Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/29/2008

Nag van die olifante

Per geleentheid moes ek in ‘n primitiewe kamp in noord Zambië oornag.

Hope olifantmis het op die kampterrein rondgelê en verskeie gebreekte bome was bewys dat olifante die plek gereeld besoek.
Die middag haak my Land Rover se uitlaatpyp aan ’n versteekte boomstomp vas. Die ding het gekraak en ‘n geweldige dreungeluid afgegee. Al dreunend kom ek by die kamp aangery.
Die aand wou ek net die lamp uitdoof toe ek die vreemde doef-doef, doef-doef van olifantpote naby die kamp hoor. Ek sluip in die hut en rangskik die grasdeur versigtig voor die opening. Skrale troos vir beskeming…
My hart het begin spring en het met ‘n doef-doef van sy eie begin. Ek doof die lamp onmiddelik en hou my flits gereed. Die flits is waaragtig my enigste wapen teen hierdie prehistoriese diere. In die nagstilte kon ek hoor hoe die olifante se pense rommel. Dis glo hul manier om met mekaar te kommunikeer en snags in verbinding met mekaar te bly.
‘n Tak knak meteens hier reg langs die hut. By die vensteropening kyk ek reg in die agterent van ‘n olifantkoei vas.
Ek kon haar groot plooie duidelik sien.
Minstens twintig olifante wei in en om die kamp en ek kon hulle duidelik in die swak maanlig sien. ‘n Moedswillige jong bulletjie probeer om die waterdrom met sy slurp uit die boom te stamp, maar laat vaar die poging na ’n paar probeerslae. Weens my totale weerloosheid was ek nog nooit in my hele lewe so beangs nie.
Ek oorweeg dit om in die Land Rover te spring en weg te jaag, maar besef dan dat ek tussen hulle was en dat die lawaai van die Land Rover se stukkende knaldemper die diere in alle rigtings sou laat spaander. Hulle sou alles vernietig wat voorkom; vir my en die Land Rover inkluis.
Nee, ek sal dit maar stilweg moet uitsweet en wag totdat hulle weg is.
Net toe gaan die koei en skuur haar boud teen die hut se hoekpaal, sodat die geboutjie, wat skaars groter as die olifant was, begin wankel. Die termiet-deurvrete pale waaraan die kleimure vasgemaak is, knak langs my gesig.
Die volgende oomblik tuimel die hele modder-en-gras-huisie inmekaar. Ek kry ‘n hou op die kop as die dak op my intuimel. Met ‘n gedempte “bliksemse olifante…” kruip ek met paaiemente uit die rommelhoop uit.
Die naaste olifant was toe so vyftien tree weg. Met bonsende hart lê ek eers doodstil in die hoop kluite en gras. Toe die naaste olifant begin aanstap, kruip ek vinnig na die Land Rover en skakel die se enjin aan. Sonder sy knaldemper gee die enjin ’n onaardse gebrul en verskeur die nagstilte met knalle wat soos kanonskote weergalm.
Die olifante se verskrikte trompetgeskal klink selfs harder as die enjin se brul toe ek vetgee. Verskrik storm die trop deur die spruit al langs hul historiese roete die ruigtes in.
Dit was die ellendigste nag van my lewe.
Eers die vrees en angs, dan die besef van totale magteloosheid en weerloosheid. Daarna die woede dat ek toegelaat het om hoegenaamd in so ’n situasie te beland. Vir nog ses uur daarna moes ek die oop Land Rover sit en probeer slaap om die donker nag tussen die muskiete om te kry.
johnny

1 comment:

Bertus said...

Jy kan bly wees daai Landie het gestart,die goed kan jou mos alewig in die steek laat! ;)