Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/29/2008

Kerklike Tug

Hierdie is een van die paar onderwerpe wat meeste van die tyd misverstaan word. Henrietta (as ek reg onthou!) het by "lyfstraf" die betekenis van "tug" raakgevat. Maar tradisioneel, lyk dit my, is kerklike tug dikwels op 'n baie skewe en afbrekende manier toegepas, en ek glo baie hartseer en misverstande het al daarrondom gegroei. Tog is dit noodsaaklik - en gesond vir die geestelike lewe van 'n gemeente - waar dit korrek, met die regte begrip en gesindheid toegepas word.
Kom ons hoor - en probeer leer bymekaar. Ek self sal moontlik laat môre (Sondag die 30ste) eers kan begin saamgesels. Intussen sien ek uit na die debat.
Groetnis,
Gideon.

7 comments:

Liza-Nel said...

In sy boek DIE KERKORDE IN PRAKTYK skryf Dr. J. Visser die volgende;
"[...]'n Kerkraad wat nie die tug toepas nie, is 'n liefdelose kerkraad. Want so 'n kerkraad laat sy afgedwaalde lidmaat maar voortgaan op sy verkeerde pad, totdat hy oplaas die verderf instort! - En dit is waaragtig nie 'n bewys van liefde nie; dit is inteendeel die grofste liefdeloosheid!"

Gideon, jy sê dat die kerklike tug dikwels op 'n baie afbrekende manier toegepas is en hieroor sal ek nie stry nie, maar is dit nie ook so dat ons vandag net eenvoudig nie meer wil weet dat ons in sommige gevalle wel die Wet van God oortree nie en daarom meer dikwels aanspraak maak op 'n God wie se liefde alles bedek nie? 'n Soort van ontkenning dat God ook 'n God is wat kan straf nie?

Pas die kerk vandag in elk geval nog enige sensuur toe of het ons kerke in 'n totale gesindheid van 'liefdeloosheid" verval?

Liza

Henrietta said...

Interessante siening van Dr Visser, Liza! Maar dit maak vir my heeltemal sin, gelees saam met Hebr 12. Die laaste vraag het ek ook al baie gevra....

Woorde van jarre gelede toe ons nog ordentlik gekatkiseer is, lui in my ore as ek dink aan tug en die kerk : “die kenmerke van ‘n ware kerk is een wat die sakramente suiwer bedien en die kerklike tug toepas... “ Maar wat ek ook onthou is wat my deur die jare opgeval het: dat daar in ons (kleindorpse, plattelandse) gemeente skynbaar net twee “tugwaardige sondes” is/was: ongehude moederskap en die groot doop (die “ongehude” vader het gewoonlik skotvry weggekom). Deesdae hoor mens nooit van tuggevalle nie (of in elk geval nooit in die tyd wat ek op die kerkraad gedien het nie) .

Moet mens dan daarvan aflei dat ons nie meer ‘n “ware” kerk is nie, of het die definisie van “ware kerk” verander?

‘n Ander moontlikheid is dat daardie klousule van die NGB verval het (tong in die kies gesê... ?

Gideon said...

Dankie vir jou opmerkings, Katjie ('skuus - Liza)!
Ek stem heelhartig saam met wat dr. J. Visser daar geskryf het.Hy het dit baie mooi saamgevat.

Ek sê altyd: As jy iemand na 'n afgrond sien stap, sou jy hom nie waarsku nie? Én: As jy sou stilbly en hy daar afval, sou jy dan nie skuldig wees nie?

Ek was onlangs verbaas toe ek in 'n (Graad 5/6?) katkisasieboek lees dat die kerklike tug is daar "om die sondaar te straf".
Nee! Soos Henrietta(?) dit verduidelik het, "tug" beteken om te "trek". - terug na die regte pad. (Dit kom waarskynlik van 'n oud-Nederlandse(?) woord "tiechen" wat "trek" beteken).

Dit is waar dat daar deesdae baie min sprake is van sensuur (wat natuurlik onderskei moet word van tug). Lg. moet gebeur wanneer ek sien dat iemand besig is om "die smalle weg" byster te raak en ek die proses begin deur in gesprek te tree met daardie persoon - hierdie proses het Jesus duidelik uitgestippel in Mat.18:15-17. (Uit hierdie gedeelte het ek al baie gepreek!!)

Hieroor moet mens verstaan:
1. Dit is nie net die leraar/pastor se verantwoordelikheid nie, maar elke medegelowige s'n; en
2. "Sondig" / "verkeerd optree" moenie as 'n persoonlike saak verstaan word as "teen jou" nie. Dit kom wel voor in sommige tekste, maar dan kan dit ook vertaal word (soos Strong dit stel) "... against, among, as, at, [back-] ward, before,...".

Sensuur kom eers ter sprake wanneer iemand eenvoudig berouloos in die sonde volhard, en die gemeente oortuig is dat (byv.) die gebruik van die Nagmaal tot oneer van die Hee sou wees. So 'n persoon moet dan weerhou word daarvan - met die doel om hom/haar te oortuig om tot inkeer te kom. Uiteindelik, as daar geen salf aan te smeer is nie, kan afsnyding plaasvind - soos Jesus dit gestel het: "...laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar". So iemand het dan bewys gelewer dat hy geen erg het aan God nie.

