Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/16/2008

DIE GEBED


Wat bedoel ons wanneer ons hierdie woordjie gebruik? Wat beteken dit om te bid? Waarom bid ons?
Hierdie vrae het my al baie, baie laat dink. En omdat ons só baie variasies van verstaan en beoefening van die gebed het, luister ek gewoonlik met toegespitste aandag na hoe en wat ek bid, en ook wat ander bid.

Soos dit in die Bybel gebruik word, het dit basies twee betekenisse: “aanbid” én ook “vra” of iets van God “afbid”. Ten diepste beteken die woord om jouself in onderwerping voor iemand “neer te werp”. Hierdie betekenisse kom dan ook goed tot hulle reg toe Jesus vir Sy dissipels leer om te bid. Dit is ook insiggewend wat Jesus as eerste en tweede prioriteite in Sy lering stel (Luk.11:2 e.v.):
1. Ons Vader wat in die hemel is (onderwerping, verheerliking, lof en prysing)
2. Laat Ú Naam geheilig word, laat Ú koninkryk kom, laat Ú wil geskied (God se prioriteite eerste!!)
3. Gee ons vandag ons daaglikse brood (óns prioriteite ondergeskik aan God s’n).
Na my mening behoort hierdie die patroon van elke gebed te wees.

Die interessante vraag is nou: Wanneer ek tot God nader in gebed, met watter gesindheid / prioriteite / agenda nader ek tot Hom? Tree ek toe om Hom te verheerlik? Met Hom gemeenskap te hou? Hom te loof en te aanbid? Of is ek maar net ingestel op my lysie van versoeke? Ag, as ons maar meer male net eenvoudig voor Hom gaan kniel net om vir Hom te sê dat ons Hom liefhet, dat Hy mý Vader is, dat Hy wonderlik verby is - sommer net met Hom gemeenskap hou, sommer net so ‘n bietjie in Sy arms gaan lê sodat Hy ons kan vashou en toevou, soos ‘n moeder haar kindjie!
Kyk net wat lees ons in Jak..4:3: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid en dit [wat julle beoog om te ontvang] in julle welluste deur te bring” [my inlas vir duidelikheid].
Ek glo dat God soms “huil” as Hy sien en hoor met watter ingesteldheid ons voor Hom kom kniel!

Die openbare gebed.
Wanneer ons as gelowiges bymekaarkom (soos die Here se Woord ons leer in Hebr.10:25), bid ons ook “saam”. Dit beteken nie dat elkeen sy eie gebed bid nie, maar dat die voorganger namens die vergadering tot God nader. Hy/sy verwoord die vergaderde gelowiges se gebed, en húlle luister, en stem in die gees saam met daardie gebed. So word dit die gebed van die vergaderde gelowiges.

Dit is nogal interessant hoe so ‘n “openbare gebed” kan verloop. Dikwels word só ‘n gebed eintlik ‘n preek vir die hoorders. Dikwels kry mens die indruk dat die bidder (eintlik vir God, met wie hy/sy praat) ingewikkelde verduidelikings gee, en selfs vir Hom sekere Bybelse waarhede uitstippel, uitlê en verduidelik! Dit is nogal te verstane, gegewe dat die bidder moontlik die hoorders mooi wil laat verstaan waaroor dit nou eintlik gaan. In die Psalms kry ons dikwels waar die bidder sy nood beklae, vir God herinner aan Sy beloftes, en eintlik vir Hom sê: “Ek verlaat my op U beloftes, en in die geloof eien ek dit vir myself toe”.

Tradisionele gebede.
Daar is mooi tradisies in ons kerk. So is die konsistorie-gebed ‘n voorbereiding en ‘n petisie aan God om die komende erediens te seën. Die voorganger/prediker se openingsgebed vra dat God deur Sy Heilige Gees die Skrifwaarhede in die boodskap vir ons goed sal laat verstaan en ons harte ontvanklik te maak. In die Slotgebed (dikwels genoem die “kanselgebed”) vra die voorganger genade dat ons die Skrifwaarhede van die boodskap sal gaan toepas en dit sal uitleef. Laastens word ons dank vir die seëninge, ons hartseer, siekte, bekommernisse en nood aan Sy voete gelê - soos ‘n kindjie wat sy lot aan pappa of mamma beklae, met die (soms onuitgesproke) pleidooi vir ‘n oplossing.

God nooi ons ook uit om te waag: Om vir siekes die hande op te lê en vir hulle te bid (Mat.16:18; 19:13; Hand.9:12; Luk.4:40 ens). Ons waag dit nie maklik nie, omdat ons (verkeerdelik!) dink: “Sê nou maar ‘ek’ het nie ‘sukses’ daarmee nie?” Nee! God besluit daaroor! Hy kan! Hy wil moontlik Sy krag juis deur daardie handoplegging en gebed vertoon.

Inderdaad: “... die gebed van die regverdige het groot krag”. (Jak.5:16).

Ek sou graag julle gedagtes ook omtrent gebede wil hoor.

