Daar word op die oomblik in die kerk meer gepraat oor self-ontplooiing as oor self-opoffering.-Anon.......As ‘n kerk haar woorde begin devalueer, dan word die kerk ‘n ramp vir die volk. - K Schilder

8/15/2008

Musiek 'n uitdrukking van menswees...

Ek het onlangs vir my vrou 'n iPod Shuffle gekoop en nie lank daarna vir myself natuurlik ook. Die wonder van hierdie klein musiek boksies is dat die klank so uitstaande is dat jy vir ure en selfs 'n totale werksdag daarna kan luister. Dit opsigself het veroorsaak dat ek ons gesin se musiek versameling her-ontdek het.

Ons versameling is nie groot nie en hoofsaaklik op klassieke musiek gefokus. Ons het 'n paar "Casting Crowns" CD's, Josh Groban en ander ook, maar dit is die versameling klassieke musiek wat my 'n gesprek hier laat begin. Ons het, onder andere, so 80% van die "The Classical Collection" wat so 12jaar terug verkoop is saam met 'n tydskrif, van julle sal dit ook ken.

So...nou sit ek met hierdie klein "musiek boksie" wat al die klassieke musiek vir my deur die dag kan speel en die snaakste is dat ek dit geniet dit asof ek dit nog nooit gehoor het nie! Voorheen was hierdie musiek vir my te oorweldigend want ek kon eenvoudig nie lank daarna luister nie, maar nou geniet ek dit intens. Die ergste is dat ek dink ek weet hoekom ek dit geniet.

Ek dink ek geniet hierdie "SWAAR" klassieke musiek omdat ek nou, dalk vir die eerste keer, genoeg van menswees daarin kan hoor. Dit is of elke stuk vir my iets probeer sê van wie mense nou eintlik is. Iets wil sê van daardie diepste deel van menswees wat verby die logiese strek. Soos die skoonste klanke openlik vir God hulde bring en baie keer Jesus se naam spesifiek vereer, word ek bewus van klein stukkies menswees... wat tog by God kan uitkom! Ja, musiek kom van die siel en is 'n kristal helder uitdrukking van die aard van menswees in sy volkome dieptes.

Groete,
Michael
P.S. Ek weet dat ek hierdie onderwerp nie met ander mense op ander gespreksforums sal wil deel nie, vir die eenvoudige rede dat van hulle baie liewer is vir die geraas in hulle eie ore as om te luister na die Oorsprong van skoonheid.

12 comments:

Bertus said...

Ja Michael, ek kan hiermee identifiseer, veral met klassieke musiek!

Beethoven se 5de en 9de is altyd met my, vir elke bui en gier. Ek ervaar ook soms musiek op 'n baie dieper vlak, selfs 'n geestelike vlak.

Was jy al by die NG Universiteitsoord gemeente wanneer al die studente en die Universiteitskoor optree? Probeer Sondae aande in die semester, dit is 'n belewenis van musiek.

Mart said...

O Michael, hierdie is nou 'n lekker onderwerp! Musiek is beslis nog 'n rede waarom ek weet God bestaan beslis. Niks, maar niks in hierdie lewe maak my gelukkiger as goeie musiek nie. Ek dank die Here vir my musiek talent en vir my skerp musiek-ore...

Vertel my meer van die iPod? Waar koop ek dit? Wat kos dit? Waarin word dit geplug? (Of praat jy van die gewone iPods wat die kinders het?)

Groete
Mart

Michael said...

Hi Bertus,

Hou hulle nog Etensuur Konserte in die Musaeon(spelling???)? Dit was altyd 'n spesiale tyd vir my en my vrou.

Wat sou jy dink van die idee dat alle musiek slegs 'n oorsprong uit die metafisiese siel het. Bose en Heilige musiek...alle musiek? Dit is so 'n bietjie 'n rhetoriese vraag... maar tog om oor te wonder.

Groete,
Muller

Bertus said...

Michael, ek is nog nie seker dat ons wel 'n metafisiese siel het nie, ek haak nog vas by die brein as sentrum/skepper van die siel.

;(

Mart said...

Michael,

Jy skiep my post en praat net met Bertus. Ek sal nou maar op my bed gaan lê en huil.... ;(

Mart

Michael said...

Hi Mart,

Dit is die kleinste Apple iPod op die mark en kos so R500 en ja, dit is dieselfde as die kinders se speelgoed. Jy moet net hoor hoe mooi klassieke musiek daarop klink. Die bas-klanke is asemrowend vir so 'n klein oorfoontjie.

Hallo Bertus,

Jy moet vir my verduidelik hoekom jy nog vashaak by die "chemiese prosesse" wat jou siel laat ontluik? Ek het self na daardie sienings gekyk en ek moet erken dat ek hulle verseker te lig bevind het.

