Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

9/17/2008

Die boodskap van Kain

Die Skriflesing is vandag Gen. 4. 3 - 16 (OV)

3. En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE 'n offer gebring.
4. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,
5. maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.
6. En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?
7. Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie -- die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.
8. En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.
9. Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?
10. En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.
11. Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.
12. As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; 'n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.
13. Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra.
14. Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: 'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.
15. Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die HERE het 'n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie.
16. Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.

Hier eindig die Skriflesing.

Jy wonder dalk hoekom ek oor die "obvious" wil praat, maar ek wil nie daaroor praat nie.

Ons teksdeel is Gen. 4. 13 - 16. Dit het nie veel met die "obvious" te doen nie.

Mens sou wel kon vra: Kan mens iets ergers doen as wat Kain gedoen het deur sy eie broer te vermoor? Daaraan toegevoeg moet mens ook besef watter groot negatiewe emosionele impak sy daad op sy ouers gehad het. Inderdaad het hy teen Giod gesondig deurdat hy homself die Goddelike reg toege-eien het om te beslis oor lewe en dood, nie uit geregtigheid nie maar uit jaloesie, haat, naywer ens. (die eie ek) en verder het hy ook teen sy medemens gesondig deur hulle fisiese en emosionele geweld aan te doen.

Onder sulke omstandighede sou mens verwag dat in alle regverdigheid dieselfde ook met hom behoort te gebeur, maar dit doen nie.

Hier is wat ek dink hoe die stukkie verstaan moet word: Die doel is om 'n sekere karaktertrek van die Here aan ons voor te hou. Wanneer jy sondig moet God regverdig wees. Maar in reaksie op berou, (v. 13) word Sy regverdigheid getemper deur Sy genade. (v.15) Sondige gedrag het vernietigende en verwyderende gevolge en overgesetsynde sal gehoorsame gedrag helende en "vernaderende" gevolge hê. Die Here is alomteenwoordig (Ps. 139. 1 - 12). Kain gaan van die Here af weg, maar die Here gaan nie van Kain af weg nie. Aangesien die Here alomteenwoordig is en aan Kain 'n teken gee om hom te beskerm, is dit net so goed of die Here self ook daar is om Kain te beskerm.

Hier kan egter nou 'n interpretasie-kontradiksie ontstaan. In sy geheel beskou sien ek die tema van genade maar sou mens v. 15 in isolasie neem, watter gevolgtrekking sou jy kon maak? As gelowige miskien weer genade maar as ongelowige sou jy kon sê:: Hier is 'n man wat duidelik (die teken) deur die Here gestraf is, verwerp en vervloek is. Daarom is dit duidelik dat dit in die Here se aard is om wraaksugtig 'hatig' en af of 'weg'-stootlik te wees.

Is dit dan nie hoe baie, baie mense redeneer nie? Tog so jammer dat hulle enkele insidente (soos deur tekste weerspieël) uit verband uit ruk en verabsoluteer en dan daarmee volhou dat dit is hoe God is.

Die boodskap vir my is - al los jy God, Hy los jou nie. Hy is nog steeds daar. As jyu berou sou hê, sal Hy Sy regverdigheid temper deur Sy genade. Diis vir my 'n pragtige balans tussen regverdigheid en genade. Ons wat die Here as ons rolmodel neem, dis ook hoe ons moet wees met mense wat ons tenakom of mense wat ons reëls oortree. Dis hoe mens dissiplineer - regverdigheid getemper deur genade.

Hier eindig die prediking vir vandag.

Ek moet sê ek mis ou Sokratis met sy suiwerheid van interpretasie en betreffende die kontradiksie-aspekte wens ek CDJIV was hier - hy hou tog so baie daarvan en ek sou graag sy insette wou hê, Tog so jammer hulle is nie hier nie!

5 comments:

Liza-Nel said...

Dié gedeelte uit Gen.4:12, het my aan die volgende interessante brokkie volksgeskiedenis uit "Nomade van die wêreld" laat dink:

"Toe Sigeuners geskape is,
is gelas hul moet swerf,
sonder behoefte aan huise
word die wêreld ons werf."
- Geskryf deur ’n Sigeuner.

Alhoewel ons Kain as 'n saaiboer leer ken in die Bybel beteken sy naam eintlik metaalwerker of smid.

‘n Latere gedeelte uit die hoofstuk Genesis vertel van sy nasate: een was die stamvader van dié wat in tente by hul kuddes woon, ’n ander die stamvader van dié wat op die lier en fluit speel (’n musikant), en nog een was ’n koper-en ystersmid.

Hierdie beskrywings pas die lewe van die Sigeuners soos ‘n handskoen, só te meer dat hulle self met groot oortuiging beweer dat hulle afstammelinge van Kain, die eerste Sigeuner, is.

Een van die eerste name wat dan ook aan hulle gegee is, was die Griekse woord Athinganoi (onaanraakbaar). Dié woord het later Atsigan en nog later Tzigane geword, en Sigeuner is hiervan afgelei.

Daar word algemeen aanvaar dat die Sigeunervolk in die Indus-kom in Noord-Indië ontstaan het, waar hulle eeue lank aan die grens van gevestigde gemeenskappe gewoon het en vanwaar hulle dan ook omstreeks 1000 n.C. deur oorloë gedwing is om stadig weswaarts uit te wyk om geleidelik na die Europese lande te versprei.

