Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

8/25/2008

My Naaste in 'n sogenaamde demokrasie?

Die Tien Gebooie en oor jou naaste wat jy moet liefhê. Tydens ‘n gesprek laas week sê iemand: “Christus het tog nie gesê jy moet ‘jou naastetaal/volksgenoot’ liefhê nie! Jou naaste mens."Daarmee had ek egter 'n probleem. Ek ervaar die heel laaste woord, "mens", vreemd binne hierdie konteks. Ek sou liewer wou sien: "jou naaste in Christus" en dit bring my by my eie groep mense. Ek sal nooit kan aanvaar dat Christus, hoewel die geskiedenis se grootste pasifis, iemand anders as lede van mens se gemeenskap in gedagte gehad het nie. In ons demokrasie gaan dit moeilik wees om die ideaal van die individu en individuele vryheid op filosofies-etiese grondslag te regverdig. As die demokrasie as gegewe en goed aanvaar word, en die omgewing bepaal waarin ons as enkelinge moet lewe wil ek beweer dat individuele vryheid en demokrasie twee wedersyds-uitsluitende begrippe is.Demokrasie-teoretici probeer om ons te oortuig dat wettiging van staatsgesagdeur die kiesers se toestemming, verband hou met die ideaal van individuelevryheid. Hulle meen verder dat die mens se politieke vryheid slegs bestaanbinne toestande waar die individu nie deur 'n ander regeer word nie. Deur deel te neem aan die demokrasie word die individu dus volgens hulle self-regerend en inderdaad selfgeldend. Hoewel hulle erken dat die meeste kiesers nooit in die daaglikse regeringsproses deelneem nie is hul teorie bloot om hierdie struikelblok te omseil. Maar daar bestaan egter geen individualisties-liberale argument vir die demokrasie nie. Inteendeel, die demokrasie is per definisie kollektief waar die grootste groep oor die kleiner groepe regeer. Die demos besluit, 'government by the people for the people' - nooit die individu nie. 'n Demokrasie gee niemand beheer oor sy eie lewe nie, maar gee die meeste beheer oor elke mens se lewe aan die meerderheid, wat miljoene vreemdelinge mag wees. Verder verwerp die meeste demokrasie-teoretici 'n mens se individuele vryheid wat hom sou toelaat om 'n tirannie, outoritêre of totalitêre stelsel te verkies. Persoonlike politieke outonomie impliseer 'n uitdruklike anargistiese of vrywillige staat waar die burger sy individuele beheer kan opeis deur die staat te verlaat; maar dan is ons by sesessie, die aartsonde van enige demokrasie.Legitimisering van die demokrasie deur deelname aan verkiesings het dus weinig te maak met individuele selfregering of - vryheid. Die meerderheid sal besluit. 'n Enkeling het selfs nie eers die reg om na willekeur van een stelsel na 'n ander te ontglip nie, want die Suid-Afrikaanse demokrasie vereis 'n nasiestaat met sentrale besluitneming; een waar daar slegs 'n enkele stelsel mag wees. Vir mense om dus knaend na die individu (op politieke vlak) binne 'n kwasi- demokrasie te verwys, is 'n selfdelusie.Sou jy egter op morele vlak na die wense van die enkeling verwys, sal jy moet aanvaar dat die huisgesin, (groter of kleiner) die beginpunt van elkeen se gemeenskap is en wat soos konsentriese sirkels uitkring om jou vriende, kollegas, kultuurgroep, ens in te sluit; vandaar 'n mens se groepsgebondenheid en - gevoel. Hoe verder weg van die vuur, hoe kouer word die gemeenskapsgevoel totdat werklike antagonisme weens onkunde of verwarde persepsies begin ontstaan.

johnny

11 comments:

johnny said...

Michael het my op 'n ander draad as volg hierop geantwoord. Ek dra dit hier oor:

Hallo Johnny,

Ek voel ook dat demokrasie nie baie sin maak in 'n wêreld wat nie staat maak op die sosiale verskynsel wat Christus tot gevolg gehad het nie. Dit is sover uniek aan die Westerse Beskawing, maar reeds baie goed ontvang deur ander mense groepe reg oor die wêreld.

As 'n sosiale verskynsel wat die idiologie van demokrasie beinvloed het is die Kerk van Christus oopgestel tot al die menslike magvergrype wat ons natuur kan ten toon stel. Dit behoort nie snaaks te wees dat die Kerk van Christus deel van so iets is nie... Israel is 'n baie goeie voorbeeld van juis hierdie vorme van magsvergryp binne idiologiese staatsbestelle.

