Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

10/27/2008

Die fyn balanseer-toertjie tussen vryheid van spraak en haatspraak...

Kato vra in een van haar laaste postings wat is ons idee oor haatspraak. Dis 'n universele tema en kort-kort in die nuus (dink maar aan Sapiro se cartoons en dié oor Mohammed so 'n tydjie gelede!) So, kom ons gesels daaroor...

7 comments:

Mart said...

Op 13 Augustus 2008 verskyn die volgende in Volksblad:

Wanneer ontaard vryheid van spraak in haatspraak?

Dít is die vraag wat gister in ’n debat oor die media se rol in die samelewing geopper is.

Ter sprake was die homofobiese uitsprake van die joernalis Jon Qwelane in die Sunday Sun, asook dié van David Bullard, gewese rubriekskrywer van die Sunday Times, oor agterstande in Afrika.

Die paneellede was dr. Yvette Abrahams, Wes-Kaapse kommissaris van die kommissie vir geslagsgelykheid, Brendan Boyle, mede-redakteur van die Business Times, en me. Vanessa Ludwig, direkteur van die lesbiër- en gay-organisasie Triangle Project.

Die media moet baie meer self-regulering toepas, want tesame met vryheid van spraak, kom ’n groter mate van verantwoordelikheid, het Abrahams gesê.

Sy het gesê vryheid van spraak moet verwerf word – dit is nie ’n reg nie. Volgens haar dra die media voorts by tot die feit dat veral swart lesbiërs op ’n uiters patriargale wyse in die samelewing uitgebeeld word. Sy het ook gesê bykans geen koerant het verslag gedoen nie oor die hofsaak wat verband hou met die moord op ’n jong, lesbiese vrou van Khayelitsha in 2006, me. Zoliswa Nkonyana.

Boyle het in sy spreukbeurt gesê dat vryheid van spraak moet geskied in die konteks van die tyd en die gemeenskap waarin dit plaasvind. Hy het egter van Abrahams verskil en gesê dat vryheid van spraak kragtens die Grondwet ’n reg is en nie verwerf moet word nie.

“Ek is egter bekommerd oor hóé ons as joernaliste die ruimte wat vryheid van spraak meebring, benut.”

Hy het toegegee dat Bullard onverantwoordelik opgetree het in sy rubriek.

“Ja, dit was miskien sy reg tot vryheid van spraak om daardie uitsprake te maak, maar dit is uiters onverantwoordelik om dit in ’n openbare ruimte soos in ’n koerant met nagenoeg 3 miljoen lesers te doen.”

Ludwig het op haar beurt gesê die media versterk eerder vooroordele, soos rassisme, homofobie, seksisme en selfs xenofobie, pleks daarvan om die samelewing se houding en bewussyn te help hervorm.

Volgens haar het Bullard byvoorbeeld wittes se meerderwaardige gevoel teenoor swartes in sy rubriek aangemoedig, terwyl Qwelane onverdraagsaamheid teenoor gays aangemoedig het.

“Ons moet onsself afvra of vryheid van spraak beoefen word wanneer iemand byvoorbeeld ’n faggot genoem word.

“Ek glo dit skend eerder so ’n persoon se menswaardigheid,” het sy gesê.

*Liesl Peyper
VOLKSBLAD
13 Augustus 2008
KAAPSTAD

Mart said...

Wie onthou nog die dae van streng
mediasensuur?

Die nuwe Grondwet waarborg vryheid
van spraak op papier. Tog wonder
’n mens hoeveel hiervan in die praktyk gebeur en of spraakvryheid dalk net ’n mite is ...

Vroeër vanjaar is persoonlike mediese inligting van gesondheidsminister Manto Tshabalala-Msimang in die Sunday Times bekend gemaak wat uiteindelik tot ’n hofgeding gelei
het. Die minister en haar regspan
het ’n skending van haar reg op
privaatheid hierin gesien, terwyl die Sunday Times aangevoer het dat die koerant ’n reg het om sulke inligting bekend te maak omdat dit in openbare belang is.

Wat ook duidelik in hierdie
polemiek na vore gekom het, is hoe
moeilik dit is om regsterme, soos
“vryheid van spraak”, te definieer.
Want waar begin en eindig dié reg?

Wat dit nie beteken nie:

Die Grondwet omskryf die grondwetlikereg op vryheid van spraakin artikel 16, waarin daar staan datelkeen die reg het op vryheid vanuitdrukking. Miskien is dit die besteom te sê wat vryheid van spraak nie beteken nie.

Dit beteken nie dat enigeen
die reg het om sy buurman, sy
vriend, sy vyand of wie ook al in die openbaar te belaster nie. Waarom nie? Omdat die reg op vryheid van spraak, soos elke ander grondwetlike reg, ingeperk kan word kragtens artikel 36 van die Grondwet. Die persoon wie jy belaster, het ’n erkende reg om jou vir skadevergoeding te kan dagvaar. So ’n belasterde
mens het immers ook regte op
menswaardigheid en privaatheid.