Hulle opportunistiese leefwyse het egter spoedig die Europeërs die harnas ingejaag en is hulle uit die stede en state verdryf en doodgemaak, maar desondanks ‘n stormagtige verlede floreer baie van die wêreld se sigeunerbevolking vandag as gemoderniseerde en gevestigde landsburgers.

Die ander volg egter steeds die tradisies van hul voorvaders en reis van dorp tot dorp, kampeer in reiswaens en tente en verdien hul geld soos die geleentheid hom voordoen.

Sou hierdie nomade dalk regtig die afstammelinge van Kain wees soos wat hulle wil beweer? Indien só, het Genesis gestand gedoen met die belofte dat Kain en sy nageslag sal bly voortbestaan...

Yf said...

Hi liza.
Is geskiedenis naas WF nog 'n belangstelling van jou? Ek het gwweet van die Sigeuners maar van die verband met Kain - ek twyfel sterk. Daar is 'n baie interessante boek "Origins of the peoples and countries of Europe" waarin ook van die sigeuners vertel wordl. Soek en lees die boek gerus.

Vrede daar.

Henrietta said...

‘n Heel interessante hoek wat jy inneem op hierdie deel van dié stuk geskiedenis, Yf! Jy sê: “Die boodskap vir my is - al los jy God, Hy los jou nie. Hy is nog steeds daar. As jy berou sou hê, sal Hy Sy regverdigheid temper deur Sy genade.”

Daar gaan baie min dae om, dat ek my nie verstom oor God se genade nie...Tog is dit hier, soos op ander plekke in die Bybel, geen goedkoop genade nie. Baie mense se sonde is vir ander verborge, maar ek glo dat in elke “kyk” van ander mense na die “merk” (wat dit ookal was) moes hom herinner het aan wat hy gedoen het. Vir my klink sy woorde oor sy straf nie soos berou nie, maar eerder soos ‘n verwyt teenoor God.

By God is daar geen “oog-vir-‘n-oog, tand-vir-’n-tand”- gesindheid nie : God beskerm hom : Mense wat die merk gesien het, sou om een of ander rede “skrikkerig” gewees het vir Kain as hulle dit gesien het. “... sodat niemand hom sou doodmaak nie..”).

Ek wonder of Kain ware berou gehad het? Waarom het hy dan weggegaan van die Here af? God se genade lê vir my meer daarin , dat Kain ‘n God-vresende nageslag gehad het (Henog en Noag!).

God het Kain eintlik oor sy onbeteuelde humeur “gewaarsku” nog vóór hy vir Abel doodgemaak het – Kain luister nie... Dit maak God se genade des te gróter! (Mens kan maar net dink aan die woorde in Gen 6:5-6, dat God bedroef was dat Hy mense gemaak het en dat die slegte dinge Hom gegrief het!)

Sou Kain, dalk as ouboet (sommige kommentare sê hulle was dalk ‘n tweeling? Ons weet nie... ) ‘n opdrag van sy ma gekry het: “Pas jou boetie op, hoor?” – Is dit waarom hy hom vererg het toe God vra: “Waar is jou broer?” Dink ook aan die verhaal van Josef en sy broers... “sibling rivalry” op sy beste!

Mens kan baie preke rondom hierdie deel maak, bv.: God se vraag aan Adam: “Waar is jy?” En God se vraag aan Adam se oudste kind: “Waar is jou broer?” Die eerste vraag kan verband hou met bekering, die tweede met “sending/evangelisasie”...

Vir my lê daar nog ‘n ander gedagte in: die gevolge van die sondeval en die satan se onophoudelike pogings om God se werk ongedaan te maak. Sê nou God het Kain sonder ‘n nageslag laat sterf?

Yf said...

'Dankie Henrietta, vir die verrykende insette.Wanneer word eksegese spekulasie? In die lig hiervan het ek gewonder: Kain "genaiet" nou die Here se beskerming, sou dit hom later arrogant gemaak het en dat hy lateraan die waarheid (met stertjie en al) verkondig het "Doen enigiets aan my en dit sal 7 maal op jou gewreek word!" (Waar dit oorspronklik net tot doodslaan beperk was). Hierin sou ook 'n sekere kultiese dimensie wees van die leier wat onaantasbaar en onaanspreeklik is onafgesien van wat hy/sy doen?

Henrietta said...

Hallo Yf! Weer bietjie inlegkunde van my kant? ;))))

"Woorde wek, maar voorbeelde trek", sê die spreekwoord, en mens wonder hoeveel hiervan is waar as mens verder in die hoofstuk lees van Kain se kleinseun Lameg (sou Oupa Kain toe nog geleef het?). Indien nie, is die verhaal waarskynlik vertel. Familie-verhale is seker maar van geslag tot geslag oorvertel (soos maar vandag nog) en juis daarom ook in die Bybel...

Lameg (eerste veelwywer in die Bybel), se houding herinner baie aan dié van Kain(Gen 4:23 - 24) :

"... Lameg (sal) sewentig maal sewe maal gewreek word ... " - Hy sê dit nogal nadruklik vir sy twee vroue!

As Lameg in vandag se tye geleef het, sou hy waarskynlik sy oupa se gene blameer het!

En die "kultiese"-idee gee weer 'n ander dimensie -- ek dink die manne van daardie tyd het nogal met 'n "harde hand" hul familielede/volgelinge in toom gehou!