Groetnis.

Gideon.

6 comments:

Henrietta said...

Heerlike onderwerp, Gideon! Ongelukkig is my tyd bietjie skraps om reg te laat geskied aan elkeen van die sake wat jy hier aanroer. (Dis amper so wyd soos die Heer se genade - hehehe!) Daar's min geeteslike onderwerpe waarvan daar meer boeke op my boekrak is, as oor gebed.

Een van die grootste lesse wat ek in my gebedslewe moes leer, is dat dit net soveel oor die bidder (dus oor myself as bidder, my houding, gesindheid, geestelikge groei) gaan, as om God tot Wie ek bid, die persoon vir wie ek bid en/of dit waarvóór ek bid - en dit is gewoonlik die heel laaste ding waaraan ons dink as ons bid....

Yf said...

Dag Gideon, Henrietta,
Wat jy van die openbare gebed sê het my aan iets laat dink.

In die goei ou dae van die bidure Woensdagaande het een van ons ds. altyd gesê as 'n 2 sekere ou ooms klaar gebid het bly daar niemand oor om voor te bid nie en kan ons maar huistoe gaan. Die een het altyd vir Kommuniste, die Roomse Gevaar en al wat sleg is gebid en die ander een vir al die 'goeie' mense, wie hulle ookal was. Mens wonder onwillekeurig oor sie dit nou eintlik gegaan het. Dit het my persoonlik 'n afkeer in lang gebede gegee, veral as mens ook onthou dat die mees allerkragtigste gebed ooit net 75 woorde bevat en nie soos die heidene se eindelose geprewel nie. Dink aan die kontras tusse Elia en die Baalpriesters se gebede. 'n Paar jaar gelede was daar 'n vreeslike ophef gemaak vna Jabes se gebed. Wat dink julle daarvan - hoe moet mens dit verstaan? Laastens, moet nooit die terapeutiese waarde van gebed onderskat nie - dis wat vir my so lekker is van aanhoudend bid. Rêrig laastens, ons hoef mos net een keer te vra en dan dankie te sê en nie aanhoudend te smeek nie, of hoe?

Gideon said...

dd

Gideon said...

Yf, ja - daardie gebed van Jabes... Ek het dit gaan oplees (dis nou in die Bybel), en twee stukke wat daaroor geskryf was, gelees. Toe gee ek moed op en verloor belangstelling. Myns insiens was daar heel te veel in Jabes se mond gelê.

Herhaling van gebed? Ek het eendag jare gelede naby Parow op die N1 gery toe 'n ou my amper verongeluk met sy roekelose bestuur. Ek het lelike goeters begin sê, opeens besef "Hokaai!!!" en net daar vergifnis gevra, en gebid dat die Here daardie ou bewaar en tot inkeer bring.
Daardie aand, terwyl ek bid, vra ek weer vergifnis vir dieselfde ding en weer sê ek vir myself: "Hokaai!!! God het mos nou alle reg om vir my te sê: 'Nee, Ek weet nie waarvan jy praat nie". Hy het mos beloof as Hy eenmaal vergewe het (daar op die snelweg) sal Hy nooit weer daaraan dink nie. Nou herinner ek hom weer aan iets, en vra om vergifnis vir iets wat reeds vergewe is.
Net daar begin ek Hom weer prys vir sy groot goedheid.

N.S. Het met bostaande plasing per ongeluk die "publish" gedruk, en tow weet ek nie waar om te druk om hom te "edit" nie.

Groetnis.

Gideon.

Yf said...

Dag Gideon,
Betreffende wat Jakobus oor die tong te sê het, 'n ds. het eenkeer die wysheid kwyt geraak: "Voor jy oor of van iemand iets wil sê, bid eers vir die persoon." Begryplik hoe die inhoud van die gesprek dan verander. Dis nog 'n waarde van gebed - dit vat die skerpheid van die klein orgaantjie weg sodat dit nie op 'n hart van klip 'n fonk maak wat 'n groot vuur aansteek nie, 'n Sagte woord keer die grimmigheid af.

Vrede daar

Michael said...

Gebed is vir my die wonderlikste werklikheid van God se teenwoordigheid. Sonder gebed is dit so maklik om te begin glo dat die wêreld sonder God is. Daarmee bedoel ek nie dat gebed my "bewys vir God" is nie. Wat ek bedoel is bloot dat dit my verhouding en direkte toegang tot God is en daarsonder beteken al die bewyse van God se bestaan maar baie min.

Wat help dit as jy weet God is daar en Hy is 'n persoon wat Liefde self is en jy kan nie met Hom praat oor al die wonderlike dinge wat Hy doen nie? Wat help dit as ons Hom nie deel van die herstel van die sondeval kan maak in ons eie lewens nie? Wat help dit as ons nie kan uitroep dat Christus weer moet kom nie?

Gebed verander my omdat dit tot 'n ware lewende God gerig word en gehoor word, nie omdat dit een of ander opium vir my siel is nie.

Groete,
Michael