Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/19/2008

Is jy 'n Afrikaner-gnossie?

Op Michael se draad oor die gnostisisme het ek kortliks na Johan Rossouw en die 'gnossies' verwys. Hier volg sy omskrywing van Afrikaner-gnossies en enkele verdere gedagtes daar rondom.

“’n Gnossie is ‘n Afrikaner wat vandag (waarskynlik sonder dat sy dit weet) ‘n afgeleide vorm van die gnostiek beoefen. Die tradisie van die gnostiek is natuurlik geweldig ryk, maar vir ons doeleindes hier is daar veral die volgende motiewe ter sprake: die sug na suiwerheid, die geloof in kennis wat regstreeks deur die individu verwerf kan word, die afkeer aan ‘n tradisie en – miskien die belangrikste van alles – die inspan van daardie tegniese middele wat dit moontlik maak om dit na te jaag, soos die Internet (“regstreekse” toegang tot kennis); ‘n sportmotor (spoed is die sug om te vergeet); of die gimnasium (waar die liggaam gesuiwer en omvorm word.) Die gnossies vind geestelike regverdiging in die charismatiese “godsdiens”…”

‘n Verdere treffende beskrywing van die gnossie is: “…want by die gnossies word die kwasi-kuns beoefen om ‘n volkome fiktiewe bestaan as die werklikheid te leef…elke beskikbare druppel energie (word) bestee aan die maniese uitvinding en heruitvinding van wat bekend staan as ‘my lewe’, in die hoofstroommedia respektabel gemaak as ‘leefstyl.”

Soos ek Rossouw se boek verstaan, handel dit oorsigtelik oor die Afrikaners van Pretoria, ‘n groep mense wat chronolgies gesproke vorder vanaf die ‘republikeinse stad wat die groot Imperium van sy tyd in die naam van vryheid uitgedaag het, om (tot) ‘n honderd jaar later sy (die Afrikaners) se siel aan die siellose gnostiek van die tegniek (uit te) uitverkoop”.

In ‘n geloofsverband verstaan ek dit as volg: ‘n gnossie-gelowige sal iemand wees wat gemaklik daarmee is om verder dan die Bybel na kennis van God te soek. Kyk byvoorbeeld na een van my heel eerste plasings op hierdie blog, naamlik my soeke na ‘n meer ‘Outentieke Geloof’. Ek is bereid om byvoorbeeld die Internet in te span in my soeke na verdere kennis of openbaringe van die Meesterskepper. Die Bybel is klaarblyklik nie meer genoeg nie. As ek Charismaties was, sou ek kennis oor God kon bekom deur middel van ‘n ‘ervaring’ ten tyde van ‘n ‘praise and worship’ sessie.
Uiteindelik gaan dit oor die verskil tussen religie en spiritualiteit. Rossouw gee die volgende voorbeeld – loop in ‘n Katolieke boekwinkel in Europa in, en jy word begroet met rakke en rakke vol boeke oor religie, die teologie en filosofie. Besoek daarenteen ‘n religieuse boekwinkel in Pretoria en jy word begroet met rakke vol boeke oor spiritualiteit. Volgens Rossouw gaan religie oor die ‘kollektiewe vereniging…byvoorbeeld om Gods koninkryk op aarde te vestig”, terwyl spiritualiteit onder andere gaan oor die strewe na ‘n ‘beter self’. Soos ek dit verstaan, wil die gnossies die religie al hoe meer spiritualiseer.

Nog ‘n idee van Rossousw is dat die opkoms van Evangeliese Christene (gnossies) hand aan hand gaan met die vakuum wat Afrikanervolksnasionalisme gelaat het na die ondergang van die vorige bedeling.

In elk geval, dit net ‘n paar tema’s in Rossouw se boek, ek wil nie voorgee dat ek sy menings akkuraat weergegee het nie, en sy boek hanteer die paar kwessies soos hierbo na verwys in baie meer diepte.

15 comments:

Mart said...

Hier volg 'n uittreksel uit my PhD voorlegging wat betrekking het op 'n gedeelte van Bertus se nuwe draad.

"Religion and spirituality:
Religion is according to Pargament (1997) “the feelings, acts and experiences of individual men in their solitude, so far as they comprehend themselves to stand in relation to whatever they may consider the divine” (p.25).