En vryheid van spraak beteken
ook nie dat jy oorlog kan propageer, geweld kan aanhits of haatspraak kan verkondig nie. Dié drie aspekte van uitdrukking word spesifiek in die Grondwet self verbied.

Maar met dit gesê, is daar bitter
min ander denkbare beperkinge op
elke individu se reg om sy mening
oor ’n bepaalde saak te gee of om
deel te neem aan openbare debatte
en daar sy sê te sê nie...

*Uit Hoe vry is vry?
Philip de Bruin
Joernalis

Henrietta said...

Soms is dinge maar baie relatief ... My opinie is, dat as Christene net so sensitief soos Moslems moes wees, was daar lankal oorlog. "Die wêreld" verwag dat Christene verdragsaam sal wees, terwyl dieselfde verdraagsaamheid nie van byvoorbeeld Moslems geëis word nie. As Christene hulle op die Bybel durf beroep, word hulle baie maklik van fundamentalisme beskuldig.

Kato verwys na Hirsi Ali - Die Nederlandse verslaggewer Theo van Gogh is soos 'n bok geslag nadat hy haar wou help om die onderdrukking van Moslemvrouens aan die kaak te stel. TOE was daar ook hewige debatte gevoer oor óf dit dan nie vryheid van spraak is om dit aan die lig te bring nie.

Mart said...

‘n Bekende en tipiese voorbeeld van haatspraak is die Nazi-mars deur Skokie, Illinois.

Om die waarheid te sê, was hulle bedoeling gladnie om betrokke te raak by politieke uitlatings nie, maar eerder om net deur ‘n oorwegend Joodse gemeenskap te marsjeer met uniforms en swastika’s.

Daar was ook geen plan om iemand fisies te beseer nie en die marsjeerders het ook geen intensie gehad om enige eiendom te beskadig nie.

Die meeste mense, en veral die wat in Skokie woon, was in elk geval erg ontsteld hieroor…

Kato die Ketter said...

Vryheid van spraak en die verantwoordelikheid wat daarmee saamhang bly maar 'n tameletjie. Hirsi Ali se bv in haar outobiografie, Infidel: My Life, dat sy waarskynlik deur haar opponente vermoor sal word, maar dat dit haar nie daarvan gaan weerhou om te se wat sy voel gese moet word nie. Party van die aantygings wat sy maak teenoor Islam is so skokkend dat ek dit nie kon glo nie. Dog die historiese feite (wat ek gaan naslaan het na ek haar boek gelees het) strook met wat sy se. In die tye waarin ons leef, voel ek nie dat ek daardie feite hier (of elders) kan herhaal nie - dit kan verseker haat aanhits. Maar dan vra mense jouself af, is jou "verantwoordelike" aanslag eintlik maar lafhartigheid? Kan dit ooit verkeerd wees om die waarheid te praat? Dis 'n ou laai van totalitere stelsels - Nazisme, apartheid (ek skeer natuurlik nie Islam oor dieselfde kam nie) - om te beweer dat mense nie in staat is om die waarheid te hanteer nie. Wat eintlik maar daarby bedoel word is dat die stelsel waarskynlik nie die waarheid sal oorleef nie.

En dan is daar natuurlik die ander tameletjie van wat presies die waarheid is. Dis nie altyd so eenvoudig soos 'n historiese feit nie.

Laastens is daar baie mense wat nie die waarheid wil hoor nie; wat baie kwaad word as iemand dit waag om die waarheid te praat. Beteken dit die waarheid moet onderdruk word?

Op die ou end sal daar seker altyd mense wees wat die "envelope push" omdat hulle meer moed as die mense om hulle het. Hoe het Luther nou weer gese? Hier staan ek, ek kan nie anders nie.

Mart said...

Kato sê onder andere: "...Laastens is daar baie mense wat nie die waarheid wil hoor nie; wat baie kwaad word as iemand dit waag om die waarheid te praat. Beteken dit die waarheid moet onderdruk word?..."

As ons na die rooi bus as voorbeeld kyk, wonder ek hoe die persone wat die boodskap daarop geskryf het weet wat "die waarheid" is? Hoe weet hulle God bestaan waarskynlik nie?

Kato die Ketter said...

Ek dink hulle gebruik die woord "probably" om presies hierdie rede: Dawkins se self mens kan nie wetenskaplik bewys dat God nie bestaan nie, en dat jy ook nie wetenskaplik kan bewys dat God wel bestaan nie. Dus gaan dit nie hier om die waarheid al dan nie - niemand kan aanspraak maak daarop dat hulle die waarheid in pag het nie en dus spekuleer ons.