Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

12/03/2008

Ekonomiese chaos--die werklike oorsaak

Gedurende die afgelope vier jaar het ek intensiewe navorsing gedoen oor die wêreld se ekonomiese stelsel, veral oor die energiekomponent daarvan.

Ek het bevind dat energie inderdaad die dryfveer agter die wêreld ekonomie is. Die enorme oliebedryf gaan oor energie. So ook die reusagtige kragstasiesbedryf en die steenkoolbedryf. Die nywerheidstelsel produseer masjinerie om energie te gebruik, soos bv. motors, stowe, yskaste, rekenaars, gloeilampe en wat meer.

Sowat 'n jaar gelede het daar 'n beroering in die energiebedryf gekom met die plotselinge verhoging in die olieprys vanaf $60 dollar 'n vat (daar is sewe vate olie in 'n ton) en nou die dag gaan draai het by $155 'n vat.

Ek wil niemand van 'n sameswering beskuldig nie. Spekulante wat 'n belang sou hê by 'n wêreldresessie, het egter agtergekom dat, sou die olieprys vinnig verby die gevaarlyn van $80 'n vat gedryf word, dan sou 'n wesenlike verskuiwing van likiediteit in die ekonomie plaasvind. Die verskuiwing sou te snel gebeur vir regtellende optrede in die geglobaliseerde ekonomiese stelsel... en karplaks!!! Die ergste inploffing van die afgelope twintig jaar of meer!

Die slim ouens besef vandag -- wanneer die olieprys vinnig styg, verkoop mens jou aandele. Wanneer dit benede $40 per vat daal, kan jy maar weer koop, en koop jy teen 60% afslag. Tans wentel die olieprys rondom $45 per vat. Gedurende die volgende maand of tien sal dit nog verder daal. Intussen skuif die geld weer weg van olie en terug na die res van die ekonomie. Dit is soos suurstof wat die stelsel weer aan die lewe sal kry.

johnny

11 comments:

Mart said...

Hallo johnny

Ek vind jou plasing baie, baie interessant! Net twee vrae wat nou by my opgekom het:

Wat is die laagste wat die olieprys dan kan daal?

Teen watter prys is dit goedkoper om sintetiese olie te maak as om dit van die Arabiere te koop?

Groete
Mart

johnny said...

Ek sou sê dat die onderste draaipunt van die olieprys daardie punt is waar dit onekonomies sal wees om die olie uit die grond te pomp, oor land te pomp, te stoor en in tenkskepe te laai. Daardie vlak sal waarskynlik nie veel onder #25 'n vat wees nie.

Die koste van sintetiese olie?

Baie goeie vraag. Sasol reken dat oor $70 'n vat is dit ekonomies om sintetiese brandstowwe uit steenkool te vervaardig. Sasol se nuwe Oryx aanleg in Qatar, wat hulle in vennootskap met die Qataarse regering opgerig het, het 'n gelykbreekpunt van ongeveer $60 'n vat. By daardie aanleg word aardgas in plaas van steenkoolgas gebruik om sintetiese koolwaterstowwe te vervaardig.

Mens kan dus aanvaar dat al die bestaande ekonomiese scenario's vir die oliepryse afwaards aangepas sal word. Dit bewys net weer hoe feilbaar mense se oordeel is om reglynig te dink deur alles liniêr te estrapoleer.

johnny

Mart said...

Dankie, johnny. In jou eerste plasing op die voorblad sê jy:
"Die slim ouens besef vandag wanneer die olieprys vinnig styg, verkoop mens jou aandele. Wanneer dit benede $40 per vat daal, kan jy maar weer koop, en koop jy teen 60% afslag."

Wil jy hierdie stelling asb verduidelik?

Groete
Mart

johnny said...

Dankie, Mart.

Wat ek eintlik wil sê is dat hoewel daar nie 'n kousale verband bestaan tussen die aandele beurse van die wêreld en die olieprys nie, deel die twee dieselfde poel geld. Dus, wanneer die olieprys laag is, sal daar minder geld vir dieselfde hoeveelheid energie benodig word. Meer geld is dus beskikbaar vir die res van die ekonomiese bedrywigheid, wat die aandele pryse sal ondersteun.
Gemeet teenoor die pryse van Julie, 2008 staan die meeste beursvlakke in die wêreld tans reeds teen 'n afslag van bykans 50%. Ek glo dat dit verder gaan daal en dat dit teen vroeg aanstaande jaar op 'n afslag van 60% gaan staan. Teen daardie tyd sal die olieprys waarskynlik so om en by $40 'n vat wees en sal die twee pole weer in balans wees.

Dit is dan die tyd wanneer die bloed vryelik in die strate sal vloei en wannneer die slim ouens groot sal koop.

johnny

Mart said...

Dankie vir jou opinie, johnny. Kom ons hoor wat die ander deelnemers hieroor sê.

Groete
Mart

Michael said...

Hallo Johnny,

Ek hou ook baie van jou insig wat jy met ons deel. Dit maak dinge vir my baie helder.

Daar is net een aspek wat ek wil bydra en dit gaan oor die "gelyk breek punt" van kommoditeite in die algemeen. Ek werk in platinum en almal weet nog altyd dat die PGM minerale van die Bosveld Stollingskompleks is die waardevolste minerale in die wêreld. Winsgrense vir platinum is my lewe lank nog eenvoudig ongelooflik gewees.

