Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

12/12/2008

Geloof gebaseer op die Joodse fondament


Ek is al vir baieeee jare kind van God. Hierdie naweek was een van my seun se vriende by ons en het dus saam met ons kerk toe gegaan. Na die diens vra ek vir hom hoe hy die diens ervaar het. Nee wat sê hy dis nie vir hom nie, maar terwyl ons nou praat wil hy net graag een vraag vra. Hoekom glo ons in 'n Jood as ons nie jode is nie? Is die Torah dan nou verkeerd? En as ons in Jesus glo wat 'n jood is, hoekom dan nie alles behou nie? Alhoewel ek hom geantwoord het, het ek verseker nie al die antwoorde nie en bly die vraag dus by my. Hoekom het ons as christene nie ons Joodse herkoms behou nie, nêrens in die kerk van vandag is daar enige teken daarvan nie. Ek het 'n onsettende hart vir die jode en het dus al baie boeke oor die onderwerp gelees. Dit lyk vir my asof ons baie van die seëninge verloor het wat vir ons bedoel was (met Shabbat om net een voorbeeld te noem). Die name van God is vir my 'n ander voorbeeld - Hashem, Elohim, Adonai - wondermooi maar tog vir ons verlore. Hoekom?

16 comments:

Michael said...

Hallo Sharon,

Ek dink die beste persone om hierdie tipe vrae te antwoord is moderne Jode wat tot die Christendom gevoeg is.

Uit my eie ervaring is die Nuwe Testament meer as genoeg. Dit het alles met Christus self begin. As Christus nie vir ons die verwysing is vir die NUWE VERBOND waarin ons leef nie, dan gaan ons in baie probleme in loop. Dan is daar Paulus wat 'n Skrifgeleerde was. Hy het onder Gamaliël geleer en het werklik geweet wat die verskille is. Om jou nog nader aan 'n antwoord te kry is die boek aan die Hebreërs 'n uitstaande voorbeeld.

Om baie eerlik te wees dink ek dat die vraag wat jou jong gas gevra het meer gerig op sy eie sinkretistiese vertwyfeling wat hy koester. Dit is nie vir my snaaks dat moderne jong mense met hierdie tipe vrae rondloop nie, maar dit is baie gevaarlik as dit maar net oppervlakkige "pop-gedagtes" bly. Die rede hoekom ons glo wat ons glo is verseker nie so aanvegbaar soos wat ek self gedink het in my jeug nie. (Ek sou dit nooit vir die jongman self sê nie, maar die arme kind se siening is so naïef soos om te vra hoekom alle Afrikaners nie nog steeds in apartheid glo nie.)

Vir my is 'n sinvolle vertrek punt om jong mense uit te daag om hulle oneindige energie en soeke na kennis te gebruik om werklik diep te soek na antwoorde. As hulle die belangrikheid van so 'n uitdaging kan raaksien DAN EERS sal ek maar net kan getuig van my eie proses van soeke na die Christus van die Bybel.

Groete,
Michael
P.S. Ek het amper vergeet om by te voeg dat dit belangrik is om my eie denkfoute of foute in persepsie te erken op so 'n wyse dat ander kan sien ek soek net so hard soos hulle.

Henrietta said...

Interessante onderwerp, Sharon. Ek is so jaloers op mense wat Hebreeus ken en een van die redes is die ryke betekenis van die verskillende Name van God. Ek stem grootliks saam met Michael, ook dat daar meer agter die jong gas se vraag sit as wat dit lyk. Miskien moet mens met hom gaan sit en verdere gesprekke voer?

Gideon said...

Sharon,
Ek wil dit graag waag om een en ander te verduidelik. Dit sal noodwendig drupsgewyse kom, maar eers net ‘n paar hooftrekke. Wees baie welkom as jy meer detail te weet – sal probeer opklaar.
Ek stem saam met Michael dat die brief aan die Hebreërs ‘n uitstaande boek is. Hierdie brief verduidelik o.a. die brug van die Ou Testament (hoofsaaklik in Hebreeus geskryf) na die Nuwe Testament (Grieks).
Verder moet mens verkillende gegewens in die Bybel saam verstaan – soos hulle sê: “Skrif verklaar Skrif”.

