Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

11/25/2008

Depressie en selfmoord gedurende die Feesseisoen...

Terwyl hierdie tyd van die jaar die meeste mense opgewonde maak, is daar ongelukkig ook duisende wat nou juis in 'n diep depressie verval. Ek het 'n geskeide vriend wat in die laaste tyd erg depressief voel omdat hy nie sy seuntjie oor Kersfees mag sien nie. Die Kerstyd is ongelukkig ook 'n tyd wanneer 'n baie hartseer fenomeen meer prominent raak, naamlik die beplanning en uitvoer van selfmoord.
*Lees asb verder onder "opmerking/s"....

9 comments:

Mart said...

Die sesde gebod sê baie duidelik: “Jy mag nie moord pleeg nie.” Hiervolgens is enige vorm van moord en doodslag verkeerd, ook selfmoord. Die Heidelbergse Kategismus sê in sy verklaring van hierdie gebod: “Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie.”
God is die Gewer van die lewe. Daar is 'n Bybelse argument dat elke baba wat gebore word, ʼn geskenk van God aan sy of haar ouers is. Derhalwe sou mens kon sê dat niemand dus die reg het om te besluit oor die lewe van enige mens nie - behalwe in die geval van ’n regter wat ʼn moordenaar ter dood veroordeel en wat as regter in diens van God staan (Rom. 13). Niemand mag dus ook self besluit of hy/sy sal lewe, of nie.

Is depressie sonde? Is selfmoord sonde? Hoe maak ons wanneer die "swart hond" ons vriende oor die Kerstyd aanval?

sharondippenaar said...

Hallo Mart
Hierdie is 'n seer onderwerp. Depressie en watter vorm ookal is erg baie erg. Ek dink dat ons as kinders van God wat weet van vriende of familie wat in hierdie feestyd depressief raak moet daadwerklik iets doen om hierdie mense by ons te betrek. Grootste rede in die feestyd is eensaamheid of dan die gevoel van nie saakmaak of nerers pas nie. Mag die Vader ons help om die nood om ons raak te sien en iets daaraan te doen. Of depressie sonde is - wel ek weet nie - chemiese wanbelans vind wel plaas - Ek glo dat die Vader se genade groot genoeg is om daardie antwoord te gee.

Mart said...

Hallo Sharon

Ek dink jy raak 'n belangrike punt aan. Mens moet probeer uitreik na eensame mense tydens die Kersseisoen. Ek dink altyd aan die straatkinders en die kinderhuis-kinders as dit Kersfees word...

Haweloses en die armes ontstel my ook erg in hierdie tyd - meer as gewoonweg. Maar dit is nie net die voor-die-hand-liggende mense wat gedurende die Feesseisoen in emosionele nood is nie. En dis juis hulle wat dikwels deur die sif val.

Groete
Mart

Mart said...

"Depressie, selfmoord neem baie toe in feestyd.

Die feestydperk oor Kersfees en die Nuwejaar is vir miljoene mense die mees neerdrukkende tyd van die jaar en hiermee saam verhoog die risiko van depressie en selfmoord.

Die Depressie- en Angssteungroep (DASG) het gewaarsku dat mense veral dié tyd van die jaar bedag moet wees op die tekens van mense met selfmoordneigings.

Statistieke dui daarop dat die aantal selfmoordgevalle wêreldwyd tussen Oktober en Desember toeneem. 'n Studie in Swede het gewys dat die aantal mans wat op Nuwejaarsdag selfmoord pleeg tienvoudig toeneem, het mnr. Gareth Mitchell, hoof van die DASG, gister gesê.

``Daar is mense wat dié tyd van die jaar verwens en die voorkoms van depressie en selfmoord is baie hoog,'' het me. Colinda Linde, 'n sielkundige, gesê. ``Dit geld veral mense wat onlangs iemand verloor het soos 'n kind wat gesterf het of gëemigreer het.''

``Kerstyd herinner mense aan hul verlies, want dit is 'n tyd wat jy veronderstel is om met familie en vriende deur te bring,'' het Mitchell gesê.

Die geldelike implikasies en die druk om meer geld uit te gee as wat jy kan bekostig, kan ook tot erge spanning ly. Volgens Linde veroorsaak skuld én skuldgevoelens verdere probleme by mense wat nie al die geskenke en kos kan bekostig nie.

Boonop voel sommige mense veral weerloos rondom die oorgang na 'n nuwe jaar. ``Mense het sekere verwagtings en dit kan 'n anti-klimaks wees,'' het Linde gesê.

``Jy kan help as jy iemand ken wat moontlik selfmoordneigings het,'' het Mitchell gesê. Let veral op mense wat oor selfmoord of die dood praat.

``Mense beplan dikwels ook 'n selfmoordpoging deurdat hulle voor die tyd hul sake in orde probeer kry.''

