Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/01/2008

Die Shikota Party

Mens kon die dreunsang reeds van ver af hoor.

Ons was vier in die motor en was gelukkig om ‘n heel gerieflike parkeerplek net om die draai van die Sandtonse konvensiesentrum te kry, skaars honderd tree se stap.

Saam met drie vriende van ‘n Christen Demokratiese party het ons tussen die toi-toiende skare gevleg op pad na die koffie kroeg regoor die konvensiesaal.

Mens kon netsowel in ‘n ander land gewees het. Ons was die enigste blankes op daardie stadium, maar die dansende en jillende swart skare het ons bloot geïgnoreer. Hulle het gekom om ‘n nuwe politieke party te stig, en vandag sou ek kon beleef hoe die Afrika mens se psige werk.

Die dansers was in twee groepe opgedeel van sowat honderd elk. Een groep sal van links na regs na die ingang van die sentrum inbeweeg, terwyl die ander groep uitbeweeg vir ‘n paar sekondes se blaaskans. Dan kom hulle soos ‘n golf terug met hernieude dreunsang en gille, party met ‘n glimlag en spierwit tande, ander weer met diep fronsende gesigte wat getuig dat hulle met ernstige sake besig is. Op die sypaadjie staan die skare drie diep, klap hande ritmies en sing lustig saam.

Die gesig om my vorm beslis nie deel van my verwysingsraam nie. Vandag sien ek ‘n heel ander beskawing, ervaar ek ‘n heel ander kultuurbelewenis. Toe Muleleki George opdaag bars daar ‘n oorverdowende gejuig los en hy word summier deur die een dansende groep gekaap om saam te toi-toi.

Die dik glasmure van die koffiekroeg het die ergste lawaai buite gehou. sodat mens ‘n heel doeltreffende gesprek kon voer.

Ons Afrikaners kan beslis die dinamiek van ‘n politieke ‘rally’ by swartmense kom leer.

Die vergadering sou om elfuur begin. Twintig voor elf was die skare toeskouers in die saal reeds hees gesing en gedans en het die eregaste, mnre Lekota en Shilowa luid begroet toe hulle die saal binnestap.

Helen Zille en haar gevolg het kort daarna ingekom, maar anders as die geval met Bantu Holomisa, was daar geen applous vir haar of haar partylede nie.

Die vergadering was heel gepas geopen met die sing van Nkosi. Ek het gewonder wanneer ek ooit die geleentheid sou kry om die volkslied te sing, want van al die luister na die singery voor rugby toetswedstryde ken ek die woorde redelik goed. Ja, ek moet bieg, sedert 1994 het ek Nkosi nog nie ‘n enkele keer gesing nie – wys jou net! Die lied sing nogal lekker, maar die strofe “ Uit die blou van onse hemel…” lê baie swaar op die swart tong, hoewel dit nie aan entoesiasme by die sangers ontbreek het nie.

‘n Charismatiese pastoor het die vergadering met ‘n opruiende gebed in verskillende swart tale geopen. Nog voor die man amen kon sê, bars die hele saal uit in applous, maar hy maak tog klaar. Met ‘n gloeiende gesig hou hy sy hande omhoog en seën die vergadering.

Teen hierdie tyd het die toeskouers tot byna vierduisend aangegroei.

Shilowa is ‘n innemende mens en duidelik ‘n geliefde persoon onder die afgevaardigdes. Hy praat uit die vuis en het selfs ‘n deel van sy toespraak in Afrikaans gelewer, iets waarmee hy spesiale applous van die swart skare verdien het.

Lekota praat vlot Afrikaans, maar sy toespraakskrywer klaarblyklik nie. Hy het sy toespraak afgelees en het ‘n felle aanslag om die huidige ANC leierskap gedoen. Die res is geskiedenis.

My indrukke?

- Van die 4000 + mense wat teen etenstyd opgedaag het was daar seker so ‘n stuk of vyftien blankes, insluitende ons vier en Helen Zille se groep. Op die verhoog, waar tien hooggeplaasdes gesit het, was daar nie ‘n enkele wit gesig nie. Dit was kennelik ‘n nuwe swart politieke party, sonder ‘n sweempie toenadering tot witmense.
- Die konvensie het baie geld gekos. Mense is met busse vanaf die Oos Kaap en ander provinsies aangery en hul verblyfkoste in die Sandtonse hotelle is ook betaal. Mens wonder deur wie? Westerse regerings?
- Gemeet aan die getal afgevaardigdes, asook die populistiese aard van die konvensie, gerugsteun deur groot geld, raak die DA se dae nou min om as amptelike opposissie te paradeer.

johnny

13 comments:

Mart said...

Dankie vir die vertelling, Johnny. Jy het omtrent 'n ondervinding gehad! Ek het dit baie geniet om die storie te lees...

Gideon said...

Dankie Johnny! Jy is nogal skryfvaardig - goeie detail. Wie weet kry die ANC nog te doen met 'n koalisie wat sy man kan staan.

Lyk my ek kan jou nogal vertrou met 'n mening (ek is maar treurig wanneer dit by politiek kom!): Wat dink jy van die moontlikheid van 'n koalisie tussen Zille/deLill/Lekota ens.?

Michael said...

Ek kan ook maar net dankie se Johnny! Dit is nou voorwaar 'n voorreg om jou ervaring te deel.

Ek bid nou soveel lekkerder oor die kwessie.

Groete,
Michael

johnny said...

