Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

8/25/2008

Sout van die aarde... Vandag!!!

Ons dans nou al in 'n paar van ons gesprekke rondom hierdie kwessie. Dalk moet ons hier begin idees uitruil. Hopelik kan ons kreatief begin raak en sommer praat oor hoekom dit vandag moeilik is om "Sout van die aarde" te wees.

Groete,
Michael

6 comments:

Michael said...

Ek dink een van die eerste goed wat ons kan doen as ons weer vars sout van die aade wil wees is om:

* Onsself te suiwer van die buite Bybelse dogma wat in ons persoonlike en gemeenskaplike "Kerk wees" ingesluip het.

Hier moet ek baie duidelik wees dat ek nie praat van die moderne "Design your own faith" beweging nie. Ons kan in 'n ander gesprek daaroor praat. Wat ek bedoel is om weer te begin glo dat die Bybel ware gesag van God af het in sy totaliteit.

God het ons soveel nuwe dinge kom leer oor inligting en boodskappe dat ek glo ons al die ou waarhede weer kan ontdek. Die grootste waarheid is dat Hy self die absolute verwysingspunt is. Vir my staan dit teenoor "Designer gelowe" wat ontwerp word rondom menslike "behoeftes" wat eintlik sommer maar net humanistiese geite is.

Daarom my vriende... as 'n Calvinis kan ek uitroep: "Semper Reformandi"

Vir my gaan dit nie oor dinge uitgooi en verander nie, maar wel oor her-ontdek.

Groete,
Michael

Henrietta said...

Ek kan nie sout gaan wees daarbuite, as ek self "unfinished business" hier binne my het nie....

Vir my beteken dit dus om eers stil te word voor God en die Heilige Gees te vra om spesifieke sondes aan my te openbaar en dit een vir een voor Hom te bely. Dit is 'n pynlike vernederende proses want dit beteken ek moet van my "beterweterige troontjie " afklim.

Dan volg daar die daaglikse bekering, die "voete-was" en lang proses van aflê van die verkeerde en opneem van die regte. Ef 4:17-24

Nog 'n pynlike stap is om te gaan regmaak waar en as dit nodig is.

Eers as ek werklik skoon is van binne en alle balke uit my eie oog verwyder is, kan ek begin om verder te kyk.

Wat ek op 'n gereelde basis doen, is om in die allenigheid van my kar waar "niemand" my sien nie, taxi bestuurders lelike goed toe te snou, in plaas daarvan om hulle te seën.

Wat ek al gevind het as ek opstaan vir dit waarin ek glo, is dat ek "vriende" verloor. Bedekte, subtiele (of selfs minder subtiele) afjakke bly ook nie uit nie.

Louis said...

Ek dink dit het baie te doen met hoeveel regte jy vir jouself toe-eien. In Fil 2 wys Paulus hoedat Christus sy regte prysgegee het om die Sout van die aarde te word. Die beginsel van soveel van die sonde in my eie lewe, is die reg wat ek vir myself vat, om kwaad te word, te vloek, te begeer, ens. Ons kyk nou die dag 'n fliek met die naam "Millions", van 'n klein seuntjie wat op 'n sak vol geld afkom. Hy besef dadelik dat hy geen reg het op enige van die geld nie, en begin dit vir armes uitdeel. Sy ouer boetie vind egter daarvan uit en eien homself die reg toe om ten minste van die geld te hou. Die storie vergelyk die effek wat die geld in die twee kinders se lewens het. Julle kan raai wat die uiteinde is...

Om dood te wees vir die sonde beteken om jou reg tot die verkeerde, op te gee. Jou ou mens te kruisig, En so die karakter van Christus aan te neem (Fil 2).

Nou kan God se reg (geregtigheid) deur jou begin werk en ander mense 'besout'.

Michael said...

Welkom Louis,

Vir ons ander maatjies se kennis, ek het my bloed boetie uit Australië genooi om saam te gesels.

Groete,
Michael
P.S. Ons het seker plek vir nog maatjies, so julle moet laat weet. Ek en Mart is administrators op die oomblik.

Liza-Nel said...

Hoe ironies dat twee van die dodelikste elemente in die skepping (die metaal natrium en die gas chloor)moes saamkom om die lewens-noodsaaklike mineraal,
'sout van die aarde' te vorm...

'n Terugblik in die gekiedenis vertel dat die beheer oor 'n nasie se soutvoorraad opsigself 'n beheer oor die lewe en die dood was. Dit het die totstandkoming en ondergang van vroeë nedersettings en die verskuiwings van volkere bepaal...

Christus het geweet hoe belangrik sout was en het dit pragtig in Matteus 5:13 as metafoor gebruik om vir Sy dissipels te sê "Julle is die sout van die aarde" - overgesetsynde - julle moet as teenvoeter vir die morele en geestelike verrotting/dood van die wêreld dien...

Michael, vir die "Designer gelowe" sal suiker seker hier meer van waarde wees. Ek dink sommer nou aan die versuikering van die Bybel bv die afwatering van God se oordeel oor sonde....

Liza
Ns. "Daar moet iets heiligs in sout wees. Mens vind dit in die see en in trane." - Kahlil Gibran.

Michael said...

Om die sout te wees sal 'n Christen moet kant kies. Die is nie werklik 'n keuse nie, dit is onafwendbaar. Deur nie kant te kies vir enige "hoofstroom" oortuiging, magsgroep ens. kies 'n mens die kant van 'n minderheidsgroep of wat ook al.

Dit maak nie sin om te dink dat as jy vir Christus kant gekies het dan is jy vir niks verder verantwoordelik nie. Die vraag is hoe sou Christus sout van ons wêreld vandag gewees het?

Dit is verseker nie maklik om kant te kies nie en julle moet verseker nie in hierdie argument sien dat ek julle wil oortuig om kant te kies nie.

My oortuiging is dat daar Daniëls moet wees wat in die heerser se paleis werk. Daar moet apostels wees wat verdraaide ortodoksie in die tempels weerspreek... "Moet nie bekommerd wees oor wat julle moet sê nie...Luk 12:11."

Dan moet ek afsluit deur daarop te wys dat die eenvoud van die Christendom se "mag" lê in die feit dat hulle aangehou het om vir die weduwees en die wese te sorg. Met al my opgewondenheid oor 'n Christen invloed in politiek ens. moet ek erken dat om vir die wese en die weduwees te sorg opsigself genoeg is.

Groete,
Michael
P.S. Hoe lyk vandag se weduwees en wese? Ek is nie seker nie...