Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/29/2008

Moderne blootstelling aan inligting en die stem van die Heilige Gees.

Ek speel al lank met die gedagte dat ons moderne blootstelling aan inligting het baie moontlik 'n oorweldigende effek op ons ingesteldheid op die stem van die Heilige Gees. Die Skrif wat ek hier oor dink is:

"1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld."

Dit is of die "grootsheid" van die lewe in ons kele afgedruk word deur die massa media wat tot ons beskikking is. Vir my is dit soos 'n tipe "dwelm" wat ons op verslaaf kan raak. Die naweek was ek weer in die bosveld en die stilte en natuur het dit vir my uitgelig. Daar is vir my verseker 'n noodkreet in my gees as ek net die kans kry om stil daarna te luister. Die noodkreet smeek om net weg te kom van die inligtingsoorlading van ons moderne wêreld. (Ek wou eers van "sonsory overload" praat, maar toe besef ek dat die stilte en die natuur wat vir my gees so strelend was het ook 'n magdom sintuiglike insette gehad.)

Daarom dink ek dit gaan oor inligting of boodskappe wat ons bombardeer in die moderne samelewing. Dit hou net nie op nie en dit vra eintlik die heeltyd 'n respons, selfs in jou onderbewuste moet jy seker wees dat dit nie die stem van die Gees gaan uitblus nie. Dit is of ek die boodskappe kan hoor uitroep na my ondergang... soos Dawid dit sou gestel het.

"Psa 38:12 (38:13) en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog. "

Wat ek vir julle wil vra is of julle saamstem en meer belangrik, of julle insig hieroor het. Ons almal het "coping" meganismes, maar as julle soveel in julle "meganisme" twyfel soos ek, dan sal ons dalk lekker kan gesels oor die "grootsheid van die lewe".

4 comments:

Liza-Nel said...

Michael jou pos laat my dink aan ‘n gesprek wat ek eenkeer met my pa gehad het. Ek het die stelling gemaak dat dit soms vir my lyk asof die wêreld God se stem tot so 'n mate uitgedoof het dat dit nie meer hoorbaar is nie, waarop hy toe die volgende verhaaltjie vertel het; (Dis so 'n bietjie deur my ingekleur.) ;-))

'n Indiaan en sy vriend stap eenkeer op die sypaadjie van ‘n besige New York straat. Oral hoor jy die geroesemoes van mensestemme, karre se toeters wat blaas, sirenes wat loei, alles smelt saam in 'n gedruis waar niks herkenbaar is nie.

Skielik stop die Indiaan en sê: “Ek hoor ‘n kriek.” “Jy’s seker nie ernstig nie” antwoord sy vriend. “Hoe kan jy moontlik ‘n kriek te midde van hierdie lawaai hoor?” “Nee, ek’s seker ek hoor ‘n kriek.” “Dis laf,” sê sy vriend.

Die Indiaan luister vir 'n oomblik aandagtig en stap toe oor die straat na die oorkantste sypaadjie waar ‘n paar verdwaalde struike groei. Hy maak die bossie oop en sowaar - daar sit ‘n kriek. Sy vriend is verstom. “Jy moet ‘n super gehoor hê!” “Nee,” sê die Indiaan, “my gehoor is niks anders as joune nie.” “Onmoontlik, ek sou nooit ‘n kriek in hierdie lawaai gehoor het nie,” sê sy vriend. “O ja, jy sou kon. Kom ek wys jou.” Hy haal ‘n paar muntstukke uit sy sak en laat dit op die sypaadjie val. Onmiddellik, te midde van die oorverdowende lawaai, draai elke kop binne ‘n radius van vyf meter om te kyk of dit nie hulle geld is wat geval het nie. “Sien jy wat ek bedoel,” vra die Indiaan. “Dit hang alles af waarvoor jy luister. En jy luister na dit wat vir jou belangrik is.”

Die antwoord wat hy d.m.v die staaltjie by my wou tuisbring is dat dit ons is wat verleer het om God se stem te hoor en nie Hy wat ophou praat het nie....dis soos om na ‘n kanaal op TV te luister as jy na ‘n ander kanaal oorskakel hou die program op die vorige kanaal tog nie op om te bestaan nie en net omdat ons na ander kanale luister, beteken nie dat God ophou praat het nie!