Die vraag vir my is hoe gaan ons as Christene die verloop van die wêreld se staatsbestelle tot en met Christus se wederkoms beinvloed? Gaan dit wees deur totaal te onttrek en die heidene die gesag te gee?

Groete,
Michael

Michael said...

Terwyl die fokus nou so 'n bietjie verander het wil ek maar net byvoeg dat, ek dink 'n staatsbestel wat naaste liefde "'n kans gee" soos wat dit in die Bybel voorgestaan word is idiaal.

Ook dink ek dat Johnny 'n groter vraag oop krap wat ek nog nie eens aan geraak het nie.

Groete,
Michael

Mart said...

Die HAT verklaar naaste as:
"Wat die digste tot iemand staan; my naaste familie; my naaste vriende; intiemste".

In Mattheus 18:15 sê Jesus dat as jou broer nie wil luister na die herhaaldelike vermanings nie, dan moet hy vir jou wees soos die heidene en die tollenaars. As my broer dan soos 'n heiden geword het en hy die Godheid verloën en minag, dan is hy 'n vyand van die Drie-enige God. Hoe kan ek hom dan nog liefhê?

Romeine 9:13 "Jakob het Ek lief gehad en Esau het Ek gehaat".

God haat hier een van 'n tweeling, wat Hyself gemaak het.

Efe 6:11 "Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.

Vers 12: Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug."

Mart

Henrietta said...

Baie dankie vir jou sinvolle en prikkelende bydraes Johnny! Jy vra vrae wat ons almal mee worstel. Ek is bly jy praat van “kwasie-demokrasie” want ek het myself al dikwels afgevra: wat moet ‘n mens se definisie van “demokrasie” wees, want ek het soveel verskillende definisies daarvan gehoor! (Ek dink Sjina staan ook bekend as “the democratic Republic of China!”).

Die Afrika –mens is oorwegend geneig tot groeps/sosialistiese denke en die Westerling weer omtrent die direkte teenoorgestelde, nl. individualisme. Westerlinge het ook hul eie verstaan van begrippe soos byvoorbeeld “demokrasie”. Is dit dalk waarom ons dikwels soos vreemdelinge in ons eie land voel?

Michael, jy sê hier:

Die vraag vir my is hoe gaan ons as Christene die verloop van die wêreld se staatsbestelle tot en met Christus se wederkoms beinvloed? Gaan dit wees deur totaal te onttrek en die heidene die gesag te gee?

In ‘n plasing gister het ek na twee artikels verwys, en ek wil nou nog een hier plak :
http://www.news24.com/City_Press/Columnists/0,,186-1695_2381267,00.html , ‘n artikel van Ray McCauley in gister se City Press.

Ek het juis die artikels in ‘n ander plasing ingewerk, want wat ek in al drie artikels pertinent of tussen die lyne lees is ‘n tipe van oproep op “die kerk” om ‘n verskil te maak - maar ons weet mos “die kerk” is nie ‘n instelling nie, maar “almal wat aan die Here behoort” .

Die bottom line uiteindelik is, dink ek soos Michael ook hierbo sê: wat verwag die Here van ons as “sy kerk”?

Vir my lê die antwoord in die gesegde: “ons is IN die wêreld , maar nie VAN die wêreld nie. Dit kom weer terug by Jesus se opdrag: Wees sout en wees lig in die wêreld . Die sout kan laf word, en die lig onder ‘n maatemmer verberg word, sê Jesus self (Mat 5:13, Mark 9:50, Luk 14:34-35).

Michael said...

Hallo Mart,

Die ding wat jy hier aangeraak het is vir my ook baie belangrik. Persoonlik dink ek dat ons meganistiese, industriële opvoeding ons dalk so 'n bietjie verwar as dit kom by terme soos liefde en haat.

Ons sal tipies sê dit is swart of wit en as jy liberaal is dan is dit grys. Persoonlik dink ek nie eens dat hierdie "swart, wit, grys" vergelyking het die vermoeë om die saak van liefde en haat te verduidelik nie.

As 'n mens na God se "haat" kyk soos wat Hy dit teenoor Esau geuiter het, dan is alles wat God aan ons bekend maak in terme van sy verhouding met goed en met kwaad betrokke. Dit is verseker nie 'n grys stelling wat ek maak nie. Dit is bloot 'n oproep om volledig na God se handeling te kyk en dit nie in 'n klein sekulêre (buite Bybelse) boksie te plaas nie.