Die jong vriend se vraag was interessant en gee aanleiding tot heelwat antwoorde: “Hoekom glo ons in 'n Jood as ons nie jode is nie?”

Hier is sommige van die hooftrekke: Toe die mens in sonde geval het, het God ‘n plan (om daardie verlore verhouding te herstel), in werking gestel. Hy sê toe vir satan dat die vrou se Saad sal sy kop vermorsel (Gen.3:15). God het die volk Israel (Jode) gekies om Sy boodskap van verlossing na die wêreld uit te dra – ‘n taak waarin hulle tragies misluk het. Deur die Joodse volk het god die hele wêreld in die visier gehad.

Omdat Abraham in God geglo het, het Hy Homself verbind (deur die verbond) om vir hom en sy nageslag vir ewig ‘n God te wees en al Sy verbondsbeloftes gestand te doen. Daarom het Hy ‘n lang en geduldige pad met die Jodse volk geloop, met die Torah as ‘n “padkaart” van daardie pad. Nou is die vraag: “Staan ons as nie-Jode dan buite hierdie verbond?” Antwoord is “nee!”. Hierdie verbond was nie net met Abraham en sy fisiese nageslag nie. Daar was ook ‘n geestelike dimensie betrokke. Christen-gelowiges is in daardie verbond ingesluit. (lees hieroor Gal.3:6-9,22,28-29; Efes.2:13-19; 3:6). Ek dink dat hierdie skrifgedeeltes vir jou heelwat sal opklaar.

Die Sabbat is ‘n onderwerp op sy eie. Daaroor kan ons lank gesels. Jesus as vervuller daarvan (en só baie ander beloftes) is die sleutel tot die vertaan daarvan.

God se verskillende Name in die Bybel is interessant – dit word “in konteks” gebruik (soos ekdit sien) en is eenvoudig Hebreeuse taalgebruik:
“Elohîm” word vertaal as “God”. Letterlik beteken dit “konings”. In die ou leefwêreld was ‘n koning in die meervoud aangespreek om aan te dui dat hy “meer” is as die gewone mens. Die “…el” in name dui gewoonlik ‘n verband met of eiendom van God aan, soos “Daniël”, en ja – seker “Michael” ook! So beteken die plek “Betel” dan ook “huis van God”.
“Jahweh” / “Jehowah” word vertaal as “Here/Heer”. Dit is die Joodse “eienaam”/ “proper name” van/vir God. “Jah” is die verkorting van “Jahweh” en beteken presies dieselfde.
“Adon” dui op “soewerein”, “heerser” “in beheer”, en “Adonai” is die emfatiese/beklemtoonde vorm daarvan.

Ja, sommige van die Hebreeuse Name val maar seker mooi op die oor, maar wees verseker ons verloor niks van die mooiheid en wonder van die evangelie deur dit in Afrikaans of Engels te vertaal nie.

Jy sê ook: “Dit lyk vir my asof ons baie van die seëninge verloor het wat vir ons bedoel was”. Jy kan verseker wees: Indien moontlik, het daar net seëninge bygekom. Onthou maar: Ons glo in die (Blye) Boodskap - nie in die boodskapper (Jode) nie.

LAASTENS: Ek hoop ek was redelik duidelik. Ek sal vreeslik graag nog enige vrae in hierdie verband wil hoor – wie weet kan ek help om duidelikheid te kry.

Groetnis.

Gideon.

sharondippenaar said...

Hallo aan julle almal

Baie dankie vir die deeglike antwoorde op my vrae. Ek stem grootliks daarmee saam, maar het tog nog vrae. Mag ek bietjie daaroor nadink en dan terugkom.

Gideon said...

Sharon, ek sien uit daarna.

sharondippenaar said...