Dit maak nie saak waar jy jou bevind nie, Hy is oral besig om te praat - in die stilte van die woestyn, die bosveld en selfs in ‘n besige stadstraat...al wat dit van ons vra is 'n stilword/geestesingesteldheid of dan 'n 'afskakel' om Sy stem te hoor.

Mart said...

Liza,
Jou plasing is regtig iets wat ek sal onthou. Dankie daarvoor...

Michael, jou pos laat my weer daaraan dink dat ons veral geestelik sterk moet wees. Sonder 'n geestelike sterkte kan ons nie staande bly nie en sal die materiële realm ons totaal oorweldig en verswelg.

Dis egter gladnie so maklik nie... Ek praat soms hard-op met myself en sê dat ek net baie aandag aan die dinge van die lewe moet gee wat EWIGHEIDSWAARDE het. Die ander goed wat my aandag so op-eis, moet minder belangrik wees. Dis 'n daaglikse stryd om dit reg te kry.

Groete
Mart

Michael said...

Liza, jy bevestig nou net die wese van die "oplossing" wat ek ook gekry het nadat ek hierdie stuk geskryf het. Ek het dit gekry toe ek die res van 1Joh.2 gelees het.

Soos wat ek die stuk in konteks gesien het is dit duidelik dat die "grootsheid van die lewe" kan net sin maak deur die Heilige Gees. In vers 20 staan:

"1Jn 2:20 En julle het die salwing van die Heilige en weet alles."

Dit het alles vir my verander. Ek sien dat die Heilige Gees vir ons alles kan verander, maak nie saak hoeveel boodskappe (inligting) ons siel tref nie, ons sal "alles weet" soos ons dit nodig het. (Hierdie "alles weet" is duidelik 'n "getallose alles".)

Jou storie het dit nou vir my baie mooi duidelik gemaak. Die Heilige Gees het nie stilte nodig nie, ons moet net ophou om die "grootsheid van die lewe" te probeer meet. Daar is nie 'n meganisme wat dit kan doen nie en 'n poging om met die "grootsheid van die lewe" om te gaan is vleeslik en lei tot die dood.

Dit kom daarop neer dat die Gees moet die boodskappe en analises in ons alledaagse lewe "stil maak" sodat ons 'n onmeetbare "alles" kan weet.

Ek hoop ek maak so 'n bietjie sin, maar dit is iets wat ek sal moet soek tot die Gees dit vir my duidelik gemaak het.

Groete,
Michael
P.S. Hierdie "alles weet" het nie "grade van weet" of enige meetbare eenhede nie, sodat ons nie dit teenoor ander mense kan vergelyk en dan weer met 'n vleeslike jaloesie hoef te sit nie.

Bertus said...

Michael, het jy al Henry David Thoreau gelees? Sy boek Walden handel onder andere oor sy afkeer aan 'n oordosis mensdom en inligting - daarom gaan leef hy alleen langs 'n meer met die naam Walden.

Thoreau maan die leser in sy boek om jaloers te waak oor wat alles jy toelaat in jou gedagtewêreld. Sy 'meganisme' is dus om konstant op jou hoede te wees teen 'indringers'.

Neem byvoorbeeld die Sondagkoerante: 'n tyd gelede het ek besluit om inhoudelik die koring van die kaf te probeer skei - ek los die skinderubrieke en fokus op die meer aktuele nuusgebeure. Ek probeer verby sensasie hou.

Ek het ook onlangs 'n 'voorskrif' van ons dominee gevolg: lees vir een maand 'n kort Bybelboek soos Fillipense i.p.v jou gewone leesstof. Skakel die tv af. Of lees eenkant. Hou verby die Huisgenoot (of sekere gedeeltes daarvan) en gee letterlik jou verstand 'n skoonmaak.

Ek stel dus inligtingsdiskriminasie voor, en alhoewel ons ons nie letterlik hoef af te sonder langs 'n meer nie, hoef ons ook nie ons oop te maak vir alles daarbuite nie.