Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/11/2008

Netiket

Internet-etiket: 'n Kort Oorsig
(Met erkenning aan Anton Raath, 2002)

Hierdie paar reëls gee - soos die titel aandui - net 'n kort oorsig van algemeen aanvaarde etiket op die Internet.
1. Gebruik jou verstand wanneer jy bydraes lewer.
2. Volg te alle tye die reëls van die forum. As jy vermoed dat jou bydrae teen die reëls sal wees, vra eers die eienaar van die werf persoonlik.
3. As jy op 'n plasing antwoord, moenie die vorige berig verbatim aanhaal nie.
4. Antwoorde op 'n plasing kom onderaan, met uittreksels uit die vorige berig bo aangehaal.
5. Hou nuwe plasings kort en bondig. Dit verseker ook dat meer mense die plasing met meer aandag sal lees.
6. As 'n plasing nie 'n bydrae lewer nie, moet dit nie stuur nie. Antwoorde soos "ek stem saam" of "ja" (veral met die oorspronklike berig ten volle onder-aan aangehaal!) of “hê-hê-hê” is swak etiket.
7. Moet NOOIT persoonlike aanvalle teen ander lede van die forum loods nie.
8. Nuwe lede lees altyd die lysargiewe (wanneer beskikbaar) voor hy/sy 'n bydrae lewer.
9. Lees die lys se FAQ (algemeen voorkomende vrae) indien een beskikbaar is.
10. Moenie berigte kruispos ("cross-post") nie. Moet NOOIT ander lede se plasings op ander drade pos sonder toestemming nie.
11. As jy die behoefte het om 'n dondergram of vlampos ("flame") te stuur, doen dit ALTYD persoonlik en nooit op die oop forum nie.
12. Respekteer altyd ander mense se menings. As jy verskil, doen dit altyd ordentlik.
13. Gaan die spelling in jou plasings na voor jy dit pos.
14. Moenie jouself, jou werkgewer of jou produkte op 'n forum probeer verkoop nie.
15. Moenie sonder toestemming materiaal met kopiereg op 'n forum pos nie.
16. Indien jy materiaal aanhaal wat nie jou eie is nie, gee altyd die nodige krediet en verwysings.
Vir meer inligting oor virtuele gemeenskappe, raadpleeg Fernback en Thompson se uitstekende artikel, Virtual Communities: Abort, Retry, Failure?

5 comments:

Mart said...

Hierdie riglyne van Anton Raath maak nogal sin. Ek dink dat hierdie reëls een forum van 'n ander onderskei wat beskaafdheids- en intellektuele vlak betref.

Ek dink nou die dag daaraan dat "vryheid van spraak" soms verkeerd interpreteer word. Dit beteken nie dat mens nou vry is om jou soos 'n vark agter jou rekenaar te gedra nie.

Die probleem is dat aanvanklike skrywers-waaghalsigheid as prettig beskou word. Na 'n rukkie verloor mense egter hulle smaak daarvoor.

Iemand sê verlede week vir my dat ons blog se styl baie aantreklik is. Mense verskil hier van mekaar, maar dit geskied altyd op 'n gesofistikeerde, logies verantwoordbare manier.

Dis baie lekker om deel te wees van ons blog, want mens kry nie die gevoel dat jy ooit as persoon aangevat word nie. Ons bly by die interessante onderwerpe en ek het regtig al baie nuwe goed hier geleer. Dankie daarvoor.

Geniet julle Donderdag terdeë!

Groete
Mart

johnny said...

Mart,

Ek stem saam met jou.

Dit is so verfrissend om gedagtes op 'n beskaafde manier uit te ruil, sonder om onder enige verpligting te voel om die sleutelbord nader te moet trek.

Dankie vir die plasing, dit sal ons op die reguit pad hou.

johnny.

Mart said...

johnny,

Jy sal my nie glo nie, maar daar bestaan Internet forums waar daar meer as dikwels net die man gespeel word!

Om die waarheid te sê, bestaan daar huidiglik Afrikaanse geselsforums waar daar spesifieke drade spesiaal oor voormalige forum-deelnemers oopgemaak word. Die res van die deelnemers klim dan met mening in om die voormalige deelnemer tot in lengte van dae op daardie oop forum te beswadder, te beledig en te beskinder. (Ek weet jy sal my nie glo nie, maar vat my woord daarvoor. Ek suig dit nie uit my duim nie.)

Netiket sê ongelooflik baie van die soort deelnemer op elke Internet geselsforum, asook die forum as geheel.

Groete
Mart

N.S. Mag ons onderwerpe tog nooit tot so 'n mate opdroog,dat ons vorige deelnemers van ons blog moet beskinder, net om die geselskap aan die gang te hou nie. How low can you go?
:))

Liza-Nel said...

EN...
17. Moet nooit drink én tik nie...jy mag dalk die volgende oggend, naas die hoofpyn, erg in die verleentheid wees. (@-@)
18. Probeer om waar van toepassing gebruik te maak van sleutelbord-emotikone. Dit help om emosie oor te dra en ook om misverstande te voorkom...

Hier is 'n skakel vir die nuutste sleutelbord grafika - dis nogal heel prettig...
http://www.myuniversalfacts.com/2006/05/emoticons-and-smileys-their-functions.html

:-*,
Liza.

Mart said...

Dankie vir die sleutelbord-grafika skakel, Liza.