Vir my is 'n goeie voorbeeld in ons tyd vandag die vraag of ons absolute pasifiste moet wees en of ons "die swaard kan opneem om dit wat kosbaar is te beskerm". Persoonlik is ek gefassineer oor oorlog verhale waar opponerende troepe mekaar nie as mense gehaat het nie, maar wel as opponerende ideologiese agente gedood het... Dit gebeur vandag nog. Op hierdie manier kan ek nie sien dat die Ou of Nuwe Testament totale pasifisme voorstaan nie.

Groete,
Michael

Michael said...

Hallo Henrietta,

In my vorige plasing het ek baie spesifiek dit so gestel om net te laat weet dat as Christene niks gaan doen aan die staatsbestel waarbinne ons reg oor die wêreld deelneem, dit ook 'n invloed is... in die negatiewe sin. 'n Mens kan seker sê sout wat laf is, proe nie na niks nie, dit proe laf.

Dit kom dan daarop neer dat ons dalk 'n gesprek moet begin waar ons idees begin uitruil oor hoe ons "Sout van die aarde" kan wees in vandag se wêreld.

Groete,
Michael

Henrietta said...

Johnny:

Oor “my naaste” : Die vraag oor “wie is my naaste?” is nie net in Bybelse tyd gevra nie (Luk 10:29) , maar is seker een van die Bybelse kwessies wat deur die jare die heel meeste geopper is .

Die tweede deel van die wet van God “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” kry mens onder andere in die OT (Lev 19:18) en in die NT in Mat 22 en in Mark 12 maar die mees uitgebreide verduideliking in die vorm van ‘n gelykenis in Luk 10:25 en verder. Die hele gesprek begin met ‘n wetgeleerde wat Jesus met ‘n strikvraag wou vasvra.

Daar is ook al baie uitlegte gegee oor die ware betekenis van Jesus se doel met die vertel van die gelykenis en die “slim” einde daarvan (Luk 10:36-37).

Party maal word dit uitgelê as sou dit beteken : gaan en wéés jy ‘n naaste (vir wie ook al jou hulp nodig het).

Kan dit anders ook wees? Kom ons stel dit so: Ek is aangeval deur rowers en lê hulpeloos daar langs die pad. ‘n Samaritaan (gehate persoon) help my. My naaste, vir wie ek lief moet wees volgens die verse 36 en 37, is dié een wat medelye aan my bewys (dus die Samaritaan, die gehate persoon)?

Michael (lees nou net jou laaste bydrae):

Skitterend! Begin asseblief vir ons 'n draad oor wat ons kan doen om sout te wees?

johnny said...

Mens kan met reg beweer dat die kwessie van om jou naaste lief te hê 'n direkte uitvloeisel van die post-moderniteitsdenke is, waar aanvaarde norme, standaarde asook aanvaarbare etiek nou by die venster uitgegooi word. In sekere opsigte mag die nuwe hervormers waardevolle insigte openbaar, maar die tegniek word helaas ook op 'n deursigtige wyse aangewend sodat 'n bepaalde politieke agenda daardeur gedien word. Of dit so beplan word of slegs die produk van huidige denkstrome verteenwoordig, is nie duidelik nie.

By die uitleg van die Bybel verskaf die Franse filosoof, Paul Ricoeur, met sy hantering van die hermeneutiek van agterdog of suspisie, 'n nuwe 'vryheid' aan die leser om ander vertolkings van Bybelse gelykenisse asook vertolkings van die Bybelse geskiedenis te gee. Dit wil nou voorkom asof dieselfde 'vryheid' nou gebruik word om die vertikale ideologie', dws mens tot God te omskep tot 'n horisontale ideologie, dws 'mens tot mens in goddelike sin'.

Dit is egter 'n radikale omvorming van gewone Afrikaners se vertolking van die Evangelie, naamlik Christus sentraal in elkeen se doen en late, wat verskuif tot die 'histories benadeeldes' sentraal in ons handeling. Op subtiele wyse word Christus wat vir elkeen gely het deur 'ander lydendes' vervang. Dit kom neer op 'n beginsel dat menslike oordeel altyd deur die spesifieke omgewing van persone, plek en tyd gekondisioneer moet word. Daardeur sê kognitiewe relativiste, wat so 'n sterk invloed op die huidige geslag Afrikaanse predikante het, dat daar nie so iets soos universele kennis bestaan nie, maar slegs verskillende vertolkings daarvan. Morele relativiste hou ook dat daar geen universele morele standaarde bestaan nie, maar slegs deur die kulturele norme van verskillende gemeenskappe vertolk sal word.