According to McCullough and Tsang (2004) certain psychologists see religion as a way to promote mental health. These authors use the example of the psychologist Allport (1937, 1950) who believed that mature religion unifies a person’s personality. They state that Allport (1950) saw mature religion superior to other philosophies in that “religion is the search for value underlying all things” (p.345). Because of the comprehensiveness of religion, it allows to structure the rest of an individual’s life in a way that is integrated. The authors add that recent studies done by Koenig, Larson and McCullough (2001), found positive correlations between religion and specific indexes of physical and mental health. They found that religiousness led to lower forms of depressive symptoms, higher subjective well-being and even a longer life. Other social attitudes such as tolerance toward others were also related to religiousness. Religion could therefore encourage social harmony and individual health.

According to Peterson and Seligman (2004) spirituality can be observed as a universal concept. According to these authors all cultures have a certain concept of an ultimate, sacred, transcendent and devine force, although the spesific content of spiritual beliefs varies. These authors continue by stating that very little research is being done on spirituality and an explanation for this may be that the concept of spirituality doesn’t fit neatly into current research molds.

McCullough and Tsang (2004) discuss spirituality as “the feelings, thoughts and behaviours that arise from search for the sacred without the added components of non sacred goals and religious community” (p.347)."


Ek is onseker of "gnossies" slegs, of hoofsaaklik in Pretoria voorkom. Verder weet ek ook nie of dit net Afrikaners is wat so lewe nie. Verskaf hy meer inligting betreffende hierdie uitlatings?

Bertus, die oomblik wanneer ek sulke bedekte beledigings lees, word die res van die outeur se standpunte ook in my kop verdun.

Alhoewel ek in Johannesburg gebore en getoë is, voel ek tog 'n mate van lojaliteit teenoor Pretoria (waar ek as volwassene woon).

Dis jammer dat Rossouw 'n stekie probeer inkry en sodoende heelwat van sy (verdiende) intellektuele trefkrag in die proses verloor...

Dankie vir 'n lekker nuwe draad.

Groete
Mart

September 11, 2008 10:20 AM

Michael said...

Dankie Bertus,

Dit is verseker nie vir my 'n belediging van 'n groep mense nie. Ek is ook 'n Pretorianer in murg en been en ek voel glad nie beledig deur wat jy uit Rossouw se werk gedeel het nie. Ek dink sy tegniek om die Pretorianers te gebruik as 'n proef-groep is baie geldig. Ek sien myself en my ou self daarin en ek loop nou lekkerder in hierdie skoen wat ek moes aantrek het.

Mart,
Ek dink dat die aanhaling uit jou verhandeling juis dieselfde punt maak. Die onderliggende veronderstelling van al die mense wat jy aangehaal het maak dit duidelik dat daar 'n gnostiese benadering gevolg word.

Wat ek van Rossouw hou is dat hy dit kontrasteer teenoor 'n werklik nie-gnostiese benadering. Hoe kan jy 'n gnostiese voorveronderstelling bevraagteken as jy dit nie eens kan herken nie?

As ek reg verstaan het selfs Bertus erken dat hy ook die gnossie skoen dra, soos ek ook.

Groete,
Michael
P.S. Vir die wat wonder Prof. Rossouw is die hoof van Filosofie aan Tukkies, so ek sal baie versigtig wees voor ek sy akademiese integriteit in twyfel trek.

Mart said...

Michael,
Dankie vir jou opmerking. Ek vra vir 'n konteks waarin Rossouw sy stelling oor Afrikaanse Pretorianers maak. Kan jy my asb daarmee help?

Dit gaan nie hier oor "akademiese integriteit" nie. Elke mens wat publikasies maak oor groepe mense, of spesifieke gemeenskappe (in hierdie geval Afrikaanssprekende Pretorianers), het redes waarom sy/hy dit doen. Dis juis hierdie redes wat ek graag sou wou hoor.

Het Rossouw 'n studie oor Afrikaanssprekende Pretorianers gemaak en hulle toe "gnossies" gedoop?

Mens se akademiese aanstelling by byvoorbeeld 'n universiteit, skeld jou nooit vry van kritiek nie!

Groete
Mart

Michael said...

Hallo Mart,

Bertus sal ons hier moet uithelp, maar van die begin van Bertus se verwysing was dit vir my duidelik dat die "Afrikaner gnossies uit Pta", was bloot 'n proef-groep om sy hipotese te toets. Ek is seker dat hy nie die afleiding sou gemaak het as dit nie geldig was nie.

