Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/04/2008

Viktor Frankl – soeker na lewenssin

Ek het groot respek vir mense wat lyding sinvol kan verwerk. Een so ‘n persoon is Viktor Frankl.

Frankl is as die seun van Joodse ouers in in 1905 in Oostenryk gebore. Hy het hom as neuroloog en psigiater bekwaam. In 1942 is hy tydens die Tweede Wêreldoorlog saam met sy familie na een van die konsentrasiekampe geneem. Hier is hy op grond van sy mediese kennis as kampgeneesheer aangestel. Hy moes onder andere ook omsien na mense wat geweldig depressief was vanweë die omstandighede in die kampe en gedreig het om selfmoord te pleeg. Dit was as gevolg van sy eie lyding en die van ander in hierdie kampe dat hy sy teorie en metode van hulp gevorm het, naamlik dat die mens selfs in die mees pynlike, haglike en onmenslike omstandighede betekenis aan die lewe kan heg en dat ‘n mens sin kan maak van die lewe selfs te midde van lyding. Hy het dit “logoterapie” genoem, ‘n tipe eksistensiële analise wat sterk gegrond is op sienings van Freud en Adler . Sy logoterapie berus basies op die volgende sieninge: Die lewe het onder alle omstandighede, selfs onder die mees ellendige omstandighede, betekenis; die mens se hoogste motivering om te lewe berus op sy wil om betekenis te vind in die lewe; die mens is onder alle omstandighede vry om standpunt in te neem.

Frankl het internasionale bekendheid verwerf. In 1991 het sy boek “Man’s search for meaning” een van die tien mees invloedryke boeke in Amerika geword. (Ek het dié boek – Engelse uitgawe – in 1966 vir die eerste keer gelees en ‘n hele paar keer daarna en was getref deur dit wat hy daarin skryf).

Hoe vind ‘n mens sin in die lewe, veral in swaarkry en lyding?

6 comments:

Mart said...

Dis nou 'n heerlike draad, dankie Henrietta!

Die sentrale tema van eksistensialisme is:

*Om te lewe is om swaar te kry.
*Om te oorleef moet mens betekenis in die swaarkry vind.
*As daar 'n doel in die lewe is, moet daar 'n doel wees met swaarkry en om dood te gaan.
*Niemand kan vir 'n ander mens vertel wat hierdie doel is nie.

*Elkeen vind dit vir homself/haarself uit.

As mens suksesvol op hierdie pad is, sal mens aanhou groei, ten spyte van alle ongeregtighede in jou lewe.

Viktor Frankl haal Nietzsche aan:
"He who has a WHY to live, can bear with almost any HOW."

Mart said...

Kom ek sê hoe my lewe vir my sin maak:

1 Ek het great kinders, wat daagliks sin aan my lewe gee
2 Ek het wonderlike ouers wat my in alles ondersteun wat ek aanpak
3 Ek het lojale vriende wat regtig vir my omgee
4 Ek probeer elke dag fokus op al die dinge in my lewe wat ewigheidswaarde het. Die res gooi ek uit
5 Ek gaan uit my pad om liefdadigheidswerk te doen en om ander mense te help
6 Ek is diep dankbaar oor die land en kontinent waarin ek woon
7 Ek sien elke wonderwerk wat God in my lewe doen raak en loof Hom daarvoor
8 Ek maak vrede met die goed waaraan ek absoluut niks kan doen nie
9 Ek mediteer en bid elke dag

Kato die Ketter said...

Hi Henrietta,

Viktor Frankl se boek staan al 'n paar jaar op my rak en ek het nog nie sover gekom om dit te lees nie. Jy het my nou geinspireer om dit volgende op my lys te plaas! Baie dankie.

Hoe maak ek sin uit die lewe?