Deur hierdie argumentslyn deur te trek, aanvaar hierdie geestelike hervormers dat die sosiale omgewing dermate verander het dat ons moraliteitsbeoordeling asook die bepaling van ons waardesisteme daarby aangepas moet word. Tans is ons binne 'n Afrikanistiese magsstelsel, en ons godsdiens moet, om die keiser terwille te wees, dus daarby aanpas.

Dit grens egter aan die Juche Ideologie van Noord Korea, waar die ideologiese en politieke indoktrinasie van mense veroorsaak het dat daardie gemeenskap leweloos en sonder siel geword het. 'n Soort van "Fuehrer"-doktrine word dus onbewus geskep waar die heersende party die brein en senuweestelsel word en die bevolking niks meer as belaste arms en bene van die staat is nie. Onder die vaandel van post-moderne denke en skeptiese vertolking van alle waardes en norme, werk die kerk gedienstig hieraan mee.

Die demokrasie as sulks word ook deur hierdie moraliste besing, maar die enigste morele regverdiging van demokrasie is dat dit landsburgers toelaat om 'n goeie regering te verkies. Sou die kiesers nie hierin slaag nie, dan verloor demokrasie enige morele legitimiteit wat dit andersins kon gehad het. Volgens westerse standaarde het Suid-Afrika beslis nie 'n goeie regering deur die demokratiese prosesse opgelewer nie; tog ly die geestelike hervormers sodanig aan die magsindroom dat hulle die demokrasie as die nuwe evangelie aanvaar en bevorder en aanvaar hulle hierdie liberale politieke, sosiale en revolusionêre filosofie met alles wat daarmee verkeerd is as 'n pakket. Die blote feit dat 'n swak en korrupte regering deur 'n demokratiese proses verkies is, verskaf egter geen voortgesette bestaansreg aan daardie regering nie en daarom moet Afrikaners alle wettige metodes gebruik om vanuit so 'n bestel te ontsnap.

Die probleem van die liberale demokrasie gaan verder, deurdat toekomstige geslagte geen verteenwoordiging of seggenskap in besluite het wat deur huidige geslagte geneem word nie. Deur sy revolusionêre visie is die huidige demokrasie 'n weerspreking van sy eie fundamentele basis, naamlik verteenwoordiging en deelname. Vandag se regering transformeer die maatskaplike omgewing volgens 'n onverbiddelike revolusionêre doktrine sonder om die gevolge daarvan op toekomstige geslagte te verreken of aan hulle rekenskap te gee, presies soos wat hy met sy 'no education before liberation' strategie gedoen het en honderde duisende sosiale zombies daardeur geskep het. Die ANC se geweldspsigose van die laat tagtiger en vroë negentigerjare het eenvoudig in onstuitbare momentum toegeneem sodat daar tans 63 moorde daagliks in Suid-Afrika gepleeg word. Aanvaar ons predikante dan hierdie liberale demokratiese pakket so klakkeloos?

Die skade wat aan elke faset van ons maatskaplike huishouding deur die ANC aangerig word, word vandag reeds gevoel en gaan nog in erger mate gevoel word deur hulle wat na ons kom. Toekomstige geslagte gaan onder die polarisasie beleid van die huidige regering ly; aan die gebrek aan etiese rigting, waardes en norme, aangesien hulle nou reeds deur die huidige onderwysstelsel asook teologieleer aangemoedig word om universele waardes te verwerp. Ons kinders raak verward en en sal eenvoudig nie koers kan hou op 'n pad wat die eens kragtige Afrikanervolk gevorm het nie.

Johnny.

Michael said...

Hallo Johnny,

Dit is nou musiek in my ore. Die argument vloei so lekker deur soveel punte wat aandag nodig het.

Jou skrywe het my laat dink aan 'n gesprek wat ek met my M-dosent gehad het oor post-modernisme. Sy het my vertel dat die SA akademiese, in die geesteswetenskappe nou nog op hol gejaag is oor ou Derrida wat ons land kom besoek het. Volgens haar het hy verseker 'n groot invloed gehad. Die pyn in my hart is dat sy verwarde sienings nou hier hoog aangeslaan word terwyl die res van die wêreld post-modernisme afgesterf het.

