Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/28/2008

GOD SE WÊRELD DEUR ONS OË...

"In 1993 het ek Moskou besoek op pad na Tajikistan in sentraal Asië. Die landskap was onder twee meter sneeu. Op pad van die lughawe sien mens die verlatenheid en leegheid wat Napoleon en Hitler se troepe moes gesien het toe hulle Rusland probeer inval het.

Dit was reeds diep skemer.

'n Ouerige dame, toegewikkel in stukke kombers en vel stap gly-gly langs die pad in die modder en ys. Die arme vrou struikel en sukkel om weer orent te kom.

Die Samaritaan in my vra die taxi bestuurder om haar op te laai, maar die vent weier.

In gebroke Engels laat hy my verstaan dat as jy haar eers opgelaai het, jy haar ook moet kos en blyplek gee, en miskien in 'n hospitaal gaan versorg. Hy sien sulke gevalle elke dag, jammer!

Later die aand besoek my gasheer en ek 'n Moskouse kultuursentrum. Saans vergader eksentrieke harige mans en 'bevryde' vrouens om met hul portuurgroepe te skakel. Skaakspelers musiekmakers, skrywers, digters en lede van ander gildes meng in die reuse gebou se honderde kleiner rookgevulde saaltjies waar hulle vodka en eiesoortige kultuurliefdes kan geniet. Voorwaar 'n belewenis om ander kulture eerstehands te ervaar..."

Hierdie aangrypende stuk van Johnny op 'n ander draad het my laat wonder: kan ons nie mekaar vertel van ons reis- of lewenservarings nie? Dit kan selfs mooi plekke in of om ons dorpe of stede wees. Dit kan ook oor mense en hul dinge wees.

4 comments:

Michael said...

Net 'n voorstel dat hierdie reis gesprekke elkeen as 'n onderwerp op sy eie hanteer word en nie binne 'n gesprek weg gesteek word nie.

Dit sal help dat die gesprek oor 'n spesifieke ervaring gaan.

Wat dink julle?

Groete,
Michael

johnny said...

Dankie Henrietta vir vir die kompliment en uitnodiging. Ek deel graag van my Afrika ervaring met julle.
Hoeveel van ons besef hoe Afrika destyds deur Afrikaners “gekoloniseer” was en deesdae weer deur hulle beset word?

Ek het ‘n ligblou MG TF gehad waarmee ek deur Sentraal Afrika gereis het. Ek kom toe by Arusha aan in die noorde van Tanzanië, vroeër Tanganjika. Arusha is ‘n pragtige dorp, so sesduisend voet bokant seespieël en met ‘n klimaat soortgelyk aan diè van Johannesburg. In die sestigerjare het daar reeds ‘n sterk Afrikaanse gemeenskap gewoon.

Verskeie Boere het hulle na die Anglo Boere Oorlog in 1904 op uitnodiging van die Duitse koloniale regering daar gevestig. So was daar die Malantrek, die De Beertrek en nog ander. Die ossewaens is by Lorenco Marques (vandag Maputo) vanaf Mosambiek op ‘n skip gelaai en het die trekkers weer by Tanga aan die kus van Tanganjika aan land gegaan. Vandaar is hulle verder tot by Arusha, waar die Duitse regering pragtige plase aan hulle uitgemeet het.

Dit was reeds byna drie uur die middag toe ek my plotseling langs die skool se sportgronde bevind. Daar was ‘n groot doenigheid aan die gang op die rugbyveld. Ek trek die MG tussen ‘n groep Land Rovers en bakkies in om ook te gaan kyk.

Om my praat die meeste mense Afrikaans. Langs die veld word selfs wors gebraai en gemmerbier verkoop.

“Wie speel daar?” vra ek aan een van die dames.

“Dis Tanganjika teen Kenia,” lig sy my in.
"En julle?”
“Ons is die Hervormde Kerk se Susters,” antwoord sy met gesag, “ons predikant, Ds. Mossie van den Berg, speel ook vandag.” (Dit was die einste Dominee Mossie wat later hoof van Radio Pretoria was en onlangs oorlede is.)
Self lief vir Rugby maak ek my tuis op die stellasie tussen die ander toeskouers. Ek skree sommer vir die Tanganjika se span. Na die wedstryd loop ek Dominee Mossie raak.

“Dominee het vandag internasionale rugby gespeel!” begroet ek hom met 'n glimlag.

“Moenie praat nie, kêrel! Ek is vanjaar vyf en dertig, maar hierdie jongens het g’n respek vir ouderdom nie. Ons kerk het ongeveer 120 lidmate in hierdie kontrei en lewer al Tanganjika se spelers. Vandag se span is byvoorbeeld almal lede van my kerkraad. Ek is kaptein van Tanganjika," sê hy met 'n breë glimlag

Die konsistorie was waarskynlik die spankamer.

Daardie dag sien ek weer iets van die Afrikaanse manier van dinge doen. Rugby is deel van ons mense se kultuur en ek kon netsowel op ‘n Transvaalse dorp gewees het. Die boerewors en broodrolle met gemmerbier was nog ‘n opwindende kultuur ervaring.

Jy sal Afrika nooit uit die Afrikaner kan haal nie.

johnny

Mart said...

Dankie johnny vir jou wonderlike vertellings. Ek stem saam met Henrietta. Dis regtig fantasties.

Groete
Mart

johnny said...

Michael, ek stem heeltemal met jou saam.
johnny