Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/30/2008

Media kapperjolle... maal twee

Daar is twee dinge wat ek in die media raak sien wat my laat wonder oor die media in die algemeen.  Die een saak is in ons eie land en die ander saak is internasionaal, maar raak ons almal op een of ander manier. 

Kom ons begin by die saak hier in ons tuisland.  Hoekom "wens" die media die stigting van 'n nuwe party so hard en in almal se gedagtes in?  Doen hulle dit sodat hulle kan getuig dat dit hulle invloed was wat dit laat gebeur het... as dit ooit gaan gebeur?  Is hulle besig om ons van die werklikheid te vertel of is hulle besig om die werklikheid namens ons te skep?


Die ander saak is internasionaal.  Hoe weet die media dat die wêreld soos ons dit ken gaan tot 'n einde kom as die VSA regering nie die $700 biljoen se uitkoop geld goedkeur nie?  Hoe kies hulle watter opinie die regte een is?  Hoekom vertel hulle nie van die ander opinie nie?  Dit is ongelooflik hoe groot hierdie invloed op mense se besluite is en hoe hulle sorg dat die troppe beleggers soos mal "lemings" van die krans af hardloop.  Dalk is die internasionale media ook maar breinlose "lemings" wat met die mees eenvoudige sisteem van die "magtige spindokter industrie" in 'n rigting gestoot kan word.  Dit is baie maklik "publiseer dit of jou koerant, TV stasie en en en bestaan nie meer nie?"


Kan julle ook die dilemma in hierdie twee nuuswaardighede sien?


Hierdie twee gebeure is myns insiens twee gapende wonde in die apokaliptiese "Draak wat die wêreld verlei".  Wat kan 'n mens alles daarin sien?  Wie weet... ons moet maar aanhou kyk met die "bril" van Christus op.  Nie dat ek enigsins wil voorgee dat ek werklik eindtye sien wat verskil van dit wat Johannes op Padmos gesien het nie.  (Onthou daar is 'n groot verskil tussen sien en verstaan... ek probeer nou nog om Openbaring te verstaan.)

5 comments:

Bertus said...

Michael, ek is vas oortuig dat die media in die Anglo-Amerikaanse wereld verdeel kan word in hoofsaaklik liberaal en konserwatief. Dit is hul raamwerk waarbinne redaksies inhoud beplan.

En beide groeperinge span sensasie ook in. Dan vervaag die lyne van onderskeid ook.

Die ouens wat die agenda agter 'n koerant bepaal is die direksie van die maatskappy wat die koerant besit sowel as die redakteur tot 'n mate. Soms sal die leserspubliek 'n koerant van koers laat verander, soos byvoorbeeld die Deon Maas geval.Maar andersins is dit hoogstens 'n klompie individue wat letterlik besluit wat nuus is, hoe dit jou raak en ook watter nuus geprint sal word.

Hierdie 'Fourth Estate' is ongelooflik magtig en invloedryk, maar hulle sit maar die pot baie mis. Gister op CNN ('n kanaal wat onbeskaamd pro-liberaal en pro-Obama is) verseker 'n joernalis al wat leef en beef dat Wall Street nie veel verder as 500 punte sal val nie, vanoggend sien ek dat dit by 700 punte gedraai het. My punt -hierdie ouens is soms net so in die duister as ons.

Michael said...

Ek het vir my self 'n reeks RSS feeds opgestel in Google Reader wat, so ver moontlik, hierdie liberale en konserwatiewe skole gelyk verteenwoordig. In SA nuus sal dit byvoorbeeld Primedia en Naspers insluit en ook die "onafhanklikes" waar moontlik.

Dit was juis hierdie twee nuus berigte se "eenstemmigheid" reg oor die spektrum wat ek monitor wat my toe verder gepla het.

Groete,
Michael

johnny said...

Michael,

Jy sal seker onthou hoe die media tydens die 1990-94 era op georkestreerde wyse die spanning op politieke terrein opgebou het. Daar moes 'n voorafbepaalde uitkoms wees, en die media het die uitslag verwag wat hulle wou hê.

Baie op dieselfde manier het hulle 'n stelselmatige veldtog teen Jacob Zuma geloods, sodat byna almal begin glo het dat Zuma skuldig was aan verkragting en korrupsie. Die veldtog teen die stomme man het alle grense van ordentlikheid oorskrei en het aan laster gegrens.

Telkens bewys die howe maar net weer dat hulle nie deur die media beïnvloed word nie en hul eie oordeel volgens hul eie spelreëls vel.

Dat joernaliste gevaarlik is en hul magte kan misbruik is gewis.

Onthou jy hoe Goebbels gesê het dat 'n leuen wat dikwels genoeg herhaal word, in die waarheid sal verander.

johnny

johnny said...

In Suid-Afrika is daar ook 'n onmiskenbare veldtog aan die gang om die begrip "Afrikanervolk" toe te maak onder die begrip Afrikaanses, wat almal insluit wat Afrikaans praat.

Om die waarheid te sê, bestaan daar 'n ope vyandigheid tussen behoudende Afrikaners en die Afrikaanse media. Dit is voor die handliggend dat die media deur kommersiële belange gedryf word en die Afrikaanse taal so wyd moontlik wil uitbrei. Kyk byv. hoe 'n program soos Liriekeraai, wat eers 'n baie oulike program was, nou heeltemal getransformeer is. Niemand wat ek ken kyk meer daarna nie.

johnny

Liza-Nel said...

...En dit lyk ook soms vir my asof hierdie 'transformasie' deur die ANC-beheerde of ANC-gesinde media, dit slegs ten doel het om die Afrikaner af te trek na ‘n kombuismentaliteit-vlak, waar “everything goes” en 'n “all is free in love and war”-houding die 'in' ding is.

Hoekom boeke lees, as jy eerder deur Son of Huisgenoot of *"songs" gevoer kan word.

Wees vry en nihilisties, want môre is jy in elk geval landuit, gekaap of vermoor. Dus Carpe diem, in die verwronge sin van die woord.

Dis so dat dit mos altyd makliker is om af te breek as om op te bou. Dis insgelyks geriefliker om maar net te laat waai as om op te staan vir dit waarin jy glo....en die pers is besig om hierdie natuurwet goed te manipuleer.

Liza
*(Moet my nie hier verkeerd verstaan nie daar is ook dêm mooi "songs" om na te luister).