Hallo weer julle
Ek het gaan dink en gelees en hier is ek weer. Aan jou Michael. Ek stem met jou saam oor al jou punte, maar as Jesus vir ons gekom het as vervulling van die verbond en ons dus derhalwe almal "gelyk" is, hoekom is hy besny (die besnydenis is tog 'n joodse gebruik)en later gedoop?
Aan jou Gideon. Jou verklaring en uitlê is baie interessant en ek stem heelhartig met jou saam. My vraag is eenvoudig. Hoekom het hierdie gebruike en name vir ons as christene verlore gegaan? In my eie stiltetyd gebruik ek die name en vind 'n stille berusting en vreugde daarin. Shabat soos jy tereg sê kan ons weke lank besig hou - maar die feit is tog dat die Shabat tog die ware Sabat is, al hou ons dit op 'n sondag, weereens al die seeninge daarvan vir ons verlore. Vir my is die goed nie wetties nie maar wel 'n voetstuk van my geloof en ek worstel daarmee.
Ek weet dit verander nie my stap saam met Jesus of my geloof nie. Ek verstaan net nie hoekom hierdie belangrike dinge vir ons verlore is nie.

Michael said...

Hallo Sharon,

Die punt wat jy maak wat my die naaste aan die hart lê gaan oor dit wat ons alles al verloor het van die Ou Testamentiese skoonhede van ons geloof. Dit is vir my net so jammer dat ons in hierdie sekulêre tyd al soveel dinge prys gegee het van ons geloof. Dinge wat ons nie moes prysgee nie.

Aangaande die Sabbat en die Christene se Sondag het ek nog baie vrede dat dit 'n nodige verskuiwing van die Ou na die Nuwe Testament verteenwoordig. As ons nie onsself met die huidige Joodse godsdiens vergelyk nie en net kyk na wat God nou vir ons bedoel het in die Nuwe Testament dan behoort ons nie 'n probleem met die Sondag te hê nie. Die beginsel van 6dae moet jy arbei en al jou werk doen behou nog steeds sy skoonheid.

Wat ek probeer sê is dat dit sekularisering is wat ons geloof afwater en nie die Nuwe Testamentiese gebruike soos om op die eerste dag van die week bymekaar te kom nie. Ons moet eerder vra hoekom ons 'n sekulêre uitkyk begin koester het saam met ons geestelikheid. Ek vra myself gereeld... omdat ek so geestelik arm voel, met tye. So arm omdat ek nie die Kerk van die Nuwe Testament ervaar nie.

Groete,
Michael

sharondippenaar said...

Hallo Michael
Sjoe om jou aantehaal ". Ek vra myself gereeld... omdat ek so geestelik arm voel, met tye. So arm omdat ek nie die Kerk van die Nuwe Testament ervaar nie." Dit is verseker die beste beskrywing van wat ek so baie ervaar. Dis tragies dat ons te midde van soveel godsdiens vryheid tog geestelik arm voel. So lekker om oor die goed te kan gesels.
Sharon

Gideon said...

Goeie vrae, Sharon!
Eers jou vraag aan Michael: “…as Jesus vir ons gekom het as vervulling van die verbond en ons dus derhalwe almal "gelyk" is, hoekom is hy besny (die besnydenis is tog 'n joodse gebruik)en later gedoop?”
As ware God maar ook ware mens, is Jesus onder die O.T. bedeling gebore en moes Hy (altans sy ouers!) daardie bedeling eerbiedig (Gen.17:11v.). Op daardie stadium het Hy nog nie die verbondsgebruike en –beloftes vervul nie. Hy moes noodwendig volgens daardie bedeling lewe en opgroei. Sovêr vir die besnydenis.

Hoekom is Hy later gedoop?
Weer moet ek sê: Die doop is ‘n baie breër en dieper onderwerp as wat meeste mense dink, en daaroor kan ons ook baie lank gesels. Ons moet egter (baie belangrik!) onderskei tussen Jesus se doop en die christelike doop wat Hy 3 jaar later eers (by Sy hemelvaart) ingestel het. Met Sy doop het Jesus (simbolies) die sonde van die wêreld op Homself geneem en dit 3 jaar vêr na die kruis gedra – waar Hy daarvoor gestraf is. Dit is eintlik alles vooruit belowe in die O.T. Sy doop was hoegenaamd nie die christelike doop nie, en ons kan NIE Sy voorbeeld daarin volg nie - soos baiemaal beweer word. As jy wil, kan ek verduidelik waarom ek dit sê. Hierdie is net eers om jou vraag te beantwoord.