Ek het net na sy akademiese posisie verwys sodat ons almal tot versigtigheid gemaan kan word. Dit is baie ver daarvan om af te lei dat ek hom sou wou verhef het bo kritiek... Dit is nie my styl nie. Ek sal selfs die pous kritiseer as hy dit verdien... Maar dan bly dit ook maar net my persoonlike kritiek op iemand anders se dade.

Ek erken dat hierdie gnossie ding 'n "rowwe ry" gaan wees vir die eenvoudige rede dat dit ons almal, soos ek dit sien, uit daag om introspeksie te doen... Ek weet jy hou ook daarvan om introspeksie te doen, Mart, jy het 'n soekersgees so mooi soos wat God dit maar kon bedoel het.

Groete,
Michael

Liza-Nel said...

Michael, ek dink ons het seker maar almal só 'n paar 'in' gnossie-brand skoene in die kas wat so nou en dan aangetrek word.

Bertus, jy skryf as volg; "Nog ‘n idee van Rossousw is dat die opkoms van Evangeliese Christene (gnossies)...", volgens my verstaan is 'n EC juis níé 'n gnostikus nie, maar 'n Christen wat die evangelie suiwer volgens die Bybel verkondig of verstaan ek jou nou verkeerd?

Liza

Mart said...

Michael,

Dankie vir jou antwoord. Ek hoor wat jy sê.

Ek kan egter eers by myself soek en vind (nie vind nie), as ek weet wat die veranderlikes van Rossouw se studie was, sy doelwitte was, sy hipoteses was, sy navorsingsmetodes was en natuurlik, sy resultate was. Dis onmoontlik om selfondersoek te doen op grond van iets wat onduidelik is.

Ek beskou myself as 'n absolute individu. Ek is nie 'n tropdier nie. Derhalwe lig my wenkbroue wanneer outeurs (ook natuurlik akademici) poog om groepe mense in 'n spesifieke geografiese gebied te kategoriseer as sus, of so. Verstaan jy wat ek bedoel? Ek eet niks vir spreekwoordelike soetkoek op nie.

Ek stel dus baie belang in hierdie navorsing, asook die geldigheid en betroubaar daarvan. Dankie Bertus vir 'n great draad!

Ons hoef nie tot versigtigheid gemaan te word op grond van outeurs se akademiese posisies nie. Die lewenswysheidsposisie en common sense-posisie is dikwels die een wat ons van ander denkers onderskei...dis die posisies wat ons versigtig behoort te maak...

Groete
Mart

Bertus said...

Hi almal,

Ek sien ongetwyfeld die ‘gnossie’ in my raak, kyk maar net op my boekrak na al die ‘self-help’ boeke, om nie eers te praat van my alternatiewe soeke na ‘spesiale openbaring’ nie. Die Groenkloof Virgin Active, waarna Rossouw in sy boek verwys, is ook een van my gunsteling uithangplekke. 

Ek ervaar nie Rossouw se boek as arrogant nie, hy kom eenvoudig nie so oor nie. Hy was so ‘n tyd gelede op Rian van Heerden se program op Kyknet. Van Heerden het juis na hierdie boek verwys en toe een of ander spottende opmerking oor gelowiges gemaak. Rossouw was glad nie beindruk nie, en het Van Heerden goed op sy plek gesit.

Net vir die interresantheid, Rossouw self is ‘n Boeddhis.

Die konteks waarbinne my aanhalings verstaan moet word? Miskien die volgende aanhaling wat agter op die boek verskyn: “In hierdie onklassifiseerbare filofiksie vertel Rossouw die geskiedenis van sy generasie se Pretoriase Afrikaners. Dit is die verhaal van hoe politieke ontnugtering en ‘n geprivatiseerde leefstyl geboorte geskenk het aan ‘n nuwe kulturele tipe en die opvolger van die jappies… die gnossies. Hoevlaktegnologie, charismatiese kerke en winkelsentrums kom teen mekaar te staan in hierdie boek waarin daar ook gewys word hoe hulle dan later saamwerk namate die Pretoriase Afrikaners vir hulself ‘n nuwe soort laer trek teen die buitewereld.”

