Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

10/01/2008

Om kultuur te hê

Hulle was reeds ses maande in die nuwe omgewing, maar kon maar net nie hul voete in die vreemde Pretoria vind nie. Blackie het sy eie besigheid begin en diefwering en staalomheinings begin maak in sy garage. Hermien het by ‘n tuisnywerheid aangesluit waar sy elke dag koek en beskuit lewer. Hulle kon nogal ‘n bestaan maak, maar o wee, hulle was so eensaam. Pretoria se mense se teelysies is almal vol en hulle kon letterlik nêrens gaan kuier nie.

Totdat Hermien op die blink idee gekom het dat hulle op kultuurterrein moet inskakel. Skielik was hul program oorvol: Maandagaande was dit leserskring, of kerkraadsvergadering, Dinsdae weer skoolaand, Woensdag was dit een van ‘n reeks alternatiewes, soos Voortrekkerparade, tuisnywerheid-vergadering of Pretoria-Noord se sakekamer, Donderdagaande weer kerkkooroefening en Vrydagaande was dit Staatsteater vir opera, ballet of simfonie orkes.

Tot oujaarsaand.

Uitgeput van al die afsluitingsfunksies wat hulle die afgelope ses weke moes bywoon, sit hulle onder die lapa agter hul huis. Blackie het vir hulle ‘n oujaarsdoppie geskink. Ewe selfvoldaan probeer hy om sy stem amptelik te laat klink: “Cheers Hermien, jy was darem moers om ons ingeswitch te kry by P-Town se kultuur. Dis nou bakgat gewees, ou doll. Cheers op die volgende vol kultuurjaar,” en hy lig sy Klippies en Coke plegtig omhoog.

Hermien neem ‘n slukkie van haar Whiskey. Half onseker en met ‘n stem wat dunner as gewoonlik is sê sy meewarig: “ Nee, Blackie, dit werk nie...”

“ Hoe meen jy dit werk nie? Wat werk nie?”

“Jy’t g’n kultuur nie, Blackie.”

“G’n kultuur nie, nou wat se tjol is dit, doll?”

“ Sorry, my man, maar ons kan nie weer so ’n jaar hê nie.”

Toe strip ou Blackie se moer. Hy staan op, plonk die glas op die sleepertafel neer en verklaar driftig: “Jy sê ek’t g’n kultuur nie, g’n kultuuuuuur nie?! Wat dink jy het ek elke aand hierdie jaar geblêrrie doen? Dit was kerkkoor, ballet, simfonie orkes en al daai str*nt, en nou sê jy ek’t g’n kultuur nie........?!!”

johnny

4 comments:

Elna said...

arme ou blackie. agv sulke oordoenery, doen ek die kultuurding liefs slegs een maal per jaar. kry ook nie tyd vir meer keer nie. aardklop ja. dis weer sulke tyd. ek en pappie gaan doen die kultuurding daar. daar's stunning produksies. met boodskappe en baie stof tot nadenke. natuurlik robbies ook. praat weer volgende week!

Liza-Nel said...

Toemaar Blackie, ek sou ook nie by Agnossie-stad se kultuur kon inskakel nie, maar aan die anderkant doen Coke en klippies dit waaragtig ook nie vir my nie...

*koes*

Liza-Nel said...

"On second thoughts" - miskien moet Blackie daaraan dink om aan die Oos-kus êrens vir hom 'n 'strônd-huis' aan te skaf - dit kan dalk net help om hom in die 'tel' te kry...

LOL *koes*

Mart said...

Ja, Liza. 'n "Strondhuis" terwyl hy in "Menlopork" bly en gereeld die "Stotsteater" saam met sy "mo" en "po" bywoon.... Ai, die Pretorianers kry maar net nie die "a"-klank reg uitgespreek nie.

Verder het ek baie simpatie met Blackie....Pretoria se diep gevestigde sosiale clicks is nie vir sissies nie!

Nou koes ek ook! Sorry julle!!

Mart