Wat nou aan die gebeur is dat die huidige hoof gebruiker van PGM's, die motor bedryf is in 'n wêreld wye krises en dit tref die platinum dadelik. 'n Mens sou gedink het dat met sulke groot winsgrense dit nie 'n groot invloed behoort te hê nie, maar helaas. Die emosies gaan mal en almal verkoop dat dit 'n snaaksigheid is. Dan is die snaakste dat ons vertel word dat platinum nou skielik nie gaan wins maak nie. Dit mag waar wees, as die beplande kapitaal projekte ongekontroleerd voortgaan, maar ek glo hulle oor reageer erg.

My vrae is dus... As geld teen so 'n groot tempo uit kommoditeite onttrek word, waarheen gaan dit in die kort termyn? Wat gebeur as emosies gaan lê en die kommoditeite kom agter dat hulle gelyk breek punt is eintlik veel laer en hulle kan baie meer doen om dit laer te druk? Hierdie vrae laat my dink dat daar dalk tog 'n regstelling / normalisering gaan kom uit hierdie gebeurtenis. Dalk selfs 'n geleentheid vir Afrika om gespeen te word, wie weet.

Groete,
Michael

johnny said...

Hallo Michael,

Jy vra: "... As geld teen so 'n groot tempo uit kommoditeite onttrek word, waarheen gaan dit in die kort termyn?"

Ongelukkig het ons hier te doen met 'n situasie waar geld nie onttrek word nie, maar gewoon nie beskikbaar is nie. Die wêreld se ekonomiese stelsel het 'n kollossale inkrimping beleef en daar is minder as die helfde (op papier) dollars vir die ekonomiese stelsel beskikbaar. Mens moet onthou dat harde kontant minder as 'n tiende van die wêreld se geld uitmaak, die ander 90% is op beurse. ens. Die helfde van daardie 90% is in sy peetjie in.
Vir sover dit platinum en ander kommoditeite aanbetref, sou ek sê dat die winsgewendheid direk eweredig met die produksievolume is. Nuwe aanlegte het gewoonlik 'n hoër gelykbreekpunt vanweë die feit dat dit deur duurder geld befonds is en dat ou aanlegte reeds gedepresieer is. Nuwe aanlegte het die gelykbreekpunt dus opgeskuif vir die hele bedryf.

Die insinking van die motorbedryf gaan die platinum bedryf 'n kwaai slag gee, omdat die strategiese voorrade van die katalisator vervaardigers groot genoeg is om hulle vir 'n tyd lank te hou sonder om nuwe voorrade aan te koop. Hulle besef ook dat hulle die pryse verder kan afdwing deur eenvoudig terug te hou en laer pryse te beding.

Die feit dat die pryse laer is, beteken nie dat die volumes dieselfde is nie. Inteendeel, daar word slegs 'n fraksie van die platinum tans verhandel, en die spekulasiemark vir platinum is morsdood...

Dit lyk glad nie goed vir platinum nie, Michael.

Vir ander kommoditeite is dieselfde ook van toepassing. Steenkoolpryse is baie af, so ook mangaan en ysterertspryse asook volumes. Mittal-Yskor het reeds 'n algemene prysverlaging aangekondig om aanvraag te stimuleer, Chroom en PGM metale sit in dieselfde bootjie-- die wêreld ekonomie het afgekoel en almal hou hul beursies styf toe om likied te bly

johnny

Gideon said...

Johnny, baie dankie vir die goeie plasings. So leer ons. Jy en Michael lyk asof julle nogal weet van... wat in die wêreld aangaan.

Henrietta said...

http://en.wikipedia.org/wiki/Gerald_Celente

Hierdie ou word as 'n redelik betroubare toekomskundige beskou, veral wat ekonomiese sake betref. Volgens hom is die ekonomiese chaos wereldwyd grootliks georkestreer en gemanipuleer.

Michael said...

Henrietta,

Ek het nou al geleer dat as mense of enige intelligensie betrokke is dan kan dinge baie gou verander. Dit is natuur wat rustige lang siklusse volg. Ons as mense kan dinge baie onstabiel maak, maar dit beteken nie dat dit noodwendig buite beheer is nie.

So... as hierdie krises beplan is dan moet ons ook glo dat daar met baie energie na 'n spesifiek doelwit gewerk word. Vir ons as buitestaanders is dit nie nodig om te vra wat die doelwit is nie. Ons moet net aanhou kyk HOE dinge verander en dan sal ons dalk kan begin agter kom waarna daar gewerk word.

Groete,
Michael

Gideon said...

Henrietta, ek het nog nie die skakel gelees nie - net gekopiëer na MSWord - vi rwaneer dit rustiger gaan.
Ek glo vas dat die ekonomiese (én ander strominge) wêreldwyd geörkestreer en gemanipuleer word. Ek glo dit werk eintlik in die rigting wat lank reeds deur Bybelse profesieë vooruitgesê is. Dit is eintlik in lyn met die profesieë van Daniël, Openbaring e.a. uitsprake (byv. Mat.24).
Ek glo ook dat die RKK, met behulp van Vrymesselary, New Age, die Jesuïtiese Orde e.a. besig is met 'n langtermyn plan.

Groetnis vireers.

Gideon.