'n Prof by TUKS het my vertel dat in Europa se teologie is daar weinig plek oor vir post-modernisme. Hy het my 'n studie gegee van 'n ou(sorrie die naam is nie in my gedagtes). Wat bevestig het dat 'n boodskap het 'n universele karakter en betekenis, ongeag die tydperk of kultuur waarbinne dit gedekodeer word. Dit is 'n beginsel wat lynreg teen ou Derrida se siening dat "Elke interpretasie is 'n misinterpretasie".

Die gebed van my hart is dat toegang tot inligting mag dalk die denkendes en besluitnemers van ons land vinniger bereik, sodat ons onsself kan bekeer van ons relatiewistiese, post-moderne sondes.

Groete,
Michael
P.S. Die prentjie van Korea is 'n skrikwekkende nuwe insig vir my.

johnny said...

Henrietta skryf:

Die Afrika –mens is oorwegend geneig tot groeps/sosialistiese denke en die Westerling weer omtrent die direkte teenoorgestelde, nl. individualisme. Westerlinge het ook hul eie verstaan van begrippe soos byvoorbeeld “demokrasie”. Is dit dalk waarom ons dikwels soos vreemdelinge in ons eie land voel?

Henrietta, jy raak ‘n ontsettend belangrike punt hier aan en ek wil graag hierby aansluit. Dit gaan inderwaarheid oor beskawings, en wat tans in Suid-Afrika afspeel is ‘n botsing van beskawings. Dis nie ‘n ras-ding nie, maar die kumulatiewe produk van die geskiedenis oor duisende jare heen wat van die Afrika mens ‘n kommunitariër of gemeenskapsmens gemaak het, terwyl die westerse mense hulself as individualiste ervaar met ‘n baie sterk skeppende vermoë wat hy graag wil uitleef.

Hoe die liberalisme in ‘n regimen van botsende beskawings ooit suksesvol neerslag kan vind gaan die verstand te bowe.

Dalk is dit presies hier waar die Christendom sy rol kan speel...

johnny

Louis said...

Ek wil ook 'n eier le oor naasteliefde. Dit is nie 'n ingewikkelde eier nie, en ek weet nie of dit 'n antwoord bied vir die meeste drade wat uit die opmerkings gebore is nie. Dit is nie eers my eie eier nie, maar dit het my baie gehelp om naasteliefde, soos Jesus dit beskryf het, te verstaan.

C.S. Lewis het blykbaar lank gewonder oor die omvang van die naasteliefde wat Jesus verkondig het. Hy het vrede gevind in die tweede deel van teks. Jesus bring die begrip tot in jou eie ervaringsveld deur dit te vergelyk met die manier hoe jy jouself liefhet. Op die vraag of hy homself liefhet - altyd, en in alle omstandighede - het Lewis met 'n skok besef, dat hy homself nie noodwendig altyd liefhet nie. Daar is tye wanneer hy homself teleurstel, of homself selfs walg. Tog sal hy steeds nie iets doen om homself te benadeel nie. Inteendeel, hy sal hom inspan en disiplineer om 'n situasie te bereik waar hy homself weer kan respekteer. Dit is alles behalwe passifisties.

Jesus het dit reggekry om 'super regverdige' farisieers te kry, om aan 'n hoer, wat in die daad van haar sonde betrap is, naasteliefde te bewys, deur hulle atent te maak op die manier hoe hulle hulself liefhet.

Ek voel dat dit wat Jesus vereis van sy volgelinge, is die begrip dat elke mens, net so maklik of moeilik as jy, aan God gehoorsaam kan wees. Hoe jou vriend, familie, buurman, volksgenoot of aartsvyand die keuse van gehoorsaamheid aan God uitoefen, is irrelevant tot die manier hoe ek myself liefhet.

Ek gee toe dat die herhaaldelike verkeerde keuse (ideologie) deur my opponent, my intelligensie stimuleer om die moontlikheid dat sy volgende keuse Goddelik sal wees, al hoe meer gering te skat. Ons noem dit dikwels gesonde verstand. Jesus se leer van naasteliefde, dwing ons egter om met elke interaksie weer te besin oor hoeveel kanse ek bereid is om myself te gee.

Groete,
Louis