Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

8/21/2008

‘n Swaard….

Ai dit was so verskriklik en so verskriklik (in ‘n ander sin) hartseer om hierdie week oral te hoor en te lees van die kind wat met ‘n swaard doodgemaak is ... Swaarde is baie gevaarlike goed in verkeerde hande.

Interessant genoeg is daar ‘n paar plekke in die Bybel waar die Woord van God in verband gebring word met ‘n swaard.

Ek sal net van die mees bekende dele uithaal:

Die Here roep vir Jesaja om sy spreekbuis te wees , en dan sê Jesaja in Jes 49:2: Hy (die Here) het my mond soos 'n skerp swaard gemaak...

Ef 6:17: Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die Woord van God.

Hebr 4:12 : Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Openb 1:16: (Johannes het ‘n gesig gesien van Christus) In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ‘n skerp swaard wat aan albei kante geslyp is, het uit sy mond uit gekom.

Openb 19:15: Uit sy (Christus se) mond het daar ‘n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ystersepter regeer.

Hierdie dele is natuurlik beeldspraak en dit is figuurlik bedoel. Die Woord sny deur valsheid en wys na die Waarheid. Aan die een kant , as mens ongehoorsaam is, kan die boodskap een van oordeel wees, maar aan die ander kant, as mens gehoorsaam is, is dit 'n Woord van verlossing.

1 comment:

Michael said...

Hallo Henrietta,

Ek is baie lief vir beeldspraak en die Bybel se beeldspraak op sy eie is vir my 'n bewys dat dit wel die Skepper van die Heelal is wat aan die woord is.

Persoonlik was ek nog nooit teleurgesteld met enige analise van beeldspraak in die Bybel nie. Dit het al baie gebeur dat ek nie duidelikheid gehad het oor die doel van beeldspraak nie, maar as ek deur my eie twyfel gewerk het dan kom die stem van die Heilige Gees baie sterk deur.

Ons almal doen seker wat die Bybel Kommentaar skrywers ook maar gedoen het. Hulle insig is baie hulpvaardig, maar verseker nie 'n plaasvervanger van die Heilige Gees nie.

Dan wil ek net afsluit om te sê dat dit baie anders is om 'n opinie oor die Bybel te hê en 'n opinie oor enige ander boek te hê. Hierdie oortuiging is verseker nie in 'n egosentriese beskouing van die waarheid gesetel nie, en glo my ek het hierdie vraag al in detail ondersoek.

Groete,
Michael