1. Ek ondersteun en vertroetel my geliefdes en hulle ondersteun vertroetel my terug.
2. Ek lag soveel en so hard as moontlik.
3. Ek is mal oor my werk en kan nie regtig glo dat ek betaal word om dit te doen nie; ek sou dit verniet ook doen.
4. Ek gaan stap elke dag 'n lang ent langs die see en gee myself oor aan die genot van die ervaring.
5. Ek probeer om bewustelik elke mooi en lekker ding in my lewe te waardeer.
6. Ek lees soveel en so wyd as wat ek kan, en bespreek dit met vriende wat ook graag lees en dink.
7. Ek debatteer die sake van die dag met my katte. Dit sluit baie soene en drukke in.
10. Ek gooi my tuin nat en inspekteer elke nuwe blom en blaar.
11. Ek luister na musiek, gaan kyk na shows en sing in 'n koor.
12. Ek slaap so diwels en soveel as moontlik, op 'n lekker sagte bed oorgetrek met skoon wit linne, ooooo ek word sommer lus om te gaan inklim met 'n boek!

Ek kan nog vir lank aangaan, so laat ek eerder ophou.

Groete Kato.

Henrietta said...

Hallo Kato! Baie dankie dat jy al hierdie kosbare dinge met ons gedeel het - ek kan sien jy is 'n baie liefdevolle , emosioneel-gesonde, caring mens en jou geliefde (en veral jou katte!) kan so bly wees jy is daar vir hulle!

Doen jouself 'n guns en lees vir Frankl - jy sal nie spyt wees nie!

(En ek deel jou liefde vir musiek en tuin... )

Henrietta said...

Hallo Mart, dankie vir jou gewaardeerde insette .

Ek dink Frankl se boeke is deur die jare so gewild omdat hulle soveel lewenswaarhede bevat.

In my eie lewe het ek gesien dat dit help om eerder te vra “ waartoe?” as “waarom?”, m.a.w. wat is die sin agter die swaarkry. Paulus verwoord dit so mooi in Romeine 5: “ … ons verheug ons in die swaarkry want swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop… “

My kinders het ‘n speelding gehad: ‘n nar-poppie met ‘n swaar bodem en elke keer wat jy die poppie omstamp, dan sorg die swaar bodem dat hy weer regop spring… dit laat my altyd dink aan 2 Kor 4:9 in die Phillips- vertaling van die Bybel: “ Knocked down, but not knocked out”.

Ander dinge wat werk vir my is :
Roepingsbewustheid, om te weet dat my lewe ‘n doel het hier op aarde en omdat dit so is, te kyk hoe ek die wereld ‘n beter plek kan maak;

Om ver in die toekoms in te kyk, tot by die ewige lewe (lees bv Hebreers 10 , 11 en 12 aanmekaar in een sitting – dit beteken iets heel anders as om dit stukkie vir stukkie te lees!).

Tel jou se”eninge, tel hul een vir een, soos die ou lied s^e, want dit help jou om ‘n dankbaarheidslewe te lei;

Speel Pollyanna se “ glad-game” ! Haar sendeling-pa het haar geleer om te altyd iets te vind om oor bly te wees, eerder as om te kla – wat die hoofboodskap is van Filippense : “ Wees bly!”

Michael said...

My lewe maak sin want,

1. God is 'n persoon wat in Christus Jesus geken kan word.
2. Ek kan my geliefdes ryklik en omvattend lief hê in goeie en slegte tye.
3. Ek kan elke aspek van my bestaan in 'n konstante vloei van ervarings ontdek. Die fisiese en die geestelike.
4. Ek is nie net op myself aangewese nie, mense maak my volkome.
5. Ek kan aanhou ontdek want daar is 'n volmaakte en utopiese werklikheid, waaraan ons nou reeds kan deel neem. Ek geniet dit om te sien hoe almal daarna soek op soveel verskillende maniere.
6. Ek spandeer soveel as moontlik tyd in abstrakte gedagtes en ervarings soos inligting, kuns, musiek, wetenskap, politiek ens. (Dit maak menswees vir my soveel ryker as bloot die sinlikheid van die fisiese.)
7. Ek kry oplossings vir probleme in die alledaagse lewe en word daarvoor vergoed.

Groete,
Michael