Minstens 75% van mense wat selfmoord pleeg, het voor die tyd familie of vriende op die een of ander manier gewaarsku.

Vir nadere inligting bel die DASG by (011) 783 1474."

*Die Burger

Alet said...

Ek stem saam; die mense wat oor Kerstyd uit kristalglase drink en groot Kersetes beplan kan verseker enige dag netso eensaam word soos die straatkinders gedurende die Kerstyd.

Dis natuurlik ook 'n sensitiewe saak oor hoe mens die issue van depressie of eensaamheid hanteer, want mense kan aanvoel as ander vir hulle jammer voel en dis nie die gevoel wat mens wil beklemtoon nie.

Die idee van samesyn moet eerder die fokuspunt wees om mense te betrek en lekker saam te kuier oor Kerstyd.

Alet***

Michael said...

Ek wil met Alet saam stem dat die "nie-depressiewe" mense moet hulle vreugde koester en met die minder bevooregdes deel. Dit sal werklik nie help om 'n depressiewe persoon die kans te gee om die trand van 'n sosiale verkeer te bepaal nie.

Daar is vir my baie in die gedagtes rondom "wat 'n gesonde sosiale lewe is" en tot hoe 'n mate is dit toeganklik vir alle mense. As ek kyk na die wêreld rondom my dan dink ek dat daar tye is wat die samelewing 'n swakker prestasie in hierdie verband het (uitsluitend en ongesond in die algemeen). Dan is daar weer tye wat die samelewing, met al sy unieke sosiale groepe weer baie beter vaar wat kwaliteit en toeganklikheid betref. Dit is 'n dinamiese interaksie van groepe en individue.

(Let wel as ek van toeganklikheid praat dan bedoel ek dit nie as 'n gedwonge toeganklikheid tussen kultuur groepe heen. Ek sien dit as binne herkenbare sosiale groepe.)

Die vraag is dan hoe gesond is ons samelewing en tot hoe 'n mate is ons depressiewe individue se toestand die gevolg van wesenlike probleme in ons samelewing?

Groete,
Michael

Mart said...

Depressie word dikwels "die siekte van ons tyd" genoem. Dit blyk egter onvanpas te wees wanneer besef word dat bv. Koning Saul, Keiser Tiberius, Koning Louis XI, President Lincoln, Mark Twain en Sir Winston Churchill almal aan depressie gely het.

Ander bekendes wat minstens een depressiewe episode beleef het, was o.a. Sigmund Freud, John Lennon, Thomas Edison, Barbara Streisand, Martin Luther, Carol Burnett en Billy Graham.

Die voorkomssyfer van depressie is so hoog, dat dit as "the common cold of mental illness" bestempel word.

Mart said...

Depressiewe versteurings bestaan hoofsaaklik uit MAJOR DEPRESSIE en DEPRESSIEWE NEUROSE (Distimie).

Major depressie word gediagnoseer wanneer minstens vyf vd volgende voorkom:
* Eet- en gewigsversteurings
* Slaapverteurings
* Psigomotoriese versteurings
* Verlies aan belangstelling of genot
* Verlies aan energie
* Lae eiewaarde en skuldgevoelens
* Probleme om te dink of te konsentreer
* Herhalende gedagtes rondom die dood of selfmoord

Depressiewe Neurose word gekenmerk deur 'n depressiewe gemoedstemming by volwassenes, kinders en adolessente wat twee jaar by volwassenes en een jaar by kinders en adolessente aanhou.

Hierdie gemoedstemming is nie genoeg om as major depressie gediagnoseer te word nie.

My volgende lesings oor depressie volg bietjie later...Hehe! ;))

Mart said...

'n Volgende kategorie wat depressie insluit, is bipolêre versteurings.

Daar is 'n paar soorte:
* Bipolêre versteuring, gemeng. Hier kom 'n volledige kliniese beeld van maniese, asook majot depressiewe episodes voor.
* Bipolêr, depressief. Hier is die persoon meer depressief
* Bipolêr, manies. Hier is die persoon meer manies
* Siklotimie. Hier hou die versteuring vir minstens twee jaar aan maar die duur en intensiteit is nie voldoende om aan 'n bipolêre versteuring te voldoen nie.

Daar is verskeie soorte depressie:
* Oorerflike depressie en reaktiewe depressie
* Psigotiese en neurotiese depressie
* Nageboortelike depressie
* Involusionele depressie
* Gemaskerde depressie
* Sekondêre depressie

Dis dus duidelik dat 'n depressiewe persoon professionele hulp moet kry sodat daar vasgestel kan word wat presies die probleem is. Daarvolgens word behandeling voorgeskryf en toegepas.

Mense is dikwels onverskillig teenoor hul eie, of ander mense se depressie. Dit is 'n gevaarlike en dodelike siekte wat beslis professionele aandag nodig het...

Groete
Mart