Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/29/2008

My MG safari

Dankie Henrietta vir vir die kompliment en uitnodiging. Ek deel graag van my Afrika ervaring met julle.Hoeveel van ons besef hoe Afrika destyds deur Afrikaners “gekoloniseer” was en deesdae weer deur hulle beset word?

Ek het ‘n ligblou MG TF gehad waarmee ek deur Sentraal Afrika gereis het. Ek kom toe by Arusha aan in die noorde van Tanzanië, vroeër Tanganjika. Arusha is ‘n pragtige dorp, so sesduisend voet bokant seespieël en met ‘n klimaat soortgelyk aan diè van Johannesburg. In die sestigerjare het daar reeds ‘n sterk Afrikaanse gemeenskap gewoon.

Verskeie Boere het hulle na die Anglo Boere Oorlog in 1904 op uitnodiging van die Duitse koloniale regering daar gevestig. So was daar die Malantrek, die De Beertrek en nog ander. Die ossewaens is by Lorenco Marques (vandag Maputo) vanaf Mosambiek op ‘n skip gelaai en het die trekkers weer by Tanga aan die kus van Tanganjika aan land gegaan. Vandaar is hulle verder tot by Arusha, waar die Duitse regering pragtige plase aan hulle uitgemeet het.

Dit was reeds byna drie uur die middag toe ek my plotseling langs die skool se sportgronde bevind. Daar was ‘n groot doenigheid aan die gang op die rugbyveld. Ek trek die MG tussen ‘n groep Land Rovers en bakkies in om ook te gaan kyk.Om my praat die meeste mense Afrikaans. Langs die veld word selfs wors gebraai en gemmerbier verkoop. “Wie speel daar?” vra ek aan een van die dames.

“Dis Tanganjika teen Kenia,” lig sy my in.

"En julle?”

“Ons is die Hervormde Kerk se Susters,” antwoord sy met gesag, “ons predikant, Ds. Mossie van den Berg, speel ook vandag.” (Dit was die einste Dominee Mossie wat later hoof van Radio Pretoria was en onlangs oorlede is.)

Self lief vir Rugby maak ek my tuis op die stellasie tussen die ander toeskouers. Ek skree sommer vir Tanganjika se span. Na die wedstryd loop ek Dominee Mossie raak.

“Dominee het vandag internasionale rugby gespeel!” begroet ek hom met 'n glimlag.

“Moenie praat nie, kêrel! Ek is vanjaar vyf en dertig, maar hierdie jongens het g’n respek vir ouderdom nie. Ons kerk het ongeveer 120 lidmate in hierdie kontrei en lewer al Tanganjika se spelers. Vandag se span is byvoorbeeld almal lede van my kerkraad. Ek is kaptein van Tanganjika," sê hy met 'n breë glimlag.

Die konsistorie was waarskynlik die spankamer.

Daardie dag sien ek weer iets van die Afrikaanse manier van dinge doen. Rugby is deel van ons mense se kultuur en ek kon netsowel op ‘n Transvaalse dorp gewees het. Die boerewors en broodrolle met gemmerbier was nog ‘n opwindende kultuur ervaring. Jy sal Afrika nooit uit die Afrikaner kan haal nie...

johnny

2 comments:

Mart said...

Wat 'n mooi storie, johnny! Hoop jy vertel vir ons nog sulkes.

Groete
Mart

Sharon said...

Hallo Johnny!
Wat 'n pragtige storie. Heimwee vandag net heimwee.