Ek self is ‘n Pretorianer, alhoewel ek die afgelope twee jaar weg was. Rossouw se identifisering/klassifisering van hierdie ‘kulturele tipe’, naamlik die gnossie, is in die kol. Ongelukkig is Pretoria-Oos die proefplaas en gekose domisilie van die gnossies. (bewys my verkeerd!)(Ek is ook ‘n voormalige Pretoria-Oos inwoner!!)

Mens kan natuurlik nie veralgemeen nie, maar uit persoonlike ondervinding sal ek aanvoer dat daar byvoorbeeld minder gnossies in die Moot is as in Oos. (my laaste adres was in die Moot, en ek trek binnekort terug Rietondale toe, so niks teen die Moot mense nie).

Geld speel ‘n belangrike rol, en juis in die Ooste is daar nogal baie daarvan.

Rossouw skryf oor ‘n kulturele tipe wat skynbaar gelowig is, maar die outentiekheid daarvan word bevraagteken. Ek kan al my ma-hulle se stories onthou oor hoe die republikeinse ideaal hulle besig gehou het, daarna die Totale aanslag. Toe verkrummel Apartheid, en die jappies vervang nasionalisme met geld. Die jappies kom toe agter dat dit ‘n gejaag na wind is. En so kom Rossouw uit by die gnossies, wat nou basies ‘n fiksie leef, hulle soek iets dieper, ontevrede met net winsbejag.

Ek het die boek by Protea boekehuis gekoop in Hatfield.

Mart said...

Vreemd, ek het baie vriende in Johannesburg, Bloemfontein, Kaapstad en selfs in Karoi (Zimbabwe) wat ook (soos baie Pretoria Oos burgers)aan al die Rossouw-genoemde kriteria van "gnossies" voldoen.

Om die waarheid te sê, die "gnossie"-sindroom is veel opsigteliker in Johannesburg as in Pretoria.

Ek dink dat dit eerder met 'n spesifieke geslag mense te make het, as met 'n spesifieke geografiese gebied...

As iemand Rossouw se email adres vir my kan stuur, sal ek hom graag nooi om saam met ons hier te gesels. Dit sal lekker wees. Dalk ken iemand hom persoonlik?

Groete
Mart.

Mart said...

Bertus skryf in sy openingsdraad oor Rossouw se boek: "....Besoek daarenteen ‘n religieuse boekwinkel in Pretoria en jy word begroet met rakke vol boeke oor spiritualiteit....."

1) In 1988 verskyn die spirituele boek MANY LIVES, MANY MASTERS (Dr Brian Weiss) in Engeland.
2) In 1978 verskyn THE ROAD LESS TRAVELLED (M. Scot Peck) in Engeland.
3) In 1971 verskyn BORN TO WIN (M. James & D. Jongeward) in New York.
4) In 1984 verskyn YOU CAN HEAL YOUR LIFE (Louise Hay) in Santa Monica, VSA.
5) In 1998 verskyn WORKING WITH EMOTIONAL INTELLIGENCE (Daniel Goleman) in Engeland.

Bg is almal spirituele en/of selfhelp boeke wat baie jare gelede reeds oorsee in religieuse boekwinkels gekoop kon word. Hierdie soort boeke het ook in Pretoria geen groter afdeling in boekwinkels as musiekboeke, geskiedenis boeke, of enige ander boeke nie. Hierdie boeke word in Pretoria in gewone boekwinkels verkoop, en nie in religieuse boekwinkels nie.

Daar is niks nuut omtrent self-help boeke, of spirituele boeke in die wêreld, of spesifiek in Pretoria nie.

Daar is niks Pretoriaans aan hierdie soort boeke nie en daar is ook geen verwantskap tussen Rossouw se (jong) portuurgroep en hierdie soort boeke nie...

Groete
Mart

Mart said...

Bertus skryf oor iets in Rossouw se boek:
"‘n Verdere treffende beskrywing van die gnossie is: “…want by die gnossies word die kwasi-kuns beoefen om ‘n volkome fiktiewe bestaan as die werklikheid te leef…"

Rossouw vat 'n kans as hy menswees, (volgens hom deesdae se Afrikaners in Pretoria, of waarookal) reduseer tot "fiksie" wat as die werklikheid beleef word.