Jou vraag aan my was: “Hoekom het hierdie gebruike en name vir ons as christene verlore gegaan?”
Ek is nie seker wat jy met “hierdie gebruike” bedoel nie. Ek glo nie jy het die besnydenis bedoel nie, maar laat my eers iets sê oor die gebruike:
Dit (die besnydenis, die pasga, offers e.a. seremoniële gebruike) was alles vooruitwysings na Jesus – wat dit alles sou vervul/waarmaak. Meeste heen gewys na Jesus se bloed wat sou vloei – die vervulling van daardie “beloftes” omtrent Jesus, die Lam van God wat ons verlossing sou bewerk. Noudat daardie beloftes vervul is, het daardie “gebruike” verval, eenvoudig omdat dit waarna hulle vooruitgewys het, klaar gebeur het.
Voorbeeld: Die pasga-lam wat geslag is, het “beloof” dat Jesus, die Lam van God, geslag sou word. Nou wys die Nagmaal terug na die vervulde “belofte” – dat Jesus toe wel geslag is. Daarom het die Pasga geen rol meer om te vervul nie.

Sovêr die Name betref: Soos reeds gesê in my vorige pos – dit is eenvoudig Hebreeus. So het ons die Hebreeuse “Abba” = “Vader” ; “Adonai” = “Sowereine” / “in beheer” / “Heerser” ; Hy wat ons ken as Christus is die Hebreeuse “Meshiag” (Messias), die Griekse “Chriestos”, in Afrikaans Christus en in Engels “Christ”. In al hierdie tale beteken dit eenvoudig letterlik “Gesalfde”.

In Ex.3:13v. is God se Naam ook ter sprake (onthou ek het vroeër gesê God se verskillende Name word in konteks gebruik – soos ek dit sien). Toe Moses vir God vra hoe hy Sy Naam moet aankondig, sê Hy “EK IS WAT EK IS” en later: “Sê vir hulle EK IS het jou gestuur”. As ons nou verplig voel om by die Hebreeuse name vir “God” te bly, sou ons hier iets moes sê soos (ek probeer nou die klanke namaak in Afrikaans) “e-hijeh-jie-i-jeh”, en later: “E-hijeh”. (Dit sou nogal vreemd klink in die Afrikaanse mond!!).

Dit is ook goed om te onthou dat die N.T. geen Naam soos Yaweh, Adonai, Elohim ens. noem nie. In die N.T.(Grieks) word God "Theos" genoem, en Here is "Kurios" (letterlik "meester"", "meneer" of "baas").
Die goeie nuus, glo ek, is dat God nie omgee of ek Hom in Afrikaans, Engels, Grieks of Hebreeus aanspreek nie. Hy weet wat uit my hart uit kom en dat ek Hom erken as die Oppergesag, die Heerser, die Here, of wat ookal!

Dus, om jou vraag te beantwoord: Hierdie gebruike het NIE vir ons (christene) verlore gegaan nie – hulle is vervul in Jesus die Gesalfde. Die Name het ook nie vir ons verlore gegaan nie – Hy luister nie na klanke nie, maar na my hart.
Persoonlik het ek volkome vrede met jou stelling: “In my eie stiltetyd gebruik ek die name en vind 'n stille berusting en vreugde daarin.”

Kortliks oor die Sabbat: Ook dít is (vir my) vervul in Jesus Christus. In Hom het ek my rus gevind, en in Hom het ek die ewige Sabbat (Rus). Daarom onderhou die christelike geloof nie meer die Sabbat nie – net soos die pasga, offers ens. (Sien Gal.2:21, 3:10, 4:9-11; Ef.2:15).

Die onderhouding van Sondag het ook eintlik niks met die onderhouding van die Sabbat te doen nie. Die vroeë christene het eenvoudig besluit om die opstanding van Jesus op elke 1ste dag van die week te vier en herdenk, en dit het algemene gebruik geword (sien ook Rom14:6). Dít is nie ‘n Bybelse opdrag nie en het niks met die onderhouding van die Sabbat te doen nie.

Sharon, moet asb. nie skaam wees om enigiets wat ek hier gesê het, te bevraagteken of verder te bespreek nie. Inteendeel, ek geniet so ‘n debat.