Hallo Gideon,

Jou voorstel van 'n koalisie tussen die DA, Shikota, De Lille en die Christelike partye is voor die hand liggend. Die Shikotas is vir Zille soos manna uit die hemel. Laasgenoemde fokus op die swart stem en maak geld bymekaar vanuit die sakesektor en oorsese regerings, terwyl Zille op die wit, bruin en indiër kiesers fokus.
OP leierskapsvlak kom hulle bymekaar.

Ja, hier kom 'n ding!!

Dankie vir die kompliment; ek het 'n paar boeke agter my naam, en skryf graag as tyd ny toelaat.

johnny

johnny said...

Dagsê, Michael,

Bly op jou knieë vir 'n ernstige saak.

Hoewel ek deernis het vir Zuma, vanweë die moeilike tye wat hy moes deurleef, lê my lojaliteit by my land en my God. Ek is vas oortuig ons ondervind tans 'n Goddelike ingryping in die land se politiek. Die blote feit dat die vergadering met gebed geopen was, was genoegsame bewys dat die Heilige Gees in die saal teenwoordig was. So ook die spontane halelujas tydens die gebed.

Die stigting van hierdie party is God se manier om te verseker dat die Afrikanervolk nie ten gronde sal gaan deur emigrasie nie.

Daar is weer hoop vir almal. Vir ons gewone Christene is die aangewese weg om vir die Christen Demokrate te stem, hulle sal waarskynlik in ieder geval in koalisie gaan met die Shikotas.

Mens vind 'n politieke tuiste tussen diegene wat jou waardestelsel deel en mense wat vir God sentraal in hul daaglikse aktiwiteite stel, ook in 'n politieke party.

johnny

Mart said...

Johnny, wat is die "Christen Demokrate" se uitgangspunt/beleid? Vertel ons meer van hulle?

Hulle is nuut vir my.

Mart said...

Zille was blykbaar hard toegejuig deur die skare wat "Zille, Zille" uitgeroep het voordat sy haar toespraak begin maak het. Ek lees sy was nogal lekker verras daaroor.

Dit blyk uit gister se gebeure dat daar 'n sterk gevoel onder derduisende mense heers dat Zuma nie in die saal moet sit nie... Al beteken dit dat Lekota en Zille en wie ookal nog, in koalisie moet gaan.

Ai, die politiek bly maar interessant!

(Ja Gideon, Johnny is 'n swaargewig hier onder ons! Lees maar altyd gerus wat hy skryf.)

Groete
Mart

Henrietta said...

Hallo Johnny! Baie dankie, soos elke keer, "hang ek aan jou lippe", by wyse van spreke. So bly jy praat van God se ingryping- my huis is propvol mense, kinders uit Engeland is hier en ons kuier saam as gesin en groter familie, en dwarsdeur ons gesprekke oor die politiek hier, is ons almal se versugting en sluit ons gebede by michael s'n aan: dat die Here se plan en wil vir SA sal geskied.

Mart said...

(Terloops, wat ek so van hierdie blog hou, is dat ons nie ons tyd verspeel met skinderpraatjies wat ook in die media voorkom nie. Hierdie is nie 'n goedkoop, styllose forum waar mense mekaar (of bv. Afrikaanse sangers) sit en aftakel nie. Ons bespreek eerder belangriker kwessies! Te lekker en dankie daarvoor.)

johnny said...

Hallo, Mart,

Ons het ongelukkig geloop nadat Lekota gepraat het en het nie gesien hoe Helen Zille haar politieke vaardigheid ten toon gestel het nie. Volgens vanoggend se Rapport moes ons seker maar 'n paar uur langer gebly het, maar ander verpligtings het ons weggeroep.

Aangaande die Christen Demokrate: ek onderneem om een van hulle se besonderhede vir jou deur te gee sodat jy hom en sy mede Christene kan nooi om aan die blog deel te neem. Dan kan mens alles direk uit die perd se bek hoor.


Mart, was dit nou nodig om aan almal te verklap dat ek 12 kg oorgewig is?

johnny

Mart said...

Hehe!! Dis nie die "gewig" waarna ek verwys het nie! As die 12kg waar is, lê daardie gewig van jou nek af boontoe.

Dankie, ek sal graag in die volgende paar weke van die Christen Demokrate se leiers nooi om aan ons blog deel te neem. Soos jy sê: Uit die perd se bek!

;))

Liza-Nel said...

Johnny is jy sowaar 12 kg oorgewig!! Oppas net vir stoele stukkend sit, lyk my dis deesdae die in-ding daar by julle. Maar hulle sê ook toi-toi is goeie oefening.
:))
Psst. Lekker verslag wat jy gepos het.

Henrietta said...

Soos ek alreeds op 'n ander draad geseg het, reken ek dit is nou die tyd van alliansie-politiek. Ek het daar oo daardie draad gewonder of die nuwe party kwaad genoeg is vir die Polokwane-spul dat hulle nie met HULLE sal saamwerk nie. Wat vir my geweldig interessant is, is WIE na Saterdag se partytjie uitgenooi was....

Thereby hangs a tale/(of tail?)... Lyk my sommige mense is stinkend jaloers dat hulle nie genooi was nie.... (raai wie???)


Hier is Motlanthe se vlerkslepery al duidelik:
http://www.news24.com/News24/South_Africa/Politics/0,,2-7-12_2419863,00.html
Ek dink ons gaan nog veel hiervan sien tussen die partye....