. jy doen die heeltemal ander ding, is't nie?

Institusies is meestal mensgemaakte organe deur mense bedryf. En mense stel teleur. Moet tog asb nie op prinse vertrou nie!

Mart said...

Elna,
Ag, ons skryf maar op die blog wanneer ons tyd kry - enige tyd van die dag, of nag! Solank jy soms hiervoor tyd kry, is dit 100%!

Ek stem saam met jou dat mens nie "op prinse" moet vertrou nie. Verder hoor ek ook wat jy sê met die perspektief wat mens kry as jy bietjie wegbreek van 'n verhouding af. Dis dalk presies wat Bertus ook hier sê.

Groete
Mart

Gideon said...

Mart, toe ek Bertus se vraag lees en jou antwoord daarop, toe vat jy die woorde so mooi uit my mond/klawerbord uit.
Bertus, Martie hét die spyker op die kop geslaan: Om vakansie te neem van God en om vakansie te neem van "kerklike aktiwiteite" is vir my twee heeltemal verskillende dinge. Om lg. 'n bietjie te laat links lê kan jy wel 'n "vakansie" noem.
Ek voel ek is in 'n permanente verhouding met Hom - wat onaangeraak bly of ek nou moeg is ná 'n jaar van harde werk, of wat ookal. In daardie verhouding voel ek geborge en dit bepaal hoe ek dink, doen of praat.
Miskien moet mens kyk na hoe jy daardie verhouding hanteer. Ek vra myself soms af of ek toelaat dat kerk en/of samelewing dit vir my voorskryf. Miskien sien ons ons christenskap as 'n stel reëls wat moet nagekom word en wat ons dan "geestelik moeg" maak?
Moet ons nie liewer ons verhouding met die Here sien as dié een plekkie van rus en vrede, die een skuilplek te midde van die storms, dié plek waar ek weer my batterye kan gaan laai, en waar ek nie 'n stel reëls het om na te kom nie? Dáárvan sou mens mos seker nie vakansie wou neem nie?
Miskien moet ons soms wanneer ons op ons knieë gaan maar net vir Hom sê: "Ag Here, ek weet nie nou wat om te sê nie - ek wil maar net bietjie in U arms kom lê".

Hoop ek het dit reg gesê. Miskien kan Martie my gedagtes beter uitdruk?

Groetnis.
Gideon.

Mart said...

Gideon,

Ek hoef nie jou gedagtes uit te druk nie. Jy en jou 'keyboard' doen reeds uitstekend. :)

Groete
Mart