Geen wonder dan ook dat die NGB (Nederlandse Geloofsbelydenis) sê dat, waar die kerklike tug nie toegepas word nie, dit 'n valse kerk geword het. Ja, ek stem saam dat, as die probleem eerlik in die oë gekyk word, skiet kerke baie ver tekort. Ek persoonlik weet nie van een van ons gemeentes waar daar iets daadwerklik gedoen word aan (byv.) kerk-losheid nie.

Die afbrekende manier van sensuur-toepas wat ek in gedagte gehad het en (wat ek hoop)grootliks uitgesterf het: Wanneer 'n ongetroude vrou/meisie swanger raak, is sy summier vir 3 maande die Nagmaal ontsê - of sy berou getoon het, bely het of wat ookal - dit is toegepas. Die gebruik leef nog voort in die VGK-gemeentes waarmee ek kontak gehad het.

En nóg 'n "amen" op dr. Visser se siening.

Gideon.

Gideon said...

Deesdae hoor mens nooit van tuggevalle nie (of in elk geval nooit in die tyd wat ek op die kerkraad gedien het nie) .

Daar is 3 kenmerke van die ware kerk:
1. Suiwer verkondiging van die Woord van God.
2. Suiwer bediening van die sakramente (betekenende: mense wat sigbaar ongeërg teenoor God lewe); en
3. Toepassing van die kerklike opsig en tug.

Henrietta skryf oor die afwesigheid van tug: "Moet mens dan daarvan aflei dat ons nie meer ‘n “ware” kerk is nie, of het die definisie van “ware kerk” verander?"
Die afleiding is 100% reg - en daarmee moet ons erken: Die kerk waar dit nie gedoen word nie, is 'n valse kerk. Tragies!!

Henrietta: "‘n Ander moontlikheid is dat daardie klousule van die NGB verval het (tong in die kies gesê... ?"

Nee, dit staan nog net so - en moet so bly staan solank ons glo dat die Bybel God se Woord is.

Groetnis.

Gideon.

Gideon said...

'Skuus vir die glipsie hierbo - ek kry nie 'n "edit"-knoppie nie.
Die 1ste paragraaf hierbo is 'n aanhaling uit Henrietta se skrywe.

Michael said...

As ek oor die tug dink dan dink ek onwillekeurig aan die ampte / persone wat die tug moet toepas. As die leiers ampte in die kerk nie gesond funksioneer nie dan is die kans dat die tug gesond funksioneer ook nie baie goed nie.

Daarom wil ek by hierdie kwessie 'n vraag oor die standpunte en gedrag van kerk leiers (ouderlinge) en herders (leeraars of dominees) vra. Daar is vir my 'n duidelike verwantskap tussen liefdevolle gesag wat deur die Heilige Gees bevestig word en 'n goeie toepassing van die tug. Die prentjie wat ek het is iemand wat met liefdevolle ferm gedrag die gemeente lei en die tug toepas sodat die onordelikes tot orde geroep kan word op so 'n wyse dat hulle of reg kom of sommer self loop. (Deel aan die liggaam van Christus is nie 'n geboorte reg of 'n doopreg nie. Kyk net na die lys van mense wat al in Paulus se tyd afvallig geword het.)

Persoonlik weet ek ons kerk pas die tug toe, maar dit gebeur grootliks slegs in aktiewe "Omgee Groepe". As jy 'n passiewe of onaktiewe lidmaat is is daar nie enige tug wat jou kan raak nie. Daar is baie probleme wat tog kop uitsteek, want die gene wat nie onder die tug is nie, woon effektief net die sondag dienste by waar hulle net hoorders is - tog verteenwoordig hulle die gemeente. Aan die ander kant neem die aktiewe lidmate aan die omgee groep stelsel deel en daar vind 'n minder of meerdere mate van tug wel plaas. In ons kerk is elke omgee groep leier ekwewalent aan 'n ouderling.

Dankie vir interessante gedagtes.

Groete,
Michael

Gideon said...

Michael, ek beskou die verantwoordelikheid om kerklike tug toe te pas as dié van elke lidmaat van die gemeente - elkeen wat hom/haarself 'n dissipel van Jesus noem. Eers wanneer iemand volhard in verkeerdheid en dit word in die hande van "die gemeente" geplaas, het die ampte 'n rol om te vervul - om amptelik op te tree. Hulle moet dan verdere pogings aanwend om die persoon tot inkeer te bring. Selfs nadat afsnyding in 'n hadnekkige geval plaasgevind het, behoort die gemeente/lede nog die "trek"-pogings vol te hou.

Ek verstaan nie mooi wat jy bedoel met "'n doopreg" nie.

Dit is waar wat jy sê en dit hinder my ook - dat só baie mense eenvoudig net "verlamde/dooie" liggaamsdele van die liggaam van Jesus Christus is (1Kor.12; Ef.4:16).

Groetnis vireers.