Groetnis vireers.
Gideon.

Henrietta said...

Webblaaie soos hierdie :
http://www.followtherabbi.com/ vertel ons meer van Jesus as Rabbi EN wat dit betékén! Ook het ek ‘n paar preke gehoor van Theo Geyser (van die sanggroep Prophet-faam) oor dieselfde onderwerp, ook daaroor gelees in Rob Bell se boek “Velvet Elvis” en ek lees tans daaroor in Philip Yancey se boek : “The Jesus I never knew”. Dit het nuwe wêrelde vir my oopgemaak en ek staan verstom as ek God se Hand elke detail van die Bybelgeskiedenis sien...

Henrietta said...

Hier is ‘n skakel na Stellenbosch Gemeente: http://sg.org.za/afr/

En hier is een oor een van hulle Rabbi”- Bybelstudies:
http://www.sg.org.za/afr/content/view/257/182/

Die Steellenbosch Gemeente se webblad het ‘n soekfunksie, en as die woord “rabbi’ ingetoets word om op hul werf te soek, kry mens nog ander skakels ook. BAIE leersaam!

Liza-Nel said...

Philip Yancey se boek,“The Jesus I never knew” is 'n ongelooflike boek oor die lewe en bediening van Christus op aarde, maar word vertel vanuit 'n heel besonderse en oorspronklike perspektief. Dis soos Yancey tereg sê "No one who meets Christ ever stays the same."

Ek wens ek kon vir elkeen wat ek al in my lewe ontmoet het en oor Christus gesels het dié besonderse boek as geskenk gee...

'n Lesersopinie deur Lewis B. Smedes, Senior Professor, Fuller Seminary, soos gekrywe op die inleidende bladsy van die boek som die impak daarvan op die leser mooi op;

"This is the best book about Jesus I have ever read, probably the best book about Jesus in the whole century. Yancey gently took away my blinders and blazed the trail through my own doubting fears, pious know-it-all, and critical balderdash until I saw the Saviour anew and thought I heard him ask me, "Now whom do you say that I am?" and I understood the question as I never had before."

Henrietta said...

Hallo Liza! "The Jesus I never new " is een van die boeke waarmee ek nou besig is! Hy gee mens baie om oor te dink. Hy maak nogal baie van Jesus se Jood-skap, en mens verstaan baie dinge in die Bybel beter as mens sulke boeke lees.

Liza-Nel said...

Ek kan jou waarborg jy gaan die boek nie net eenkeer lees nie, myne is al tenminste ses keer deurgelees - ek sal binnekort 'n nuwe ene moet koop!

Alet said...

Dis baie interessante vrae en antwoorde! Dankie vir die onderwerp, Sharon.

Ek was 5 jaar gelede in Israel gewees saam met 'n koorgroep wat 'n koorfees daar bygewoon het. Ek wil sover gaan om te sê dat dit die interessantste land is wat ek nog ooit besoek het (en ek is bevoorreg genoeg om 'n groot deel van die wêreld al te gesien het).

Ek het die Land van Jode en spesifiek Jerusalem, waar ons in universiteitskoshuise gebly het, baie fassinerend gevind. Na die wonderlike toer soontoe, het ek bietjie gaan sit en dink waarom hierdie land van oorlog so 'n goeie indruk op my gelaat het.

As ek my ervaring van Israel kon opsom, is dit dat daar te midde van ernstige konflik en sigbare onrustigheid nog steeds 'n gevoel van innerlike vrede en kalmte heers. Ek koppel die gevoel van beskerming wat ek daar ervaar het, aan die Joodse geloof en aan hul fundamentalistiese begrippe- en lewenstyl.

Dis baie hartseer dat ek nie dieselfde gelowige atmosfeer in my eie geboorteland voel en sien nie. Die rede vir hierdie afwesigheid is die wegraping van die Joodse geloof - dink ek.

Alet***

Henrietta said...

Hallo Alet! Ons was ook al in Israel, en soos jy, dink ek die Israeli's is amazing mense vir wie ek 'n reuse bewondering het vir wat hulle vermag het as 'n klein-klein groepie mense op 'n stukkie grond bietjie groter as die Kruger Park - meeste daarvan klipharde woestyn!