My agtergrond wat ek toepas is basies gegrond in wat inligting nou eintlik is. Alhoewel yskristalle baie mooi partone form en so ook vele ander natuur verskynsels, is dit verseker nie inligting nie. Maar musiek voldoen aan al die vereistes vir inligting.

As iemand vir my kan bewys dat inligting spontaan kan ontstaan dan begin ek weer wonder oor hierdie saak, maar tot dan is ek rustig verseker dat my siel nie van hierdie fisiese wêreld is nie, net soos die mens se gedagtes ook nie.

Groete,
Michael

Michael said...

Mart,

Dit moes 'n timing probleem gewees het, toe ek jou opmerking gemis het. Jammer...

Henrietta said...

Heerlike onderwerp - jammer my tyd is so min...
Kyk maar hoeveel van die Psalms begin met : "Vir die koorleier... ". Een van my gunstelingverse in hierdie verband is Ps 22:3: U is die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink". Een Engelse vertaling sê: "God inhabits the praises of His people" - dit wil sê: God voel TUIS daar!!! In Psalm 50 v 14 en 23 (en ander plekke ook) staan daar dat lof 'n offer is wat ons aan God bring. Lofoffer! Pragtig. Kyk maar na die laaste Psalms (145-150) - pure, suiwere, loutere lofliedere aan God! EN die hemelse liedere van Openb 15 ... Wag laat ek gaan vóór ek julle verveel met my lofsange oor musiek...

Michael said...

Dankie vir die Woord oor musiek insig. Dit is musiek in my ore om jou aanhalings te lees.

Bertus said...

Michael, ek het nog nie die hele siel vs brein ding mooi deurdink nie, vreemd genoeg pla dit my nie werklik nie.

Henry said...

Hallo Almal,
Terwyl "The Sound of Music" (die DVD) nou al seker vir die 20e keer in die agtergrond speel, nadat ek dit vir die 1e keer in 1966 op 5 jarige ouderdom op die "circuit" gesien het en daarna die tweede keer omtrent 30 jr daarna, op SABC TV, die volgende 18 keer in die laaste 3 mnde, is ek ietwat verras om van mense te verneem vir wie klassieke musiek baie na aan die hart lê.

Naas Gospel musiek, is klassieke musiek deesdae die enigste musiek waarna ek kan luister. Is dit nie ironies dat as mens "daardie" paadjie met die Here begin stap het, dat sekulêre musiek al hoe meer walglik word nie?

My persoonlike "favourite" is Mozart se "Eine kleine Nachtmusik", dan volg Tshaikovski se "Swan Lake" en Bach se werke.

Wat Gospel musiek betref, het ek onlangs Danie Botha se "Lei my" CD aangeskaf. Die eerste snit is ek gek oor. Dit begin met: "Die Christen weet nie van verloor af nie. . ." gesing op Steve Stofsuier se Bloubulliedjie. Dan het ek ook nog CDs van Oscar Ehrensperger en natuurlik ons vorige gemeente se omgeegroepliedjies.

Groetnis,
Henry

Alet said...

Wonderlike topic Michael! Ek dink die wonder van musiek is dat ons alle menslike emosies daarin kan identifiseer. Ek is so bevoorreg om in 'n huis groot te word waar musiek meer as net 'n belangrike rol speel - musiek het 'n persoonlikheid van sy eie aangeneem.

Na 12 jaar van koorsing, rock shows bywoon en vele ander vorms van musiek ondersteun, is my ore al gewoond aan n breë spektrum musiekgenrés sowel as kunstenaars. My waardering vir verskillende tipes musiek sluit aan by die idee dat ons buie of behoeftes van die dag gewoonlik sal bepaal waarna ons luister en wanneer ons daarna luister.

Michael, klassieke musiek is seker dié genré wat meeste mense met God en Sy grootheid kan assosieer. Klassieke musiek is gelaai met emosie, maar nog steeds binne 'n tradisionele struktuur. Ek is self mal oor 'n goeie Beethoven of Brahms musiekstuk, maar daar was al kere wat rock kunstenaars 'n groter impak op my geloof gehad het as wat enige klassieke stuk ooit sal hê.

Een van my gunsteling groepe, MUSE, het revolusionêre idees. Sulke idees is van pas in n wêreld wat nou meer as ooit tevore verander. Tipiese lirieke is: "Don't be afraid (of) what your mind conceives. You should make a stand; stand up for what you believe. And tonight we can truly say that together we're invincible".

Dis woorde soos MUSE s'n wat my waarlik nader aan God kan laat voel...