Ook onder Afrikaanse Pretorianers heers daar egte ellende waar pensioenarisse (in Faerie Glen nogal!) maandeliks van groente skenkings leef. Hul pensioengeldjies is een voudig te min om te oorleef. Dis nie fiksie nie.

Kyk maar na die blankes wat in Atterburyweg op straathoeke staan en bedel.
Kyk na die weeskinders in Brooklyn wat nie meer staatsubsidie ontvang nie en in geweldige ellende gedompel is. Dis nie fiksie nie.

Hoeveel ouers doen aansoek by spogskole om hulle kinders gratis te laat skoolgaan omdat hulle hul werk verloor het a.g.v. regstellende aksie?

Hoeveel huise en motors is skielik teen spotgoedkoop pryse in die mark?

Dit gebeur alles vandag in Pretoria Oos.

Ek sluk swaar aan Rossouw se uitlatings, want ek is persoonlik betrokke by die werklikheid van hulpskemas vir Afrikaners in Pretoria Oos se ellende...

Groete
Mart

Bertus said...

Mart, jy is in die kol wanneer jy skryf dat dit eerder oor 'n spesifieke geslag Afrikaners as geografiese gebied gaan, Rossouw meld ook in sy boek dat hy skryf oor 'sy' geslag Afrikaners. Hy ken Pretoria, so hy skryf daaroor.

Bertus said...

Liza, ek dink ek moet Johan Rossouw probeer kontak en hom vra om onder andere jou vraag oor die Evangeliste te beantwoord.

Hy lyk en klink nogal na 'n moerse nice ou, so miskien stem hy in...

Mart said...

Bertus, sover ek weet, is Rossouw in sy vroeë dertiger jare.

Ek het gisteraand onwillekeurig weer aan die mense gedink wat in die 70's grootgeword het, die "Boetmanne" wat die bliksem in is...(Dis my geslag mense.)

Daar word deur elke geslag mense sosiale kommentaar gelewer. Rossouw is beslis nie 'n Boetman nie, want hy's te jonk om te kwalifiseer as een.
Hy kon net ook iets kry om oor kommentaar te lewer betreffende sy geslag en hul mensweesbelewenis in spesifiek Pretoria Oos.

Ek sou regtig graag sosiale kommentaar oor die impak van hul grootwordjare van ons ouer lede wou hoor...

Dan, die jonges! Vertel ons meer?

Henrietta said...

Ek bly meer as 40 jaar hier op een plek, het drie jaar in Pretoria vir my eerste graad gestudeer, nog 'n jaar daar gewerk, het baie vriende en familie daar, en kom meer dikwels daar as in enige ander stad in SA. As ek om een of ander rede soontoe (moet) verhuis, sal ek heel tuis voel tussen die Pretori-iste...

Ek dink die "Pretoria"- etiket kom baie vér....Ons sleep die verlede mos aljimmers met ons saam. Ek sou wyer as Pretoria geskryf het, as ek iets soos Roussouw wou skryf: Ek sien/hoor iets soos 'n "Noord-Suid"-ding (mens kan mos nie eintlik meer van 'n "Transvaal-Kaap" ding praat nie... Van die tyd van die Groot Trek af, dwarsdeur die Anglo-boere Oorlog, die (baie ou )"Nat-Sap/Verlig/Verkramp" is daar maar hierdie "ons-hulle" -etikette, soms neerhalend, soms net by wyse van spreke en soms heel tereg. (Ek vind byvoorbeeld dat die "pace" van lewe, baie stadiger in die "Suide" is , as hier in die "Noorde" ). 'n Simpel grappie ter illustrasie: Hoe ken jy 'n Transvaler uit in Kaapstad? Hy is die ou wat op die toonbank trommel terwyl hy ongeduldig wag...

'n Oom van my, wat toe hy nog gelewe het, ook hier rond geboer het, het gewoonlik na 'n lang kuier by familie in Pretoria met allerlei lekker stories gekom, en elke keer sy stories begin met "PRETORIA sê... " !!! Ek het altyd gewonder wat hy bedoel, maar na die lees van hierdie stukke verstaan ek so effens beter ; )))))

Mart said...

Michael sê: "Johan Rossouw is nie Prof. Rossouw nie.

Ek moet net amptelik my misverstand regstel. Johan Rossouw is nie Prof. Rossouw van die depatrement filosofie aan die UP nie. Jammer vir die misverstand."

Dis reg so, Michael.

Mart