Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/12/2008

Gnostisisme en Afrikanernasionalisme

Bertus skryf:

" Nog ‘n idee van Rossouw is dat die opkoms van Evangeliese Christene (gnossies) hand aan hand gaan met die vakuum wat Afrikanervolksnasionalisme gelaat het na die ondergang van die vorige bedeling."

Daar is baie meriete in daardie stelling, gesien teen die agtergrond van die groep skuldgevoel wat baie mense beetgekry het. Om te boet, om uit te reik en om jouself te pynig het die logiese maatskaplike terapie vir baie witmense geword.

Johann Wingard, skrywer oor Afrikanersake, beskryf nasionalisme as volg (2006): "Dit is die ideologie van ‘n sosiale realiteit wat as die konsep van nasieskap ontstaan het en meelopend is met die twee dimensies van tyd en ruimte. Binne tydverband omlyn die geskiedenis ‘n volk en die integriteit van sy landsgrense identifiseer ‘n nasie in ruimtelike verband. Hierdie twee werklikhede is die hoofbestandele van ‘n nasie se selfidentifikasie en soewereiniteit. Die nasie vertolk sy geskiedenis en daardie vertolking sal verander as die nasie sou verander. So ook die landsgrense. ‘n Volk se eksklusiewe aanspraak op die landsgrense is slegs geldig solank hy die staatsmag beheer. Wanneer hy daarvan afstand doen, dan maak sy opvolger aanspraak op daardie ruimte."

Die vakuum waarvan Rossouw dus praat is die verlies aan staatsmag en dus die verlies aan alleenheerskappy oor die ruimte om die volk wat die dryfvere van die nasionale ego was.

Hierdie verlies kon logieserwyse 'n vrugbare teelaarde skep vir 'n boetedoeningskultus wat veral by sekere NG gemeentes heers.

Waarnemers van die Afrikanerpolitiek meen dat die rede vir die snelle verswakking van die Konserwatiewe Party aan die einde van die tagtigerjare, die logiese gevolg was van die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). In plaas van om tyd, energie en geld aan die KP te spandeer, is hierdie bronne na die APK gekanaliseer.

Hierdie voorbeeld onderstreep Rossouw se stelling. Die sentrale dryfveer se pool het verskuif van nasionale trots na gemeenskaplike boetedoening. Dit wil egter vir my voorkom dat die drang na boetedoening die werklike dryfveer is en nie die verlies aan Afrikanernasionalisme per se nie.

Maar, kyk ons egter na Angus Buchan se 'Faith Like Potatoes' en ons sien dat Rossouw die pot heeltemal mis sit deur Pretoria se gnossies te tipeer. Alle witmense wat met die vorige bestel geïdentifiseer het en wat oral oor Suid - Afrika woon, toon presies dieselfde versugting na 'n religieuse bestel wat sin aan hul lewens kan gee en wat hy as gnostisisme beskou.

johnny

4 comments:

Mart said...

Bertus en johnny maak interessante drade oop. Dis lekker om daaraan deel te neem.

johnny, jy verwys na Afrikaner sake. Dis 'n onderwerp wat gerus maar weer uitgehaal en afgestof kan word vir bespreking. Dankie!

Verder wil ek verwys na Rossouw se "laer trek" uitlating (in Bertus se een plasing) wat kwansuis spesifiek onder Afrikaanse Pretorianers voorkom.

Uys (1997) verwys in haar M-verhandeling na 'n baie belangrike konstruk, naamlik "binnegroepidentifikasie". Dis die mate waartoe individue met hul binnegroep identifiseer. Dit het betrekking op etniese groepe en die mate van identifikasie met die groep. 'n Etniese groep is 'n verwysingsgroep waaraan mense met dieselfde geskiedenis en kultuur behoort. Dit kom reg oor die wêreld voor, is doodnormaal en het nie slegs betrekking op Afrikaners nie.

Soms het etniese groepe dieselfde gelaatstrekke. Hulle deel veral dieselfde waardestelsel.

Daar is in Uys (1997) se studie bevind dat groepe met hoë intragroep kontak en laer intergroep kontak eerder met hul eie groep identifiseer. Individue wat 'n hoë kollektiewe selfkonsep het, sal ook sterker met die binnegroep identifiseer. (Dis wanneer mense hul groeplidmaatskap positief evalueer.)

As ons bv kyk watter ontploffing Afrikaanse musiek die afgelope paar jare ondergaan het, sien ons 'n groot gedeelte van positiewe evaluering van Afrikaanse groeplidmaatskap.

Daar is geen rede waarom individue moet skaam kry oor hul positiewe ervaring van hul groeplidmaatskap nie en dit het absoluut niks, maar niks met 'n "laer trek"-sindroom te make nie!

Groete
Mart

Michael said...

Ek wil met Mart saam stem dat uit die vorige gesprek dit nie vir my gelyk het of Rossouw 'n sinvolle klas geskep het in die "laertrek" sindroom nie. Net omdat ons 'n verwysing van 'n laer het, maak ons Afrikaner gedrag nie noodwendig anders as ander volke se gedrag nie.

Persoonlik kan ek erken dat ek na al die gepraat oor gnossies en Afrikaners erken dat ek weet dievolgende van myself. Ek IS 'n Afrikaner, ek IS NIE 'n gnossie NIE en ek bly ook NIE in die Ooste van Pretoria NIE.

Die belangrike een is om uit te lig hoekom ek NIE 'n gnossie is NIE. Dit is eenvoudig omdat sover ek bewus is, daar nie werklik plek is in 'n puristiese gnostiese geloof, vir die erkenning van Christus se volkome deel van die Drie-eenheid. Christus is God self en ek ken nie gnossies wat dit sommer sal erken nie... Help my asb. reg, ek ken nie gnostiek goed genoeg nie.

Groete,
Michael

Mart said...

Michael,

Ek stem volkome saam met jou.
Ek IS 'n Afrikaner. Ek IS NIE 'n gnossie nie en ek BLY in Pretoria Oos...

;))

Mart said...

As mens die musiekblyspel "Ons vir jou" gesien het, verstaan mens presies wat johnny sê: "Johann Wingard, skrywer oor Afrikanersake, beskryf nasionalisme as volg (2006). "Dit is die ideologie van ‘n sosiale realiteit wat as die konsep van nasieskap ontstaan het en meelopend is met die twee dimensies van tyd en ruimte. Binne tydverband omlyn die geskiedenis ‘n volk en die integriteit van sy landsgrense identifiseer ‘n nasie in ruimtelike verband...."