Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/30/2008

Potensiële toekomstige kussingklets tussen Manuel en Ramos?

Volgens Tim du Plessis is daar al heelwat die afgelope week geskryf en geskinder oor Maria Ramos wat vroeg aanstaande jaar oorneem as die uitvoerende hoof van Absa. Hy skryf: "Korporatiewe bestuurspuriste sê dis onhoudbaar dat die hoof van so ’n groot bank ook die lewensmaat is van die minister van finansies.
Trevor Manuel en Ramos verwerp die besware. Hulle sê hulle skei hul persoonlike en professionele hoedanighede en handel met integriteit. Lees ’n mens fyn tussen die reëls van Manuel se reaksie kom jy agter hy is nie kwaad oor die sinspelinge van kussingklets tussen hom en Ramos nie. Hy’s omgekrap oor die afleiding dat Ramos se aanvaarding van die pos daarop dui dat hy gaan waai as minister van finansies...."
Lees asb verder by opmerking/s.

4 comments:

Mart said...

"Sy woede is begryplik, maar die afleiding is gegrond en logies. Die minister van finansies kán nie die lewensmaat van ’n bankbaas wees nie.

In geen gevestigde demokrasie sal so iets geduld word nie. Een of albei sal moet loop – en Ma?nuel lyk na ’n meer logiese kandidaat as Ramos.

Dalk is Manuel bang vir ’n herhaling van Oktober se fiasko toe sy tegniese bedanking met die val van Thabo Mbeki die markte en die rand geruk het.

Dié kortstondige trauma het Manuel so ongeveer vasgemessel in sy huidige pos. En dit kan tog geen goeie ding wees nie.

Dus, waarom nie probeer om die sny brood aan albei kante te botter nie? Behou Manuel, maar nie as minister van finansies nie.

As adjunk-president.

Wat die land effektief bestuur met die spesifieke opdrag om sy oog te hou op ekonomiese en fiskale beleid.

So ’n aanstelling sal drie kragtige seine stuur wat al drie broodnodig is.

Een: Dit sal bevestig dat mnr. Jacob Zuma opreg en vasberade is met sy versekering aan die markte en sakeleiers dat Suid-Afrika se basiese ekonomiese koers in sy regime onveranderd sal bly.

In die huidige klimaat van globale onsekerheid is niks, maar niks belangriker as dit nie. Een verkeerde skuif en Suid-Afrika is onderdeur. Zimbabwe Merk 2.

Twee: Dit sal ’n tegnokraat met kundigheid en ervaring die uitvoerende hoof maak van SA Ingelyf. Een wat die werkinge van die staat se soms duistere geldsake van binne en buite ken.

Wat weet waar om die goggas te gaan soek en wat gewys het hy kan die leisels baie styf vashou. En wat nie huiwer om amptenare en politici tot verantwoording te roep nie.

Daarby ’n super-tegnokraat met politieke geloofsbriewe. Ses jaar gelede was hy die gewildste politikus in die ANC.

Hy skram nie weg van debat en ’n politieke geveg nie – selfs met mense in sy eie alliansie.

Die linkses in die ANC verfoei Manuel, maar dis oor hy oor hul argaïese idees lag en sy assosiasie met Mbeki. Maar hulle respekteer hom.

Nou die dag nog het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en die linkses se grootkampioen, ewe trots vertel comrade Trevor is een van die min ministers wat elke Maandag getrou in Luthuli-huis is om verslag te doen.

En die derde sein: Manuel as adjunk-president en die land se bestuurshoof sal Suid-Afrika weer ferm op die pad van nie-rassigheid plaas. Waar kwalifikasie en meriete swaarder weeg as velkleur.

So iets kan, om die waarheid te sê, ’n “Obama-moment” vir Suid-Afrika wees, onderweg na ’n post-rassige era.

Zuma sal vriend en vyand se bek toeslaan met so ’n meesterskuif."

Mart said...

Dis hoogs onwaarskynlik dat Manuel nog minister van finansies gaan wees wanneer Ramos op 1 Maart aanstaande jaar haar pos by Absa inneem, want die belangebotsings is waarskynlik so groot tussen dié twee poste dat dit ondenkbaar is dat dit deur twee lewensmaats beklee kan word, het verskeie ontleders gister gesê.

Mnr. Chris Hart, ekonoom by Investment Solutions en voormalige tesourie-ekonoom van Absa, sê die aansteling self behoort geen probleem te wees wat belangebotsings betref nie, maar in die dag-tot-dag-bestuur van die bank “is daar tog gevalle waar die integriteit van besluite deur die tesourie onder verdenking kan kom”.

“As Absa byvoorbeeld ’n bepaalde posisie in die geldmark inneem en daar word ’n paar dae later ’n aankondiging deur die tesourie gedoen wat Absa se posisie ’n uiters gunstige een maak, gaan Absa se mededingers dit moeilik aanvaar.

“Of as Absa ’n posisie in die valutamark inneem en ’n paar dae later word valutabeheermaatreëls aangepas sodat Absa in ’n gunstige posisie is?”

Dit sal volgens hom ook ’n dilemma wees as die land se banke deur die regering bygestaan moet word tydens ’n likiditeitskrisis soos nou in die VSA en Europa die geval is.

johnny said...

Ek stem saam. Tim is honderd persent reg. Daar kan nie 'n onbehoorlike verhouding tussen die Minister van Finansies en 'n bankhoof bestaan nie. Dit is hoe spioenasie werk.

Hoe weet ons dat Barclays, wat Absa nou besit, nie deur hul M16 afdeling geïnspireer is nie?

Nee, dit kan eenvoudig nie werk nie en meededingende banke sal dit ook nie toelaat nie.

johnny

Henrietta said...

Hierdie saak is nou al 'n rukkie onder bespreking, en Manuel het in 'n Sake-Beeld selfs "met sy eie hand" 'n brief geskryf om sy saak te stel.

Wat vir my baie eienaardig is, is dat Manuel (oënskynlik?) nie bewus is van die konsekwensies nie??? Hoe is DIT moontlik?