Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/08/2008

Is ons almal reg om volgende jaar te gaan stem?

Voornemende kiesers wat nog nie identiteitsdokumente het om in die algemene verkiesing te kan stem nie, kan vandag en môre by die departement van binnelandse sake se kantore daarom aansoek doen of hul ID’s gaan afhaal.
Die departement se kantore landwyd is vandag en môre van 07:00 tot 17:00 oop. Mense wat die laaste paar maande om ID’s aansoek gedoen het, kan dit gaan haal by die kantore waar hulle dit aangevra het. Die groen ID met die strepieskode is die enigste bewys van identifikasie waarmee ’n kieser kan registreer om te stem. Mense moet dus hul groen ID’s saamvat wanneer hulle gaan registreer.
Mense wat hul groen strepieskode-ID-boeke verloor het, kan aansoek doen om ’n tydelike identiteitsertifikaat (TIC) wat dadelik by enige kantoor van binnelandse sake uitgereik kan word, op voorwaarde dat die aansoeker se vingerafdrukke gestaaf kan word. Met die TIC kan ook geregistreer word om te stem.
Die TIC is drie maande geldig en kan as identiteitsbewys gebruik word terwyl die ID-aansoek verwerk word.
Mense wat wil vasstel waar die registrasiepunte (vir die verkiesing) in hul wyke is, kan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se inbelsentrum tolvry by 0800 11 8000 bel (tussen 07:00 en 21:00) of die webwerf www.elections.org.za besoek.
Geregistreerde kiesers kan seker maak hul besonderhede is korrek deur hul ID-nommers na 32810 te SMS.
BEELD

Is julle al reg ingestel om te volgende jaar te gaan stem?
Hoe weet mens vir wie moet mens stem?
HELP!
;)

2 comments:

Mart said...

Suid-Afrikaners kan, soos Amerikaners vandeesweek gedoen het, ’n verskil maak deur te registreer om in volgende jaar se verkiesing te stem.

Dit is die boodskap van mev. Helen Zille, DA-leier, in haar weeklikse aanlynnuusbrief, SA Today.

“Vandeesweek het miljoene Amerikaanse stemgeregtigdes (sen.) Barack Obama as die VSA se 44ste president gekies.

“Hulle het die mag teruggevat van hul verkose verteenwoordigers . . . volgende jaar het Suid-Afrikaners die geleentheid om dieselfde te doen. Hulle moet egter eers registreer om te kies,” het Zille gesê.

Volgens Zille is 2009 se verkiesing belangrik omdat die Suid-Afrikaanse politiek ’n nuwe fase betree “met die verbrokkeling van die regerende party en die herskikking van politieke partye onder die vaandel van die Grondwet”. Sy meen die ANC sal nasionaal nie ’n tweederdemeerderheid kan behaal nie en dat die DA in sommige provinsies die ANC uit die kussings kan lig.

BEELD

johnny said...

Ek het geregistreer en gaan aanstaande jaar vir die eerste keer sedert 1994 weer stem. Dit was die inding om nie te stem nie, dan kan jy met oortuiging aankondig dat jy die Codesa onderhandelings verfoeilik gevind het en nie deel van die stelsel wou wees nie.

Maar die tyd stap aan. Vandag is die uitdaging om die getal parlementslede van die Christen Demokrate in die parlement te vermeerder. Die CDA is die gewete van die parlement en sy afgevaardigdes is bereid om God se woord daar uit te dra.

johnny